Ek het ’n huisie in die karoo
Ek het nie ’n huisie by die see. Dis dag.
Die stilte eggo aaneen oral waar ek gaan
teenaan die klippe waarop my huisie staan
eggo uit die aarde van die Karoo se prag.
Ek voel die winde ruk en slaan, ’n slag
soos verlore woorde deur stiltes stoot
vir vashou plek by lewend en dood
wat wel later rus vind in die tong sê, mag.
Die aarde brand onder die son se lig.
Ek skuil myself teen die hitte daarbuite
ek voel die aarde se gloed teen my ruite.
Hierbinne skroei die wind my nie, is dit koeler en dig.
Kom nag, kom lafenis, ek mis die oseaan
dit is karoogrond waarop my huisie staan.
Huisves
Dit het vier mure.
Huis, paleis, pondok, varkhok,
elkeen dien een doel;
hou die binnegoed binne,
hou die buitegoed buite.
Tuis
Tuisblyer van my eie woning
in ’n woonbuurt saam met ander tuisblyers
huisves blink sink die uitgeworpenes
het elke pondok tóg sy koning
in ’n woonbuurt saam met ander tuisblyers
arm en blank én verstoot tot op die rand
het elke pondok tóg sy koning
word karton en plastiek ’n woning
arm en blank én verstoot tot op die rand
huisves blink sink die uitgeworpenes
word karton en plastiek ’n woning
tuisblyer van my eie woning
Woning
dak oor my kop
beskut en beskerm my
waar ek koninklik my leef leef
paleis
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Helena Mellet se inskrywings appeared first on LitNet.