Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Lugkasteel deur Annelie Botes, ’n resensie

$
0
0

Lugkasteel
Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN 9781770229297

Lugkasteel is Annelie Botes se 13de boek. Sy het oor die jare oor elke denkbare onderwerp geskryf: bloedskande en molestering, dobbel en outisme, fynbosbewaring en selfontdekking.

Haar skryfstyl het ’n eerlikheid wat jou by tye laat wonder of sy besef daar is mense daar buite wat haar woorde lees, wat haar as’t ware beter leer ken deur haar boeke, al sal sy hulle nooit ontmoet nie.

In Sabbatsreis het sy vertel hoe sy in 2004 blindelings op ’n vliegtuig geklim het om in Engeland ’n ouma te gaan soek wat sy kon oppas. Dis nou nadat sy haar en haar man se spaargeld verloor het. Vir ’n hellejaar is sy van haar land en haar man, Chris, geskei. Die jaar het ook sy hoogtepunte en in die proses groei sy. Sy kom as ’n ryker, vervulde mens terug.

Maar genoeg is selde genoeg. In Lugkasteel vertel sy hoe sy kwalik ses maande nadat sy teruggekom het Port Elizabeth toe na haar lewe toe, wéér Engeland toe vlieg. Weer haar man met ’n swaar hart agterlaat en die wysheid van haar besluit betwyfel.

Dié keer as die goewernante van vier onhebbelike bloubloedkinders. Sy droom haar hele lewe lank al van ’n lewe in ’n kasteel en dinge wat soos vir Aspoestertjie gaan uitwerk as ’n sprokie.

Maar die realiteit is ’n heel ander storie: die grillerige ou kasteel is ’n opgaarplek, vuil en onvriendelik, en sy is net ’n kasteelbediende. Die pa is nie betrokke nie; die ma is net ’n onseker skaduwee; die kinders is onbeheerbaar. Sy ly honger; sy verkluim en sy moet haar karige leefruimte deel met die wandelende gees van ’n vrou wat lankal oorlede is, maar steeds snags in die kasteelgange rondloop.

Om vir haar ’n wegkruipplek te skep, rig sy ’n ou Mercedes-Benz vol muisneste, wat verlate in ’n plaat onkruid staan, in as haar heiligdom. Droomplek. Dinkplek. Huilplek. Die hele tyd hou sy ’n front voor vir Chris, want sy is trots en gee nie kop nie.

Tien jaar later sit sy by haar ou bruin lessenaar en herbeleef weer daardie tyd. Beskryf sy woord vir woord hoe haar lugkasteel getuimel het. En weer kom haal Chris haar en kan hulle lepellê, veilig in mekaar se teenwoordigheid.

Maar nie vir lank nie.

En tussendeur die gegewens van haar Engelse reis word die reis van haar lewe vervleg: die staaltjies oor donker grondpaaie met ’n karsiek kind; ’n wolkbreuk oor Bedford en ’n klein seuntjie wat voor die kolkende watermassa gered word; oor die “Hallelujakoor” wat haar elke keer laat huil; oor alles wat was en is, en nooit sal wees nie.

Skryf is ’n innerlike stryd vir haar; haar ure voor die bruin lessenaar sonder haar af van die wêreld, van die alledaagse en van haar man. Sy draai nie doekies daaroor om nie, maar dis iets wat gedoen moet word. Sy gebruik tuinmaak en huisskoonmaak as verskonings om die skrywery uit te stel, maar einde ten laas het dit haar in ’n kopklem en moet sy swig.

Hierdie is nie bloot ’n boek oor ’n vrou wat vier stout kinders moet oppas, byna verkluim en van honger doodgaan nie; dis ’n boek van selfontdekking, van bestekopname van ’n lewe waarin heelwat rakke gestroop is en ander tot barstens toe vol is, maar waarin die syfers nie aldag wil klop nie. Waar daar te veel in die een kolom van haar lewe is, is daar te min in ander en dis hierdie ongebalanseerde balansstaat wat haar weer die vreemde laat invaar. Soekend.

Haar voortdurende soeke na iets beter, as’t ware die groen gras aan die ander kant van die draad, wat vir die buitestander so ooglopend onnodig is. Maar die storie is dié van soveel ander, wat wil glo daar moet meer aan die lewe wees as die daaglikse roetine van was en stryk en skoonmaak en kinders grootmaak en jouself iewers in die proses verloor.

Een van die treffendste dele in die boek is waar sy ’n gesprek hoor waarin iemand vra wat jy sou doen as jy weet jy het sewe dae oor om te leef. Onwillekeurig laat sak ek die boek en begin hieroor dink. Hoe gou kan jy jou spaargeld laat loskom; hoe ver kan mens vlieg in sewe dae; wat sal ek alles wil sien, doen, eet, ervaar. Hoeveel ek sal kan inpas. Maar sy sal haar linnekas sorteer, huis skoonmaak en haar administratiewe dinge in orde kry – alles dinge wat sy elke dag kan doen. En daardie gewaarwording bring trane na my oë. Die goed wat regtig vir haar belangrik is, is reg onder haar neus, maar sy foeter Engeland toe om te gaan swaarkry in die hoop dat die dinge wat belangrik is, daar skuil.

Annelie se boeke is goed nagevors en vervleg met persoonlike ondervinding, soos Raaiselkind destyds met sy eerlike kykie na outisme weer bewys het. Raaiselkind is terloops ’n voorgeskrewe werk in Wes-Kaapse skole.

Lugkasteel behoort ’n voorgeskrewe werk vir elke dwalende te wees – al is dit net om te ontdek dat geluk binne jou opgesluit lê en selde elders ver van hier gevind kan word.

The post Lugkasteel deur Annelie Botes, ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>