My huisie in die woud …
Dieptes van groen en geel en bruin
laslappie die wêreld met humor en grein.
Die sonnetjie wat skugter, speel-speel gly
langs die pastel gekleurde veld verby.
Huppel blaartjies in dierepaadjies
om plek te maak vir nuwe jaartjies.
Hars en hout
die geur van woud.
Omring my huis en hart
en elke sintuig apart.
Waar grasse lig nog trots in die vroegmôre kou’,
bewend wieg hul om mekaar warm te hou.
Slurpend ontvang hul die sonnestraal
wat laat-laat opstaan en vroeg weer daal.
Hier kan ek sug en hier kan ek steun,
waar die natuur se stilte om my kreun.
Hier voel ek rustig en hier voel ek tuis,
in dié wonderwêreld, die natuur – my huis.
In ’n land van onderstebo
word wonders wakker in grote oë.
Oud word nuut en vars en goed
en lelik word mooi en narsing en soet.
Waar blommereuk die wêreld deur
en blare huppel in wind en weer.
Is my gedagtes altyd ’n oomblik, ’n asem , ’n nou
in die warm koester wat my huisie omvou …
Die mallemeule van ons huis!
Die mallemeule knik en knak en rol
konsentries om sy as se tol.
Skep en sug hy steunend voort,
vleg sy kleure ’n malse koord.
Met warse humor glim sy liggies
vir die opgewonde kindergesiggies.
Spring die mielies oor al die grond,
spook en asem die kinders, vinnig en bont …
Ons huisie gons en bons en raas …
Maal die meule van groot-word-mensies wat blaas!
Dan: laat-aand – na die fees,
lê die leegheid deurstreep met gebluste gees.
Die labirint van lekkerte ontplooi,
en die nikkerbolpapiertjies verfrommel gestrooi.
Rustig en stil raak ons huisie nou
sodat plantjies en blom salig hul lyfies oopvou.
Eggo’s van ons kleintydhuis
Harmonie bries deur die huis
en liefde suutjies trippe-trap alwys
deur gange, gatjies en elke plek
wat deel het aan ons waar-ook-al.
Wildgestreepte najaarsdenke eggo
deur die kind in my.
Kalkwit huisies in ’n ry
op ’n plekkie, klein en sorgvry.
Rofgekerfde houtbeeldjies en need’rige kaia-trappe,
lag en lig, die eenvoud-vrolik kindervriendskappe.
Altyd trappel ons elke dagsê hier en daar onthou
van ’n ver terug kindwees in ons gees behou:
Kindertrane gly oor stofvuil wange,
piep-ogies wydgerek in die huis se donker gange.
Drome op die horison
skitter in reënboogkleur oor die pragplek se kom.
En weet ons weer vir ’n enkelste oomblik
van ons kindwees se sorgvrye vreugde en geluk.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Tanya Rosslee se inskrywings appeared first on LitNet.