Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Kô lat ôs feesvier – Adam Small-fees 2017

$
0
0

“Stil broers, daar gaan ’n man verby ...”

Die gedig “Generaal de Wet” van Jan FE Cilliers het by my opgekom toe wyle Adam Small die afgelope naweek (24–26 Februarie) in Pniël onthou is. Skrywers, akademici en ander lede van die gemeenskap het by die kerksaal, museum en Dwarsrivier-toerismesaal saamgekom om waardering vir ’n legende in die kanon te betoon. Daar is maar net één soos Small en hy was goed bekyk.

Van die sprekers op die program was Hein Willemse, Michael le Cordeur, Shirmoney Rhode, Kirby van der Merwe, Daniel Hugo, Helen Zille, Albie Sachs en Breyten Breytenbach. ’n Onoffisiële, tog hoogs gewaardeerde, spreker was die digter Lina Spies wat vir bykans elke gesprek haar liefde vir digkuns of Small uitgespreek het. Plek-plek is daar ook ’n traan weggepink vir alles wat Small binne die letterkunde beteken.

As aktrise en skrywer was dit vir my interessant hoe Hein Willemse oor Kanna hy kô hystoe, Joanie Gallant-hulle en Krismis van Map Jacobs gesels het en ook hoe die spelers van daardie tyd, die dramavereniging van UWK, die Cape Flats Players geraak het. Hulle was almal toneelspelers wat slegs na werksure kon bymekaarkom om te repeteer. Soms sou hul repetisies aanhou tot die son uitkom, maar hul passie vir Small se tekste en hul liefde vir die verhoog het aan hulle die vrymoedigheid gegee om deur te druk. Small se sagte kant het ook uitgekom tydens dié repetisies en die Cape Flats Players onthou hoe kwesbaar Small was wanneer sy werk opgevoer is. Interessant genoeg van Joanie Gallant-hulle en die mense wat dit destyds gesien het, is, volgens Willemse, dat die eerste gehore wat die toneelstuk gesien het, uitgeloop het uit die teater uit, want die teks was vir sommige gehore te godslasterlik.

Michael le Cordeur het gesels oor Ons kom van vêr, die boek wat hy en Wannie Carstens saamgestel het wat ’n verskeidenheid stories van bruin stemme bevat. Le Cordeur meen dat die verbintenis tussen bruin mense en Afrikaans ’n verbintenis is wat van ver af kom. Adam Small pronk op die buiteblad van Ons kom van vêr en Le Cordeur sê Small het die moed gehad om in ’n tyd toe bruin mense stilgemaak is, verdruk is, op te staan in die taal wat sy mense die beste ken. Daar is ’n debat oor Afrikaans in ons land, daar was nog al die tyd ’n debat, en Small is een van die mense wat dit erken het en daaroor uitgepraat het.

Le Cordeur vra toe die gehoor die vraag hoe kan ons stilbly oor Afrikaans as dit ons taal is terwyl iemand soos Small in veel meer onstuimige tye nie stilgebly het nie. Die probleem is dat koerante nie bruin mense die geleenthede gee om hul sê te sê nie en dat televisieregisseurs nie bruin akteurs en aktrises die geleentheid gee om te speel nie. Le Cordeur voel wel dat as bruin mense moet ons klaarheid kry oor Afrikaans. Afrikaans is ook die taal van versoening en ons moet Afrikaans vat en ons daardeur bemagtig.

Daar was ’n sterk politiese bewustheid op die laaste dag van die fees toe Helen Zille oor haar boek Not without a fight gesels en Albie Sachs oor sy destydse betrokkenheid in die struggle. Darryl David het saam met Zille gesels en snaakse staaltjies in haar boek is uitgelig, sowel as haar lewe tot sy burgemeester geword het.

Albie Sachs

Albie Sachs het begin deur drie vrae aan die gehoor te stel:

  • Wat is een goeie ding wat uit apartheid gekom het?
  • As daar ’n vaderskaptoets op die Grondwet gedoen moes word, wie se DNS sou verskyn?
  • Is hierdie die land waarvoor ons baklei het?

Die een goeie ding wat uit apartheid gekom het, was anti-apartheid, Oliver Tambo is die vader van die Grondwet en ja, absoluut, hierdie is die land waarvoor stuggle-aktiviste baklei het. Sachs het hulde gebring aan Small deur uit te lig hoe ongemaklik Small was in Sachs se generasie. Hy sê Small was briljant, slim, onafhanklik, en tog het hy ’n moeilike verhouding met die struggle gehad. Small het op sy meesterlike wyse aan die struggle deelgeneem – deur pen en papier.

Breyten Breytenbach het saam met Schalk Joubert, wat verlede week vir ’n Fiësta-toekenning benoem is, opgetree en die gehoor vermaak met poësie op die maat van musiek. Dit is ook dan net gepas dat Breytenbach, Small se mede-Sestiger, aan hom hulde bring. Hy het ’n brief voorgelees waarin hy skryf “die poësie is dieper as die mond” en dit spreek so mooi van hoe Small se gedigte lewend geraak het op die parade, op die vlakte in die huise en harte van soveel bruin families.

Breyten Breytenbach en Schalk Joubert

Shirmoney Rhode het van haar gedigte uit haar debuutbundel, Nomme 20 Delphistraat, voorgelees. Haar gebruik van Kaaps en haar egte stories oor regte mense roep herinnering op van Small se egtheid in sy werk. Dit is verfrissend om iemand soos Rhode te sien wat téén die kanon uitspraak lewer en op haar eie digterlike voete staan. Dit is hoekom die nalatenskap van Small so belangrik is – jong bruin skrywers voel bemagtig om in hul taal te dig en skep.

Shirmoney Rhode

Herschelle John Benjamin, ’n vierdejaar-dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch, het aan Rhode gevra wat haar ervaring is as jong bruin digter in Suid-Afrika as ’n mens kyk na hoe randfigure soos Small opgehef was en steeds is. Hy wou ook weet of sy dink daar word genoeg ruimte gelaat vir jongmense om Small se nalatenskap voort te vat. Rhode ervaar haar posisie as jong bruin digteres in Afrikaans as positief, maar daar was ook uitdagings met die publikasie van haar bundel. Nomme 20 Delphistraat is uitgegee onder ’n Engelse uitgewer: Mojadji. Rhode is egter dankbaar dat sy die geleentheid kry om op feeste soos die Adam Small-fees te kan optree en haar liefde vir haar taal en poësie met gehore deel.

Benjamin voel Small se nalatenskap is belangrik, maar eers moet ’n kultuur geskep word vir bruin digters wat in al die variante van Afrikaans mag skryf – Kaaps, Namakwalands of plattelands – daar moet ruimte gemaak word vir die variante. Jong digters moet hulself kan uitdruk in ’n Afrikaans wat nie noodwendig Standaardafrikaans is nie. Daar moet ‘n mark geskep word sodat jong digters meer geleenthede kry sodat dit ’n realiteit word en nie net ’n ver-weg visie bly nie. Benjamin meen dit sal Afrikaanse poësie bevorder en jong bruin mense moet eienaarskap neem van hul variant van Afrikaans en voortgaan met wat Small begin het.

Adam Small het skryf as ’n wapen van bewusmaking en weerstand gebruik, soos deur ’n paar sprekers aan die fees duidelik gemaak is. Daarom is Small se nalatenskap so belangrik vir gemeenskappe soos Pniël. Gemeenskappe wat bemagtig moet voel deur voorgangers wat die pad gelyk gemaak het vir jong bruin skrywers en digters en dramaturge, sodat dit nie vir jongmense vervreemd laat staan wanneer hulle ook deur middel van kuns bewustheid wil skep nie.

Small se sagte menswees wys dat ons nie bombasties hoef te wees in ons weerstand nie. Small vereenselwig hom met die uitgeworpenes en die eenvoudige mense. Hy spot ook met hoogdrawende mense en ’n voorbeeld daarvan kan gesien word in “Doemanie”:

Doemanie
Adam Small

’n Proefiet van Jesus djy?
’n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sęd smile van djou
en djou tears
en djou woerawarra op die pulpit
moet djou skorrelsvol braai-atappels en -vleis?

djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
en hoe lyk dit moet djou kale pote vi' daai streamline ding
hoe lyk dit moet djou toega vi' die vel van ’n kameel
hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi' sprinkane en wille
   hiening?

Uit: Kitaar my kruis

Small se Afrikaans het sy mense gehelp, want dit was in hul taal. Dit was eie aan die Afrikaans op die Vlakte. Die afgelope naweek het my opnuut gewys dat dit ’n eer is dat Small se werk voorgeskryf was vir my op skool. In Afrikaans het ons Krismis van Map Jacobs gedoen en in drama Kanna hy kô hystoe. Ander gedigte en werke is behandel op universiteit onder die Sestigers. Nog iets wat ek wegvat van die naweek is dat Small se nalatenskap deure vir ander jong bruin skrywers oopmaak en dat ’n mens bemagtig kan voel deur jou taal. Die groot Small het as’t ware mure afgebreek en sal altyd in ons harte en digbundels voortleef.

Foto's: Shirmoney Rhode

The post Kô lat ôs feesvier – Adam Small-fees 2017 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>