Die mite en growwe veralgemening dat die meeste bruin mense nie regtig veel erg het aan Afrikaans nie, is die afgelope Woordfees doeltreffend die nek ingeslaan tydens ’n boekbespreking van die boek Ons kom van vêr.
Dit is ’n lywige gedenkboek van bykans 600 bladsye, uitgegee deur Naledi, wat opgedra is aan Adam Small ter herdenking van sy 80ste verjaarsdag wat hy vanjaar sou gevier het.
Dit bevat die verhale van verskeie invloedryke bruin Afrikaanssprekendes wat in hulle eie woorde van hulle Afrikaanswees vertel.
Afrikaans is nie net die taal van apartheid nie; Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening, skryf Franklin Sonn op die boek se agterblad.
Tydens die Woordfeesgesprek, waaraan verskeie van die boek se medewerkers deelgeneem het, was dit opvallend hoe diep Afrikaans deel is van die bruin gemeenskap se swart- en bruinwees, maar dat die taal hulle ook op ’n unieke manier vasbind aan hulle wit taalgenote.
Die talle verhale van bruin Afrikaanses in Ons kom van vêr reken af met die mistasting dat die storie van Afrikaans ’n wit storie is. Die bydrae van bruin mense tot die ontwikkeling van Afrikaans, asook hulle rol in die versoeningsproses, word vir die eerste keer so breedvoerig in een boek vertel.
Een van die twee mederedakteurs, Wannie Carstens, sê die samestelling van die boek was vir hom ’n emosionele belewenis. “Ek het intense ervarings van verlies en pyn gehad toe ek opnuut besef wat het ons aan mekaar gedoen in hierdie land.”
Carstens se mederedakteur, Michael le Cordeur, sê dit is nodig om die volle verhaal van Afrikaans te vertel.
Die verhale wat van die medewerkers aan die boek tydens die Woordfees vertel het, is met ’n lag én ’n traan deur die gehoor begroet.
“Ons het seer gehad, het dit verwerk en kyk nou vorentoe. Afrikaans kan ook dans,” het Le Cordeur gesê.
“Ons val so vas in ’n groef met die vraag wat gaan van Afrikaans as onderrigtaal word dat ons maklik vergeet Afrikaans lewe in die harte van elke aspek van mense se lewens, en spesifiek bruin mense se lewens.”
Hoe maak jy met die pyn en die worsteling oor taalidentiteit wat as gevolg van apartheid veroorsaak is?
Deelnemers aan die gesprek was dit eens dat Afrikaans onlosmaaklik deel van swart weerstand teen apartheid was, maar dat dit ook die bruin gemeenskap vasgebind hou aan sy wit taalgenote.
Ná apartheid kan bruin mense weer trots op Afrikaans wees, sê Le Cordeur.
Fatima Allie, wat onder andere vir haar Maleise kosmaakvernuf landwyd bekend is, het vertel hoe die kombuis van haar kinderdae die hartklop in die lewens van die Kaapse Maleiers was en steeds is.
“My voorouers het Afrikaans gepraat en ons vertel hoe ons grootouers uit Indonesië, Maleisië en Makkah (die heilige stad Mekka) afkomstig is.”
Hoewel sy na ’n Engelse skool gestuur is, bly Afrikaans haar moedertaal, sê sy.
“Met Afrikaans en die belangrikheid van die kombuis as ’n veilige hawe waar al die probleme opgelos is met’n tuisgemaakte maaltyd, kan ons met trots sê dat ons deel is van ’n erfenis. Dit is ’n erfenis van geurige kos, van ’n kleurvolle kultuur wat gekoppel word aan Afrikaans – wat die taal van ons hart is.”
Edwena Goff het vertel van haar ervarings as skoonheidskoningin toe sy in 1980 as Mej Rapport (die swart weergawe van Mej Suid-Afrika) gekroon is.
“Die lewe van ’n skoonheidskoningin is nie net maanskyn en rose nie. As jy boonop gekroon word as die ‘swart Mej Suid-Afrika’ kom dit met talle verpligtinge eerder as glans, geld en luukshede.”
Vir haar is die goue draad die feit dat sy ’n werktuig van hoop en van inspirasie vir oud en jonk kan wees deur eenvoudig haar hart, haar siel en haar drome in haar moedertaal, Afrikaans, te kan deel.
“Dit is die taal waarin ek my skoolloopbaan voltooi het, die taal waarin ek op UWK studeer het by my leermeesters soos Jakes Gerwel, die taal waarin ek die vroue om my wil bemagtig, want dit is die taal waarin ek geleer het dat ’n gebrek andersins tot my vernietiging kan lei.”
Nog een van die deelnemers tydens die paneelgesprek was Danie van Wyk, bestuurder: Wes-Kaap van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (SAOOT), ’n uitreik-aksie van Fedsas (Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame) na histories benadeelde skole in hoofsaaklik Afrikaanse bruin gemeenskappe.
Dat bruin mense soos Van Wyk ondanks die struikelblokke van apartheid wel die hoogste sport kon bereik, bly ’n wonderwerk.
Bruin leerders van sy geslag kon slegs tot graad 7 (standerd 5) of soms tot graad 8 (standerd 6) skool bywoon.
Selfs sy skool se skoollied het dié ironiese strofe bevat: “Ons doen ons bes en leer tot standerd ses.”
Weens gebrek aan hoërskole en koshuise moes hulle na die naaste hoërskool vir “kleurlinge” gaan om hulle skoolopleiding voort te sit. Hulle moes as jong kinders hulle ouerhuise verlaat om hulle studie te gaan voortsit, soms honderde kilometer ver, terwyl daar ’n skool binne loopafstand van hul huis was.
Baie van hulle kon nooit verder vorder nie en het gewoonlik op plase en in die dorp as arbeiders gewerk.
Vandag kyk Van Wyk, soos vele van sy tydgenote, sonder bitterheid terug, maar met die wete dat die pad vorentoe nog steil en swaar is.
“Ons moet weer hande vat soos in die verlede en die moedeloosheid en tweedrag verwerp. Ons weet waarheen ons op pad is as volkome burgers van ’n bevryde Suid-Afrika, want ons weet waarvandaan ons kom.”
Hy sê die sluiting van die onderwyseropleidingskolleges deur die huidige regering in 1996 was een van die grootste tragedies wat die onderwys in die land getref het.
Van Wyk is een van verskeie bruin mense wat hulle vandag daarvoor beywer dat Afrikaans behoue bly as akademiese en onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch en dat veral bruin studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe toegelaat sal word om ook in Afrikaans aan die US te studeer.
Foto's: Naomi Bruwer
The post US Woordfees 2017: Afrikaanse mense kom van ver af appeared first on LitNet.