Onkologie
In ’n oogwink
raak my teologie
versluierde vrees
voor die deur
van die onkologie.
Ek sien
die hand en naald.
Hisop-stingel
my hoop,
as galbitter gif
deur my are loop.
’n Twyfelmens
lê hier willoos,
van seën gestroop,
gebreek en weggegee,
gesakrament
in ’n hoëre Hand.
Onbegryplik
die liefdesprys,
wat my
so verpand.
Aanneem-ma.
En toe gaan jy
sommer net dood:
‘Aanneem-ma.’
En ek is al weer laat:
jou ‘Aanneem-kind.’
Ek salf jou toe maar.
’n Olie-kruisie
voor jou kop.
My spatsels geloof
en spatsels vertrou,
selfs in die dal
van doodskaduwee
word jy vasgehou.
Ek huil.
Dié keer alleen.
So verskriklik
anders as voorheen,
waar my kop
teen die koue
tralies druk.
Ek wens ek kon
nou by jou sit,
my kop
teen jou knieë,
en jou
oumenshande voel,
waar jy vir my bid,
om God se seën,
maar nou
hier by jou
is ek alleen ...
Herinneringe-gallery
Ons saamloop met mense
is soos skilder –
Gedagtes spatseltjies verf
wat herinneringe verprentjie.
Soms vrolik,
oordadig gekleur,
soms somber grys,
geskilder met seer.
Dié prentjies
is nooit klaar nie,
want niks wat jy het
en niemand wat jy ken,
is vir altyd daar nie.
Soms loop jy
deur jou gallery
by die rye en rye
prente verby
en haas jou,
weier om lank
te vertoef,
hang nog een op,
trek die deur op knip,
en gaan aan
jy dra maar oral
jou prentjies
met jou saam.
skoppelmaai-God
in my pretpark-prentjies
klouter ek op sy skoot
raak hy skoppelmaai-God
wat my die hoogtes instoot.
my gebedsbegeertes
maak pappa, maak!
verwoord my geloofsvertroue
waar ek in sy omgee verlore raak
in hoop roep ek kinderlik
hoër, pappa hoër, hoër!
as ek waaghalsig-roekeloos
my vrese halsoorkop verloor
ek hoor my giggelende lag
pappa, vinniger, vinniger!
want in sy kielielekker-liefde
raak ek al meer waaghalsiger
ek maak my ogies toe
gee my aan sy vashou oor
en weet dat hy dit ook geniet
ek kan dit aan sy hartklop hoor
Politieke Treurlogie
1. Xenofobie
Xenofobie,
Demonokrasie,
mense is
gatvol-moeg,
vir Illusies,
van Kommissies
met drome,
vervalste hoop,
wat Konsulteer
Administreer,
in ’n diarree
van woorde,
nou vol haat,
gelos verward,
met versplinterde
verwagtinge,
bloed wat in
strate loop ...
2. “Struggle” politiek
Dit brand,
Onder “struggle” politiek
En “freedom” kreet.
’n Skyn van vryheid
het die massas verslaaf.
Sonder waardes
En beginselloos,
Baar ons leiers
Nou mense,
Verwagting-boos.
Die saad van geweld
produseer
nou sprinkaanmense,
geen regeerders,
maar verteerders.
Koersloos,
gedryf deur
instinktiewe haat,
verteer die mens
se ongetemde natuur,
sy kultuur.
In sy primitiefste soeke,
beskik die mens
oor ’n kompasnaald,
maar nou het alles ontaard.
3. doolhof van die dood
om en om
maal dit,
gedagtes
oor en oor,
’n soeke
na antwoorde,
as alles vervaag –
jy opgee,
ophou dink,
ophou wonder ...
gelos met
die onvermoë,
van mense,
magsbehepte,
gulsige,
selfsugtige
vrate,
en jy sit
vasgevang,
in die doolhof
van die dood,
in die doolhof
van die dood ...
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Gerhard Olivier se inskrywings appeared first on LitNet.