Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Oor Mathews Phosa se Damaskus-oomblik

$
0
0

Mathews Phosa het met die 2017-staatsrede ’n Damaskus-oomblik beleef.

So vertel hy in die Sunday Independent van 19 Februarie 2017.

Hy het besef dat die speaker gevoelloos opgetree het deur nie ’n oomblik van stilte te handhaaf vir die Esidimeni 94 nie. Hy het besef, veral met sy ondervinding van deelname aan die opstel van die onderhandelde Grondwet, dat dit ongrondwetlik is om die EFF uit die parlement te boender. Hy het besef Zuma is onregmatig in sy pos, en dat hy moet gaan.

En uitgehongerde landsburgers juig en klap hande en deel dit op sosiale media want uiteindelik, na ’n drie jaar lange dawerende stilte word hulle bekommernis en kritiek deur ’n senior ANC-persoon gelegitimeer.

Natuurlik is dit goed en nodig dat daar van binne die ANC kritiek gelewer word. Dis nodig dat daar ernstige selfondersoek moet plaasvind. Dit maak egter nog nie ’n Damaskus-oomblik nie.

Maar hoe tipies van die ANC om na godsdienstige beelde te gryp wanneer nodig. Ons woon immers in ’n land van christene.

Waar was Phosa se Damaskus-oomblik toe selfoonseine tydens die 2015-staatsrede versteur is en joernaliste effektiewelik nie kon berig lewer oor gebeure nie? Hy behoort sekerlik te weet dat vryheid van informasie, en vryheid van spraak, wat toe onregmatig ingeperk was, regte is wat verskans is in die Grondwet wat hy help opstel het? Hoekom het hy toe niks gesê nie? Hoekom het hy nie toe reeds ’n onrustigheid, al was dit dan nog nie ’n Damaskus-oomblik nie, ervaar nie?

Waar was Phosa se Damaskus-oomblik toe die EFF tydens die 2015- en 2016-staatsredes uit die parlement geboender is? Hulle grondwetlike regte was toe tog ook ingeperk. Wat maak hierdie staatsrede anders?

Dan is daar Zuma se onbevoegdheid om as president voort te gaan. Waar was Phosa toe hy tydens Mbeki se bewind onthef was as visepresident? Was hy onbewus van die verkragtingsklagte en die wyse waarop Khwezi intimideer was? Zuma het die presidensie betree met ’n wolk van aantygings teen hom. Het dit Phosa nie onrustig gemaak, soos wat dit gewone burgers onrustig gemaak het nie? Dink hy die openbare beskermer se “Secure in comfort”-verslag, en die staatskapingverslag het in isolasie plaasgevind, sonder dat enigiets daartoe aanleiding gegee het? Dink hy die EFF het vir die lekker daarvan elke keer protes aangeteken?

Sedert 2014 was daar ’n aantal hofgedinge waarin Zuma elke keer bloedneus geslaan was, ook in die grondwetlike hof. Het Phosa nêrens in daardie proses ’n Damaskus-oomblik belewe nie? Of was hy besig met “stille diplomasie”?

Maar wat beteken ’n Damaskus-oomblik? In Handelinge 9 word Saulus op die pad na Damaskus getref deur ’n verblindende lig, en deur ’n ontmoeting met die Here. Sy reaksie? Hy verander sy naam, hy raak ontslae van sy vriende en affiliasie, en hy verander sy lewe radikaal. Hy beskerm, ondersteun en onderrig nou die christene wat hy vervolg het. Beteken dit Phosa gaan nou sy ANC-lidmaatskap prysgee en hom aansluit by die geledere van die DA of die EFF? Natuurlik nie. Hy stel dit ook duidelik in die stuk dat hy sy lidmaatskap behou. Beteken dit dat hy Cyril Ramaphosa sy steun vir presidentskap gaan ontsê, omdat hy so nou by Marikana betrokke was? Natuurlik nie. “Love the sinner, hate the sin” is sekerlik nog ’n godsdienstige frase wat uitgehaal en afgestof kan word soos nodig.

Hy bied geen rede aan vir sy stilswye oor die afgelope aantal jare nie, of hoekom hy juis nou sy Damaskus-oomblik ervaar nie.

Dis onwaarskynlik dat Phosa ’n hartsverandering ondergaan het oor die Esidimeni 94. Daar was tog die Marikana-slagting wat veel meer onmiddellik was, met veel meer grafiese beeldmateriaal en aansienlik meer publisiteit.

Augustus 2016: daar was toe, na die munisipale verkiesing, heelparty Damaskus-oomblikke. Dis moeilik om te glo dat Phosa nie daar begin kleinkoppie trek het nie. Hy noem dit pertinent in die stuk dat hy nie deel van die ANC se “intellectual funeral” wil wees nie. Hy spreek sy kommer uit dat “we will have to perform a miracle to get anywhere near 50% of the vote in 2019.” Hy sê: “We will, as we did in August of last year in the municipal elections, pay a painful price at the polls for it in 2019.” Hierin lê die verduideliking vir Phosa se verbreking van sy stilswye in alle waarskynlikheid opgesluit.

Die ANC-veterane het eers na die munisipale verkiesing verlede jaar begin stem dik maak. Daar is niks wat ’n politikus so vinnig terugbring aarde toe as om jou kamerade te moet help hulle goedjies oppak en kantore ontruim nie. Augustus 2016 was vir baie gesoute politici binne die ANC ’n aanduiding dat die skrif aan die muur is. Boonop is die DA in hoogste rat om seker te maak hulle is gereed om beheer oor te neem in 2019. Tien jaar terug sou hulle uitgelag gewees het. Nou is daar stille bekommernis, want dit is nie meer net ’n vergesogte hersenskim nie. Dit begin al meer soos realiteit lyk, hoe meer irrasioneel Zuma optree en hoe meer keelvol burgers raak.

Mathews Phosa, en ander senior lede binne die ANC, begin besef dat hulle veel meer te verloor het as Zuma se korttermynguns. Hulle kan beheer oor die land verloor. Dan is die morele rugmurg wat hulle nou skielik ontdek het, te verstane. Dit gaan nie om die burgers nie. Dit gaan nie eers regtig om die ANC en hulle ryke tradisie nie. Dis ’n politiese spel om selfbehoud. Phosa, en ander rondom hom, hou een oog ferm op 2019, en die ander op ’n skip wat besig is om in ’n Titanic te ontaard. Indien hulle nie slae gekry het by die stembus nie, sou daar waarskynlik nie een enkele piep uit ANC-geledere gekom het nie.

Natuurlik kan die ANC nog hulle skip red, maar dan sal daar drastiese koersveranderinge aangebring moet word. Die 2017-staatsrede het duidelik gewys dat die huidige leierskap nie by magte is, of dalk bloot nie geïnteresseerd is daarin, om die koersveranderinge te maak nie. Hulle glo steeds dat hulle met dieselfde leë beloftes kan voortgaan en die nodige stemme sal kry.

Daar was geen Damaskus-oomblik nie. Rip van Winkel het bloot wakker geskrik en besef sy tyd is amper verby.

The post Oor Mathews Phosa se Damaskus-oomblik appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>