Empatie word beskryf as die vermoë om jouself in die plek van ’n ander te stel, om sy reaksies en houding te begryp.
Baie vlugtelinge kom na Suid-Afrika vanuit oorloggeteisterde lande, waar hul eie regerings baie keer hulle lewens bedreig. Hulle kom uit gebiede waar daar nie genoeg kos of water is nie, gebiede geteister deur droogtes, hongersnood, milisie, verkragtings, rasgebaseerde aanvalle en moorde. Hulle vlug vanaf onderdrukkende regimes waar basiese menseregte in die grond vertrap word. Hulle vlug weg van diktators wat eie belang voor die belange van die bevolking stel. Hulle kom vanaf gebiede waar hulle moontlik nie hul eie bure kon vertrou nie. In Rwanda byvoorbeeld het bure teen bure opgestaan en op grond van stamverband begin uitmoor.
Hulle kom deur riviere, oor beboste gebiede. Hulle trotseer hitte en koue, wilde diere en wettelose mense. Hulle staar telkemale die dood in die gesig. Hulle vlug te voet, in bote, met vervalle voertuie. Baie vlug met net die klere aan hulle lyf, en dit wat in hulle hande gedra kan word.
Hulle vlug na Suid-Afrika. Die reënboognasie. Die land waar daar genoeg te ete en te drinke is vir almal. Die land waar die regering hulle verwelkom en sal beskerm. Die land wat gewys het dat dit deur vergifnis ’n politieke oplossing kon vind waar onderdrukker en onderdrukte in vrede en voorspoed saam kan leef. Die land van biltong en braaivleis. Die land van melk en heuning. Die land waar hulle rus sal vind.
Die pot goud aan die einde van die reënboog.
Dis nie maklik om in ’n vreemde land aan te pas nie. Die mense praat vreemde tale. Hulle gebruik idiome wat jy nie verstaan nie. Hulle eetgewoontes is anders. Hulle kultuur is anders. Dinge wat in jou kultuur aanvaarbaar is, is nou skielik onvanpas. Jy sukkel om aan te pas en ’n geloofsfamilie te vind. Waar jou geloof in jou tuisland dalk die meerderheidsgeloof was, is dit nou miskien net een van vele. Of dis een wat nie ernstig opgeneem word nie. Dalk is dit een wat aktief onderdruk word.
Mense dra ander klere, en jy sukkel om dit waaraan jy gewoond is, te kry. Die speserye waarmee jy gewoonlik kos maak, is nie in die winkels nie. Jy’t nie geld nie. Jy’s geheel en al oorgelaat aan die genade van die regering, en aan die goedheid van die gemeenskap waarbinne jy jou bevind.
Die meeste vlugtelinge besef dat hulle moet werk om finansieel onafhanklik te word. As hulle nie werk kan kry nie, begin hulle besighede. Baie werk in hotelle en restaurante. Hulle weet daar is nie ’n familie, of staatsgesubsidieerde werkloosheidstoelae om op staat te maak nie, dus werk hulle hard. Baie keer harder en beter as die Suid-Afrikaners rondom hulle. Hoeveel van ons het nie al in ’n restaurant diens aan die hand van ’n Suid-Afrikaner ervaar, en besef dis ondergeskik aan die diens van die Zimbabwiese kelner langsaan nie?
Die verhaal is veronderstel om te eindig met die vlugteling wat ’n burger word, ’n volwaardige en waardevolle lid van die gemeenskap waar hy of sy hom of haar bevind.
Ons is mos die reënboognasie, waar almal saamlewe en almal welkom is.
Tot ’n politikus gemoedere begin opsweep om politieke punte te wen. Tot ’n politikus onverantwoordelike stellings maak waarin hy negatiewe kenmerke aan al die lede van ’n groep toedig, en daai groep isoleer. Dis dan wanneer vlugtelinge hulself in die visier bevind van ’n woedende groep burgers wat hulle hulle sukses beny. Dis dan dat winkels gestroop word, mense aangerand, verkrag en vermoor word, eiendom aan die brand gesteek word en algehele pandemonium losbars.
Die nuwe bure kan net so gevaarlik wees soos die ou bure van wie hulle weggevlug het.
En die politici?
Wanneer xenofobiese geweld afgemaak word as die frustrasie oor kriminele gedrag, dan word die gevaar waarin ’n alreeds weerlose groep hulle bevind, geminimaliseer. Wanneer die gedrag van burgers teenoor vreemdelinge nie as barbaars en rassisties veroordeel word nie, stel dit die vreemdelinge in groter gevaar.
Wanneer die politieke leierskap stilbly en nie hul lede wat die geweld aanblaas, penaliseer nie, dan moet hulle medeverantwoordelikheid aanvaar vir die gevolge.
Herman Mashaba moet verantwoordelikheid aanvaar vir die geweld wat verlede week in Johannesburg losgebars het. Die bloed van die vreemdelinge is aan sy hande.
Die bloed van die vreemdelinge is aan die DA se kollektiewe hande, want hulle het stilgebly. Die bloed van die vreemdelinge is aan die ANC se hande, want hulle het saamgestem dat dit nie oor xenofobie gaan nie, maar oor kriminaliteit.
Geweld teenoor vreemdelinge word genormaliseer. Die reënboognasie se hande is bloedbevlek.
Die probleem is, daar is nie vrees aan die hart van die geweld nie. Dis haat wat elke klip, elke panga, elke vuurhoutjie dryf.
Langtermyn het dit ekonomiese gevolge vir ons. Politieke onstabiliteit, oproer, geweld dien nie juis as aansporing vir beleggers om hulle geld aan ons toe te vertrou nie.
Meer as dit, egter: ons verloor die morele en etiese leierskap wat ons in Afrika gehad het. Ons verloor ons status, hoe efemeries ook al, as die Kanaän van Afrika. Ons verloor ons status as die empatiese leier wat beskerming bied aan almal.
Meer as dit, ons vergeet tot ons nadeel: ons is almal iewers vreemdelinge.
The post Xenofobiese aanvalle: vrees of haat? appeared first on LitNet.