Linkris, 'n gedugte hip-hopper uit die Kaap, het aan die einde van 2016 'n nuwe album vrygestel. Hy beantwoord 'n paar vrae oor die musiek, die lewe en kunstenaarskap.
Goeiedag, Linkris. Hoe's dinge?
They say everyday above ground is a good day ... so ja, die lewe is mooi, gazi, thanks.
Foto: Lindsey Appolis
Geluk met jou jongste album, Bloed is dikker as water, wat einde 2016 uitgereik is. Dis jou tweede solo-album, en hulle sê mos die tweede album is dikwels die moeilikste een. Die eerste een het in 2012 verskyn, en vier jaar is ook deesdae 'n lang tyd tussen albums, hoewel jy op verskeie compilations ingesluit is in daardie tyd. Hoe wou jy BIDAW anders benader as jou vorige projekte? Hoe het jy as skrywer en musikant gegroei en verander sedert 2012, en hoe wou jy dit inwerk of beklemtoon op die nuwe album?
Dankie. True, die tweede album het baie expectations vanaf die mense wat jou musiek ondersteun, Veral as dit hip-hop is. Hip-hoppers is maar 'n tawwe bunch om te please! Yes, vier jaar tussen albums is nogals 'n lang tyd. Ek het baie ander projects aangepak en het nog steeds intussen tyd vir songs gemaak, met 'n album in gedagte … maar daar was so baie changes. Byvoorbeeld, ek het getrou, het weer gaan studeer om my honours graad te doen, en dan ook my eie produksie company begin ... So die release van nuwe musiek was bietjie op die backburner gesit.
BIDAW is 'n album met 'n tema en elke track pas soos stukke van 'n puzzle (at least in my mind ... lol). My approach op hierdie projek was baie meer organised en focused. Ek het meer as 50 songs record, waarvan ek 16 gekies het, en die ander twee tracks is skits.
Ek dink ek is nog dieselfde, maar obviously het ek meer experience en meer gemature (hopefully), so ek dink ek is meer intense in terme van my content. En focused intensity is 'n goeie ding, veral in die studio. Ek is baie meer seker vandag dat my artistic purpose is om 'n stem vir my mense te wees, so ek is ook baie meer confident in my execution ... en ek gee nou nóg minder om oor wat die “industry” dink van my boodskap. En daai is 'n groot plus as jy 'n kunstenaar is – afhangend van jou core values, natuurlik.
BIDAW is ook, met 18 tracks, 'n stewige album! Tog staan elke track sterk uit as alleenstander – mens kry die gevoel elke song is met groot respek hanteer in terme van die produksie-elemente, die vloei, die unieke samples en/of vocals wat bygewerk is. "Game change ghazi", byvoorbeeld, het 'n totaal ander vibe as "Jy wonne sieke", of die title track. Was dit 'n opsetlike deel van jou benadering met die album? Hoe werk jou proses om 'n track saam te stel? Wat kom eerste, en wat kom laaste? Hoe belangrik is die tussenwerking tussen die musiek en die lirieke vir jou? Hoe weet jy wanneer dit perfek is ... of moet 'n mens op 'n punt terugstaan en hom sy pad laat gaan, soos met 'n kind wat nou groot is?
Dankie Henry, ek is bly jy voel so oor BIDAW – ek is baie trots op die projek. Alhoewel ek weet quality etc kon baie beter gewees het ... maar dis goed vir wat dit is ... so, dankie! Ek is baie blessed met 'n solid team van producers: Seth Grey, Lance Luger, Stuwi W en Gsoul is monsters!
Ja-nee wat, elke track moes 'n banger wees en elke track moet sy man kan staan op sy eie. Ek wou wys dat Afrikaanse hip-hop-albums wat kom uit die Kaap uit nie hoef boring te wees nie ... no disrespect, maar sommige hip-hoppers in die Kaap dink nie aan hul audiences wanneer hulle musiek maak nie – elke track en elke feature klink die fokken selfde ... wat's die punt??? Ek wou seker maak dat elke song ook lekker live performance gewig kon dra, en ja ... ek wil 'n baie belangrike boodskap kommunikeer aan my audience, maar terselfdertyd wou ek my audience entertain.
Process: Luister beat kliphard ... begin skryf ... mumble flow en melody ... dan record. Maak 'n rowwe export, luister in die kar, luister op my foon terwyl ek shower of op die toilet sit ... as ek voel die vocal delivery is reg en dat die song na twee dae nog steeds solid klink, dan gaan hy in my release folder. Ek spandeer geweldig baie tyd in die studio met editing nadat ek my vox gelace het. Ek maak my eie reference mixes in Cubase met my eie production arrangement en enhancements, net om die sound engineer 'n creative guide te gee oor hoe ek dink die endproduk moet klink. Daarna is ek ook hewig betrokke in die mix en mastering process self …
Daar's 'n paar golden threads wat deur BIDAW loop – die sterkste hiervan in die lirieke is seker die intense verkenning van 'n bruin identiteit en wat dit is, asook die lot van bruin gemeenskappe as gevolg van gedwonge verskuiwings en dies meer in die verlede (en die gevolge daarvan in die hede). Hoe beskou jy die rol van musiek in hierdie gesprek? Meer spesifiek, hoe beskou jy jou eie rol as musikant in hierdie gesprek? In 'n mediaverklaring beskryf jy jouself as 'n uplifting kunstenaar – hoe gaan jy te werk om daai positiewe boodskap te balanseer met die harde realiteite wat jy in jou lirieke beskryf en verken?
Ja, dis maar classic Linkris daai. Ek glo dat my purpose in die lewe is om 'n stem te wees vir my mense. Ek is baie bevoorreg om in die posisie te wees waarin ek is en ek kan dit nie waste deur selfish te wees nie. Ek onthou nog steeds my gutter roots, so ek moet represent! My musiek en creativity is nie gelimit daar nie, maar daai is die core van wie Linkris is. Ek vind balance deur te werk met verskillende kunstenaars met verskillende styles van musiek. Byvoorbeeld, op track nr 18 op die album, “Tyd is verby”, werk ek met 'n super-talented en fresh dame, Dope Saint Jude. Daar het ons bietjie gespeel met 'n meer new-school hip-hop sound en 'n meer playful tema.
Daai's die ding, Henry, ek wil ook nie 'n “preacher emcee” wees nie, want dis fokken boring en common. Ek sien myself as 'n “passionate street poet”. So ek complain nie net heeldag nie – my woord kom met daad en my lewe is 'n bewysstuk van wat ek rap.
Op daardie noot – hoe beskou jy die verantwoordelikheid van kunstenaars en musikante om sosiale kwessies te interpreteer en daaroor kommentaar te lewer? Sommiges meen dis inherent 'n kunstenaar se taak, ander meen vermaak moet bloot vermaak wees. Is daar 'n goue balans om te tref, of is dit vir jou ononderhandelbaar? Watse praktiese veranderinge dink jy maak Linkris in 'n luisteraar se lewe en gedagtegang? Met ander woorde – hoe wil jy graag hê moet iemand andersgemaak wegstap ná jou show, as voor hulle daar aangekom het?
Ek dink kunstenaars skuld niemand niks … 'n Kunstenaar kan doen met sy talent net wat hy wil. Ek judge nie ander se creativity en hoe hulle dit gebruik nie, dis totaal up to hulle. Maar Linkris het 'n purpose, en daai purpose is om mense wys te maak dat coloureds nie langer sal geïgnoreer word tussen die wit en die swart streep nie. Ek is lief vir en werk graag met mense van alle rasse en backgrounds, maar iemand moet brutally honest wees oor coloureds se situasie en existence ... want almal gesels oor dit in subliminals, maar subliminals maak nie impak op alreeds dowe ore nie.
Terug na die musiek: jy't al verskeie collabs gepleeg, en werk onder meer dikwels saam met kunstenaars soos HemelBesem. Hoe waardevol is hierdie soort collabs vir jou, in terme van hoe kunstenaars mekaar beïnvloed en slyp? Wat sou jy sê is die sterkste ding wat jy na die tafel bring in sulke samewerkings? Is dit soms 'n delikate proses in terme van wie die leiding neem, of wat dink jy is die ideale atmosfeer wat geskep moet word vir so 'n samewerking?
Elke collab sien ek as waardevol, en ek leer by elke artist nuwe tips en tricks en hulle leer by my. Omdat ek elke track approach met 'n open mind, loop dinge gewoonlik smooth. Wanneer ek 'n ander kunstenaar approach vir collaboration, dan het ek gewoonlik alreeds 'n concept, instrumental en 'n draft recording gereed. In tye waar die kunstenaar beskikbaar is om na my home studio toe te kom, dan brainstorm ons en skryf op die spot. Ek probeer om dinge so simple as moontlik te hou in terme van logistics. 'n Kis yskoue bier is altyd naby as ek in die lab is, en ek probeer om kunstenaars baie gerieflik te maak sodat ons lekker saam kan flow ... geen ego welkom in my tempel nie. Skills and laughter only!!!
Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is 'n vreemde monster ... En die hip-hop-toneel is nie 'n maklike een om sommer te oorwin nie. Hoe beskou jy die breër industrie deesdae, en ook spesifiek die Afrikaanse hip-hop scene? Wat is goed, en wat is aaklig? Hoe sal jy dit wil sien verander oor die volgende paar jaar, en hoe sal jy wil bydra tot daai verandering?
Baie goeie punt en vraag, gazi.
Ek het al baie gedoen, maar ek moet ook nog baie doen en leer, so vir nou is my opinie neutral in terme van die broader industry.
Die hip-hop scene in die Wes-Kaap is lewendig en promising, maar kak en depressing terselfdertyd. Promising in die sin dat daar baie artists is wat rap en probeer om moves te maak, daar is baie enthusiasm, en dit is altyd 'n goeie ding. Die scene is kak en depressing in die sin dat hier in die Kaap word net sekere mense gepromote. Jy sou sweer hier is net twee of drie kunstenaars wat moves maak die way die “gatekeepers” net sekere ouens book vir shows en vir groot promotional opportunities. Dan is dit nogals die gimmicky artists ook ... Ek sien geen artistic value in opportunistic gimmicky rappers nie. Jammer, kak bly kak. En promoters en radiomense speel dit safe, so hulle is bang om vir die everyday audience bloot te stel aan ander perspektiewe, rym styles, accents en ethos, etc. Maar ja, dit gaan maar seker orals so …
Jy as Afrikaans hip-hopper moet 10 keer harder werk vir alles, en nou is ek nog coloured ook ... lol. Ek het amper 'n stroke gekry toe MTV Base my "Game Change Gazi"-musiekvideo aanvaar sonder enige hassles, lol. Want hulle speel ook net swart. Rassisme in die musiek industry moet val. Ignorance rondom die geskiedenis, bestaan en gebruik van die Afrikaanse taal moet ook val.
Ek het 'n long-term plan. Vir nou fokus ek op die bou van ons production company, Katalis Productions. Ons admin, legal en accounting game is sterk. Ons digital marketing game is sterk. Ons het 'n committed team en ons span van producers is die beste in Suid-Afrika. In terme van hip-hop ... volgens my. Ons breek nou in ander markets en genres in. Die long-term plan is om ander kunstenaars te help en te bou. Maar ons moet gou eers fokus, hard werk en aanhoudend naam maak met next-level shit. Tot dusver is ons suksesvol, maar daar is nog baie skaafwerk. Rome wasn’t built in a day …
Ons makeer meer entrepreneurship, meer collaboration en die fokken ego’s moet fokof! Dan sal groot dinge begin gebeur in die Afrikaanse hip-hop industry. Daar is baie dope Afrikaans hip-hop-kunstenaars daar buite ... maar so min content. Hoekom? Ek weet nie.
Jy het in 2008 begin tracks vrystel – amper 10 jaar gelede al! Dis 'n lang tyd op die scene. Wat staan vir jou uit as hoogtepunte tot dusver, in terme van optredes, collabs, vreemde ontmoetings en dies meer? Enige laagtepunte wat jy eerder sal wil vergeet? Enige mal backstage-stories wat mense nie sommer glo nie?
Ja, eintlik al lank voor 2008, maar vanaf 2008 het notable dinge begin gebeur. Ek sal sê die experience wat ek gekry het tydens die recording en production van die Skrik wakke-kompilasie-album. Clebo aka Clint Scholtz (Rest in Peace) was in charge van die projek en ek het baie geleer deur net vir Clebo te watch. Hy het heavy leadership gehet, baie professional maar steeds ghetto. My tipe bra. Ons was amper 30 emcees op die projek en daai tyd was daar nie 'n guideline of meetstok met sulke projekte nie, so dit was trial en error ... op 'n non-existent budget ... maar alles het dope uitgewerk.
Die release van my eerste solo-album in 2012 ... suksesvolle launch. Weer eens, geen budget. My vrou, daai tyd my my girlfriend, het my geld geleen sodat ek my album kon druk. Ons het heavy gehustle. Ek ken van hustle ... en dit was ook 'n groot sukses. Onthou, ons het geen sponsors en sulke twak gehet nie ... ek het ook nie gewag op mense nie ... net plak vasgemaak en gedala!
Ek het 'n hele paar jaar terug die tema-song gedoen vir 'n Afrikaanse film, Lenteblom, waarin gevaarlike ouens soos Sherman Pharo, Brendon Daniels en Waldemar Schultz in speel. Daai was dope.
Daar is baie, man ... die obvious goed is "Game Change Gazi" se sukses ... die number was #1 op radio hip-hop charts, die video speel op MTV Base en kykNET en die mense is fokken lief vir die number "Jy"! En ek het dit geskryf in memory van my nefie Nico Fritz, nadat hy doodgeskiet is. Laasjaar se Nederland tour saam met Besem … Die Afrikaansvatter-teaterproduksie, wat 'n moerse Kanna-award gewen het, en Katalis Productions was heavy involved in daai produksie … trots op daai.
KKNK – om 7 000+ mense te hoor jou chorus chant: “Ek survive elke dag omdat ek coloured is” is next-level. Dis heavy, want wat ek sê in my lyrics is nie net “skud jou holle" of "check my rims en kar" nie, of "nigga nigga"-twak nie Dis empowering statements ... so daai maak dit even meer next-level!
Laagtepunte ... eintlik geen. Baie learning curves, ja. Maar ek regret niks, gazi. Ek’s in 'n baie goeie space en ek kom uit die gutter uit. Baie van my brasse is in die tronk, op dwelms of dood. Ek verstaan dat dinge nie altyd gaan rooskleurig wees nie. Ek appreciate die good en die bad. So no regrets, net sterke bene.
Collabs? Gazi, ek sit op 'n collab saam met King David van Vendetta Kingz (USA). Jy moet hulle uitcheck, hulle is fokken next-level, nie famous nie, maar next-level lyricists!! Ek wag vir King David om sy tronkstraf klaar te maak, sodat hy die separates van sy vox vir my kan stuur ... ek het alreeds die verse, maar dis op mp3. Ek wil nie daai feature compromise nie … Ek sit ook op ‘n collab saam met Burni Aman van Godessa. Lankal klaar record ... ek hou gou daai missile warm vir eers ... hahaha.
Ek kan nie backstage-stories deel nie ... nie hier nie ... jy weet die manne likes piemp.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Linkris?
Ek is excited om by die KKNK op te tree as Die Salwing vanjaar.
Ek is ook excited vir die Kullid Festival wat volgende maand plaasvind in Pretoria. Kom loer in as jy kan.
Daar is nog goed wat float op die oomblik, so ek kan dit nog nie noem nie.
Nog collabs, baie interesting collabs. Ek wil mense surprise, man, en nou vra jy dié vrae? Ek drop seker in die volgende week of twee die musiekvideo vir my song "Tyd is verby" met Dope Saint Jude. Maar vir nou gaan ek stilbly oor collabs.
Ek bring 'n film uit hierdie jaar, die titel is Wie gaan ons bloed optel?. Independent, maar dit gaan mense move ... daai's 'n belofte!
Baie meer musiekvideo's en baie meer releases.
Ek bring dalk 'n nuwe projek uit later in die jaar (besluit nog of dit 'n EP of 'n album gaan wees). Die working title vir nou is Hustlah.
Wat is die sin van die lewe?
To live and let live.
Foto: Dillon Brown
The post Linkris: "Elke track moes 'n banger wees" appeared first on LitNet.