Ateïste sê daar is geen God nie, die Babiloniese verwarrende bakleierige menigtes onderling onder godsdienstiges sê daar is. Elkeen vra die ander om bewyse te lewer dat God wel bestaan of nie bestaan nie. Beide kan nie met absolute sekerheid die bestaan of nie bestaan van God bewys nie. Die godsdienstiges beweer dat die orde in die heelal en op aarde en al die natuurwette nie eenvoudig vanself oor miljarde eeue heen sonder enige intelligente wese/wesens daaragter vanself kon ontstaan het nie as hulle kern-argument. Ateïste in teenstelling sal argumenteer, hoe kan ’n God of enigiets, ooit bewys word wat in die eerste instansie nooit bestaan het nie. Vir die ontstaan en orde in die heelal en op aarde het ateïste ewolusie as ’n model as verklaring daarvoor, wat nou algeheel of deels deur sekere godsdienstiges ook aanvaar word. Maw bewyse dat selfs hulle godsdiens ge-ewoleer het.
Ps.1 in die Bybel weerspieël die teenstelling tussen godsdienaars en goddeloses (mense soos ateïste sonder ’n god). Daarin word beweer dit gaan goed met godsdienaars en nie so goed met goddeloses nie. Met die godsdienaar “is hy voorspoedig in alles wat hy aanpak!” (volgens hierdie Psalm) en by implikasie die teendeel met die goddeloses soos ateïste. Ons weet dit is nie waar nie. Ons weet dat godsdiens of geen godsdiens absoluut niks met die voorspoed al dan nie van enige mens te doen het nie. Jy kry welvarendes en lydendes onder albei.
Vir die godsdienstiges is daar ’n hele stel gedragsreëls en rituele deur sy god voorgeskryf wat die godsdienstiges gedurende sy leeftyd moet volhou om ’n ewigdurende gesonde en gelukkige plekkie in die hiernamaals vir homself te kan bekom. Verder glo hy, indien hy en non-godsdienstiges hierdie gedragsreëls en rituele nie nakom nie is daar ’n ewigdurende pynlike hel wat te wagte is. Vir hulle is daar uitsluitlik die twee moontlikhede na afsterwe, hel of hemel en geen ander nie.
EN DIT IS EINTLIK DIE HELE DOEL VAN GODSDIENS! Naamlik om vir die hiernamaals (na die afsterwe van die mens), van ’n pynlike hel te verlos. Dis die dat die Christen praat van God as VERLOSSER en Sy VERLOSSINGSPLAN vir die mensdom, VERLOS van die pynlike hel waarin hy glo.
Wat nie weerlê kan word nie is dat geen mens ooit God gesien het nie. Hy weet nie waar die hemel en die hel waarin hy glo, geleë is nie. In werklikheid, hy weet absoluut min omtrent beide. Die bietjie waarvan in die Bybel te lese is, is dat daar ’n see van glas is, ’n groot stad (die Nuwe Jerusalem), ’n Drie-enige God, engele (wat ook nooit ooit deur enige mens gesien is nie), ledigheid (geen rede en behoefte vir werk nie), ’n hiërargie (engele bietjie hoer as die mens, asook die 144 000 en menige verlostes onder God se koningskap), geen kos (ewige lewendes het geen behoefte aan kos nie) en die lekkerste van alles, geen seks nie, ’n spul eunuchs! Op aarde was eunuchs met weersin bejeën en selfs in opdrag van God, van Sy aardse tempel verban. In die hemel is hulle die ideale vorm van menswees wat ’n enkele ewige funksie gaan hê, en dit is om God te loof! Nou toe nou. Ek weet nie wie meer verveeld gaan wees nie, die mens in die hemel, of God nie, in werklikheid ’n ewige eentonige hel in die hemel!
Veronderstel daar is ’n God. In sodanige geval is hy opsigtelik afwesig. Die mens ervaar geen god, behalwe in sy verbeelding nie. Die lotgevalle van die godsaanbidders en die sonder enige god is geensins onderskeibaar nie. Natuurrampe raak albei ewe; dieselfde geld vir welvaart. Godsdiens onder die mens wissel drasties van die een groep aanbidders tot die ander. Elkeen eien sy god as die ware god. Hy het self “heilige” geskrifte opgestel, en beweer dit is van god afkomstig; die Ou Testament vir die Jode, die Nuwe vir die Christene, die Koran vir Moslems; die Vedas vir Hindus, ens. Die mens het self die godsdienstige rituele opgestel, gewysig hier en daar in ’n poging om te bepaal hoe om sy betrokke god te kan behaag; in die Christen se geval veral met die doop en die nagmaal, welke rituele hulle onderling heftig oor kibbel; besprinkling of onderdompeling mbt doop; wyn of druiwesap, kelkie of beker, gesuurde of ongesuurde brood, simbolies of werklik god se liggaam vir die nagmaal, ens.
Behalwe vir die gelowe wat in reïnkarnasie glo, is alle godsdienstiges eens dat voor enigeen se geboorte, het sodanige person in die ewigheid wat sy geboorte voorafgegaan, nooit bestaan nie, dog wil hy voorgee dat na sy afsterwe hy in der ewigheid daarna gaan lewe, hetsy in die hemel of in die hel! Selfs menslike logika ondersteun nie sodanige argument nie.
Feitlik, indien enige god bestaan, gee hy nie ’n duit om vir die lotgevalle van sy aanbidders nie. Bv. kinders van Christen-ouers wat vroegtydig van hulle ouers ontneem is, sal die godsdiens van sy pleegouers aanvaar. Albaniërs vandag is hoofsaaklik Moslems, afstammelinge van Christen-voorouers wat deur die Moslem Ottomanryk ontvoer was. Vat ’n jong kind van Christen-ouers en gee dit vir Hindu-pleegouers, wees verseker sodanige kind word Hindu groot. Nou waar het enige god belang gestel om “sy kind” van besmetting van afgode en ewige verderf te beskerm. Nêrens waarneembaar nie!
Wat almal verseker weet, beide godsdienstiges en nie-godsdienstiges, en dit is dat hy ’n lewe het in die tydperk tussen sy geboorte en afsterwe. Wat met sy geboorte voorafgegaan het en wat met hom gaan gebeur na sy afsterwe, is in werklikheid pure bespiegeling.
The post Die hele doel van godsdiens appeared first on LitNet.