Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs ʼn kollokwium gehou met die tema “Bou jou eie Departement Afrikaans”. Vir hierdie ernstige saak is vier gassprekers genooi om te kom fantaseer oor hoe hulle ideale Afrikaans-departement sou lyk. Hierdie artikel is ʼn verkorte weergawe van Jason Lloyd se toespraak.
Enige gesprek oor Afrikaans – hetsy in koerante, tydskrifte, op radio of televisie of op forums soos dié – is ʼn gelade onderwerp wat vanselfsprekend ou paradigmas en sentiment opdiep. Hieroor is daar al tot satwordens toe gepraat en geskryf en ek sou nie graag iemand daarmee wou verveel nie.
“Opnoem van boosheid baat nie,” het Van Wyk Louw al geskryf. So was dit ook gestel met die apartheidstelsel en hul selfopgelegde doofheid as enigste antwoord op die noodkreet van die “ander”.
Dit is egter nodig dat indien ons relevant wil dink oor die konstituering van ʼn toekomstige Afrikaans-departement en kurrikuluminhoud, moet hierdie ou paradigmas ongelukkig vir ʼn wyle in die geheue opgeroep word.
Dit opper ʼn mens nou nie meer as beskuldiging of aanklag nie. Eerder as bestekopname, as onthou, sodat ons met die vorentoe gaan sal probeer om die gebreke van die verlede te vermy.
ʼn Sin vir geskiedenis is dus krities vir volle begrip.
Ek het einde verlede jaar in ʼn rubriek op LitNet geskryf dat dié “seer” – en ons almal is gelyke draers hiervan – van die verlede as morele kompas behoort te dien om te verseker dat ons nie weer in historiese “taalfoute” verval nie.
Dit is dus noodsaaklik dat die kanonisering van ʼn nuwe Afrikaanse literatuurstudie op so ‘n manier sal geskied dat die “ander” gelyke erkenning sal kry.
Verder is dit ook noodsaaklik dat die historiese afwesigheid van ʼn sosiale bewussyn in die estetiese omgang met die letterkunde, en in die breë Afrikaanse intellektuele lewe, sonder erkenning van die “ander” se mensgemaakte lyding, beëindig moet word.
Daarom sou dit van uiterste belang wees dat ons wat lief is vir Afrikaans, ons sal beroep op ʼn algemene bewussynsvernuwing wat die “ander” sal insluit wanneer die vakinhoud van ʼn toekomstige Afrikaanse kurrikulum bespreek word.
Voordat ek in abstraktheid verval, eers ʼn paar praktiese voorbeelde ter beantwoording van die vraag op die tafel: “Bou jou eie Afrikaansdepartement”.
In samewerking met alle belanghebbendes sou ek eerstens ʼn visie van bemagtiging en sosiale bewussyn opstel vir die Afrikaans-departement. Die visie sou duidelike doelwitte vir personeelsamestelling, die studenteprofiel van die departement en vakinhoud daarstel.
Watter soort wêreldbeskouing sou jy aan studente wil oordra?
Ek is van mening dat alle studente van Afrikaans blootgestel moet word aan die velerlei skakeringe van die Afrikaanse leefwêreld – met ander woorde ʼn goed teoreties-deurdinkte wêreldbeskouing van die uitgebreide Afrikaanse akademiese literatuur.
Dit sou ook goed wees dat wit studente van Afrikaans aan die “ander kant” – met ander woorde “swart Afrikaans” – blootgestel word. Aan swart kant was daar nog altyd die gevoel dat sommige wit Afrikaanse literêre kritici nie die begrip “swart Afrikaans” heeltemal verstaan nie. Dat dit altyd met etnisiteit verwar word. "Swart Afrikaans" was nog altyd ʼn politieke begrip, wat teen ʼn heersende politieke orde gepraat het.
Dié politieke orde is nou verby, maar die begrip "swart Afrikaans" is nog steeds relevant. Bloot omdat die “ander” nog nie heeltemal deel van die Afrikaanse literêre gesprek is nie.
Hoe moet die studente en dosente lyk?
Hoe moet die studente van Afrikaans lyk is ʼn heel maklike dog moeilike vraag. Veral as die resultate van die 2011-sensus – dat die meerderheid eerstetaal-Afrikaanssprekendes in die land nie wit is nie – in ag geneem word.
Dit is so dat ʼn Afrikaans-departement min of geen beheer gaan hê oor watter studente aankom en hoe oud hulle is nie, maar ek dink as deel van ʼn visie van bemagtiging en sosiale bewussyn moet daar spesiale aandag gegee word aan die bruin of swart Afrikaanssprekende plattelandse student.
Met die ongunstige taalpolitieke konteks jeens Afrikaans en die verengelsing van die Suid-Afrikaanse samelewing het dié studente of jongmense, wat as 't ware in ʼn see van armoede verdrink, geen kans op ʼn beter lewe nie. Hulle is verdoem tot plaasarbeiderstatus of tot ander goedkoop arbeid.
Omdat dié studente of jongmense weens armoede die skool vroegtydig verlaat, of na matriek nie geld het om te studeer nie, of matriek so swak slaag dat hulle nie universiteitstoelating kry nie, sou ʼn spesiale program die antwoord wees.
Dié spesiale program moet bestaan uit alle belanghebbendes met ʼn belang by Afrikaans – hetsy in die privaat of openbare sektor.
Potensiële studente moet in graad 10 geïdentifiseer word en finansieel gesteun word tot en met hul junior graad waarvan een hoofvak Afrikaans moet wees.
Dit is ook belangrik dat ʼn toekomstige Afrikaans-departement se dosentekorps so saamgestel word dat dit die taalgemeenskap in sy totaliteit verteenwoordig.
Om die getalle van dosente reg te stel moet ʼn vorm van regverdige regstellende aksie ingestel word. Met die beginsel van regstellende aksie het ek geen probleem nie, mits dit reg toegepas word. So hoe doen jy dit?
Jy doen dit deur die regte mense aan te stel, met die nodige kwalifikasies, en met die vermoë om die werk te doen. Jy skep ook ʼn ontwikkelingsprogram vir verdere studie en begeleiding deur senior of afgetrede professore.
Die skep van ʼn verteenwoordigende dosentekorps – sonder om wit dosente te verjaag – sal ook help dat bruin of swart studente hul bruin of swart dosente as rolmodelle sien en dan so gemotiveer word om ook eendag dosente in Afrikaans te word.
Watter boeke of vakinhoude sou voorgeskryf word?
Ek sou voorstel dat ʼn Afrikaans-departement se vakinhoud verafrikaniseer word, sonder om die Nederlandse gedeelte weg te laat. Dit moet inheemse erfgoed bevat – met ander woorde die bydrae van die inheemse mense moet erken word en in die kurrikulum neerslag vind.
Dit moet ʼn sterk historiese benadering beklemtoon en insluit, soos die orale of mondelinge tradisies – wat ontstaan het lank voordat die Zoeloes, Xhosas of Khoi of San begin skryf het.
Suid-Afrika het baie kulture en tale. Maak die studente bewus van die ryk tale en kulture en hul perspektiewe. Bombardeer en konfronteer studente met inligting wat hulle uit hul gemaksone sal boender. Leer hulle om fyn te lees, krities te dink, te ontleed; en die belangrikste, leer hulle om aanhoudend vrae te vra en nooit op te hou om petrolbomme met die pen te gooi nie.
Raak verskillende temas, soos grond, plaasarbeiderstakings en gay-issues, in die kurrikulum aan.
Wat voorgeskrewe boeke betref, dink ek aan Arthur Fula se boek Johannie giet die beeld (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1954). Fula was die eerste swart skrywer wat ʼn Afrikaanse roman geskryf het, in 1954. Alhoewel die boek moeilik bekombaar is in die handel, het ek verneem dat dit wel te koop is op die internet. En dit sou herdruk kon word as daar 'n dringende aanvraag daarvoor is. By die Universiteit van Pretoria kry studente toegang tot Fula se boek deur ʼn elektroniese weergawe wat die biblioteek beskikbaar stel.
EKM Dido se tweede roman, ʼn Stringetjie blou krale (2000), is uniek in die sin dat dit die Afrikaanse leser blootstel aan en konfronteer met ʼn subtradisie – naamlik die leefwêreld van die Transkeise mense.
Estetiese plesier hoef nie altyd tot ʼn absoluutheid verhef te word nie, want dit is belangrik dat studente aan alle subtradisies blootgestel word. Dit sal daartoe bydra om ʼn sin van ubuntu en medemenslikheid by studente te kweek.
Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) en Matthews Phosa se digbundels, soos Deur die oog van ʼn naald (1996), behoort ook voorgeskryf te word.
Dan is daar nog ʼn aantal skrywers, soos SV Petersen, Adam Small, Peter Snyders, Clinton V du Plessis, AHM Scholtz en andere so reg uit die kraal van die Swart Afrikaanse skrywers-tradisie.
Alhoewel Afrikaans vanuit ʼn politieke konteks bedreig voel, kan dié taal in naam van ʼn gedeelde erfenis soveel meer doen as op die oomblik, om sy voorheen gemarginaliseerde sprekers deel van die ekonomiese en intellektuele hoofstroom te maak.
Afrikaans sou dan ʼn draer kon wees van ʼn visie van bemagtiging en sosiale bewussyn vir al sy sprekers. Dié taal hoef nie altyd gesien te word as die draer en bevorderaar van skeptisisme en “verstarde” Afrikanerdenke en -identiteit nie.
The post Hotnotsgot: Bou jou eie Departement Afrikaans appeared first on LitNet.