Jy
ek sluip saggies met my kaalvoete oor die koue teëlvloer
versigtig dat die herinneringe nie ontwaak
ek blaas die rook van jou menswees
stadig deur my lippe
en laat dit smeulend sluimer in die asbakkie
wat langs my drink staan
jy is die watermerk wat my glas
op my lessenaar agterlaat
al wat oor is van iets wat my eens
geluk sou verskaf
jy het aan my hart geruk
soos die rillende herfswind
wat verbete die vensters laat bewe
en die deure laat klap
nes die laaste sigaret
en die laaste slukkie koffie
is jy óók dan nou weg
wat ek nie sou gee om jou finaal
uit my gedagtes te kry
sonder moeite en second thought
om jou moeiteloos weg te vee
soos die beskuit van laataand swotsessies
die stof op my boekrak
die hare op my kamervloer
ek’t gedink ek’t begin vergeet
maar sonder waarskuwing
pootjie jou oorblyfsels my
daardie kenmerkende reuk van jou
wat so dikwels nog aan
die mure van my woonstel bly klou
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Jy appeared first on LitNet.