Indeks
Joan Hambidge
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN 9780798172967
“Die digkuns is liturgie; die digter ’n priester.” – Neruda
Donkiejare gelede in Utrecht het Wilhelm Liebenberg ooit opgemerk dat van agter af lees dikwels ’n vrugbaarder manier is om tekste te benader. Hier vind ’n mens dikwels die kern of ’n opsomming van die geheel.
Die voordele van dié soort lees het my onlangs weer opgeval by die lees van Die na-dood van Breyten Breytenbach, en John Miles se Op ’n dag, ’n hond (albei uit 2016, soos ook Joan Hambidge se Indeks). ’n Mens let dinge op wat jou andersins ontgaan. Daar steek dikwels ’n sleutel in ’n slot ...
Op die allerlaaste bladsy van Indeks is ’n foto afgedruk van ’n outydse hout-dekstoel en dofweg in die agtergrond ’n skeepsromp, met die luidende byskrif “op die Titanic” (fotograaf: Joan Hambidge; plek: Maritieme Museum in Halifax). Op die voorblad is ’n foto van ’n verweerde, leë houtbank wat uitkyk op ’n ysige Suid-Amerikaanse gletser. Ook geneem deur Hambidge, op haar onlangse reis na dié vasteland, onder meer na die Argentynse hoofstad, Buenos Aires (“stad van die Goeie Winde”) van Borges en Lorca, maar meer spesifiek na Chili, die land van Pablo Neruda (1904–1973). Die digter besoek ook weer Machu Picchu, die Inca-stad in die Andes (Peru). Albei foto’s suggereer uitsig op ondergang: vanaf ’n sinkende skip in die ope see, en oor die see, op ’n gletser. Verder is daar ook swart-wit foto’s van oorledenes (met een uitsondering: Lady Gaga). Dié foto’s vergesel in memoria van beroemde aktrises, sangers, familielede of digters.
Die visuele sy van die digbundel beklemtoon só die sentrale tema in Indeks: verganklikheid, die broosheid van die mens, en die vervlietendheid van die lewe, besonder pertinent in die bundel van ’n digter wat einde 2016 sestig geword het.
Terselfdertyd kan die leser ook nie loskom van die sosiopolitieke konteks waarin Indeks en die genoemde tekste van Breytenbach en Miles verskyn nie: die verbete eietydse stryd vir volwaardige beoefening van Afrikaans as literêre en wetenskaplike taal, nasionale en internasionale politieke onstabiliteit, ekologiese agteruitgang van seë, waters, lug en spesies. Laatwerk van ouer skrywers wat binne dié konteks verskyn, word onafwendbaar ook deur hierdie verswarende, verdonkerende elemente beïnvloed. Bestekopname soos in Indeks van ’n lewe en ’n oeuvre hou ook in bestekopname van ’n wêreld wat verby is, ’n literêre kanon wat agtertoe vasgelê was, maar toenemend deur populêre ikone soos Lady Gaga oorgeneem word.
Maar miskien was dit nog altyd so vir die ouer wordende en bejaarde kunstenaar (en mens)? Want “na alles word die lewe net lament,” staan daar in Hambidge se Lorca-vers, “Buenos Aires” (21); of soos die Amerikaanse digter John Asbery dit op 89 jaar treffend verwoord in sy bundel Commotion of the birds (2016):
the indifferent breath
late every second of every day …
(“Land mass” – my beklemtoning)
Deel van dié laatwerkbundel is ook bestekopname of indeksering van die eie digterlike tematiek tot dusver, met ’n sterk skoot melancholiese, metapoëtiese kommentaar daarby ingebed. So bied die openingsvers, “Ars poetica” (wat alleen staan in afdeling I), ’n katalogus van eie werk en vroeëre, makliker werkswyse:
Daar was ’n tyd
toe ek sonder slag of stoot
’n versreël of inval
netjies kon ómtower in ’n aanklag
of ’n neulerige neuriesang.
Dit was die tyd van palinodes
en verlore simbole
met matelose selfbedrog (…)
Sy bekla haar lot as digter in hierdie laatwerkperiode, want “Nou is dit helaas beurtkrag/ met die digterlike proses” (11–12). Daar is nou sprake van ’n selfbeklaenswaardige “onmag en frustrasie” by die versemaak.
Só ’n direkte selfbelydenis bring ’n byna naïewe eerlikheid in die bundel na vore wat empatie by die leser wek. Die digter smag na beelde wat weer eendag “helder” sal “skyn”, soos in Percy B Shelley se motto by die vers “words (as) a cloud of winged snakes”.
In dié “indeks van indekse” bied Hambidge dus voorlopig slegs “’n maer voetnoot, ’n refleksie van ’n verhaal”, soos in die motto van Valerio Magrelli gebruik by die tweede afdeling, “Reiskaart: Tarjeta Embarque”.
Dat alles egter hier nie eenvoudig en sonder bewimpeling is nie, blyk duidelik uit veral twee verse: “Paseo Trocadero” (15) en uit die vierde afdeling (“Inventaris”), die raaiselagtige “Wat goeie gedigte nooit verraai” (44). In “Paseo Trocadero” word die leser en digter gewaarsku teen uitlewering deur “dít wat moet beskerm” en “digters/ wat kierangslaai eet”, met in die volgende vers verwysings na die “goeie” gedig as “lokval”, “welsand” en “afgrond” waarin “geheime” versteek is. Dié vers, “Wat goeie gedigte nooit verraai”, is enigmaties genoeg om paranoïa by die “lig”-geraakte kritikus te ontketen vir wat hy of sy altemit miskyk (veral na heelwat onlangse bundels waarin verhuld met kritici die draak gesteek word).
Die bundel bevat dus aan die een kant oop verse met (oënskynlike) belydenis oor eie onvermoë, maar aan die ander kant waarskuwings oor verraderlike versteekthede. In die voortreflike vers “Die anatomie van reis” (17), soos in meerdere verse, groei die ondergrondse metro in Buenos Aires (”Subterráneos de Buenos Aires”) tot ’n sentrale beeld van dié geheime: “die subte of die ondergrond” (my beklemtoning – aanvanklik lyk dit na ’n drukfout vir “subteks”, maar by nadere onderdsoek blyk dit ’n Argentyns-geïnspireerde neologisme van die berese digter te wees). ’n Mens sou hierdie “ondergrondse gerommel” (21) ook kan lees as die satiriese inslag in die bundel, soos vergestalt in talle skerp parodieë in die vyfde afdeling, “Vinger in die lug”. Só is daar, op die patroon van Elisabeth Eybers se “Ode aan Kontroleur de Laar”, die gehate belastingman, by Hambidge ’n eietydse teenhanger in “Ode aan Kontroleur de Goor” (die spotdryf met ’n vermaledyde kritikus). “Ballade van die getroue verminktes” bevat ’n gesprek tussen die digters De Lange en Hambidge oor die gewaande swakhede van die Afrikaanse aanlyn letterkundejoernale Versindaba en LitNet. In die “Met groot apologie”-reeks word die tipiese stylkenmerke van ’n aantal sentrale Afrikaanse digters gebruik as parodiemateriaal. Dié parodieë en satires is vir Hambidge sentraal tot haar oeuvre, want:
gryns-laggend meen sy
kom voel my aan die tand
the poetry is in the biting
(my beklemtoning),
en nog treffender in die tandartsvers (57) wat hierop volg:
[...] skryn
die boortjie om die binne-
vrot van intertekste los te boor
(my beklemtoning).
Vir haar is die tandarts se stopsels ’n digterlike beeld van haar “grynslag in steen”.
Indeks blyk dus ’n bundel te wees wat nie sonder handskoene aangepak moet word nie, en inderdaad staan kritici hier dikwels in die digterlike visier as “kriewelkrappers” (61), of soos die “biblioteek-juffrou” van des jare, Mevrou van Stryk (42) wat alles wil “indekseer”, maar vir wie die digter beslis nie haar outobiografiese “mislukkings en misgrype” sal ten toonstel nie.
Dat daar ’n ou ervare digterlike hand in Indeks werksaam is, word duidelik uit ’n hele aantal treffende verse, met as hoogtepunt “Gala” (69) (Gala was Salvador Dali se vrou) – net die eerste deel word hier aangehaal:
Sy wys haar bors groter as skildergroot
vir ons dalk of vir hom, die man-met-die-snor
kandaulisties vreesbevange vir haar gleuf,
die vagina dentata wat hom mag ont-man.
Hierom wys Salvador graag sy geliefde Gala
vir ander soos ’n trofee of ’n tatoeëermerk
op ’n skaamtelike deel ’n donker gebied
soel klam mos onder ’n woudboom.
[…]
Die woord “kandaulisties” is hier presies op sy plek en funksioneel (terwyl die neiging tot vreemde wetenskaplike woorde elders in die bundel iets weg het van ’n Cloete-invloed, en nie altyd ewe heilsaam is vir Hambidge se andersins toeganklike poësie nie). Met “kandaulisties” (’n seksuele afwyking waarvolgens ’n eggenoot of minnaar graag sy geliefde se naakte liggaam, of dele daarvan, aan ’n bevriende voyeur toon) open die digter hier ’n hele eggokamer vanaf Herodotus se Histories, via die skilderkuns van onder meer Delacroix, Krafft-von Ebing se Psychopathia sexualis (1886) en talle films, soos Eyes wide shut (1999) van Stanley Kubrick. Hierdie woord is nié in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem nie, wat altemit ook boekdele spreek oor die behoudende aard van onse WAT. Hambidge verryk dus die moedertaal met dié invoer van ’n nuwe woord. Die vers word verder ondersteun deur ’n piepkleine afdruk van Dali se skildery Galarina wat haar naakte bors toon. Dali seg ooit hieroor:
A rigorous and keen-eyed analysis will show that Gala’s crossed arms are like the interwoven wicker of the breadbasket, and her breast, the crust of bread. I have already painted Gala with two lamb chops on her shoulder, as an expression of my subconscious desire to devour her. That was the age of the imagination’s raw meat. Today, now that Gala has risen in the heraldic hierarchy of my nobility, she has become my basket of bread. (https://www.salvador-dali.org/en/artwork/the-collection/135/galarina)
Gala (1894–1982) was die Russiese vrou van Paul Éluard voor sy Salvador Dalí se vrou geword het. Sy het baie kunstenaars en skrywers geïnspireer.
Terwyl Marlene van Niekerk ’n digbundel Kaar (2013) doop, neem Hambidge Dali se Gala as háár “mandjie” vir bevroeding van die poësie. Hier sou ’n mens altemit ironiese raakpunte tussen die twee digters en hul digterlike inspirasie kon vind.
Daar is nog heelwat sterk verse in Indeks, soos “Ingrid Jonker: revisited” (75), “Op hierdie vadersdag” (85), “Bardo Thodol” (83), “Vademecum” (86), “Epitaaf vir myself” (34), en die slotafdeling gewy aan Neruda, met treffende aanhalings uit sy werk, soos dié reëls uit ’n notaboek van hom:
die digter ’n eensame hond
in die huis van die odes (119),
of sy uitdrukking van intense droefenis:
toe jy jou eie oë wou eet in verdriet (123).
Joan Hambidge se Indeks is ’n veelfassettige en waardige toevoeging tot haar oeuvre, én tot die groeiende aantal laatwerkbundels in Afrikaans.
The post Indeks deur Joan Hambidge, ’n resensie appeared first on LitNet.