Huis
kom ek nooi jou in na my voorhuis
met ’n vaas vol fynbos
en ’n doilie op die suikerpot
(wat wag op jou koms en jou kuier!)
loer na die formica-skinkbord wat mals en gul op die sinne wag ...
kom sit op my riempiestoel met die fluweelkussing
wat steeds ruik na my ouma en haar swart sisrok.
skop jou bene lui uit op my leiklipvloer
en voel die koelte van my peperboom onder jou tone!
sluit jou oë en sien my Karoo raak in die blou erdekom
– waarin rooi granate oopbek lag met klein, fyn tandjies –
op my sideboard.
sluimer so ’n wyle voor jou hande my toeka-koppies vol moerkoffie met bokmelk vat ...
lag saam oor afleiwatertjies langs die kleinhuisie en die sifkas se lendelam deurtjie.
hoor die rek-hek klaend toeklap op die mooi grou gruis van my kleintyd ...
lê op die kuierstoep-katel met die rye biltonge bo jou kop en die reuk van opkookvleis op die Primus,
en hoor net weer een keer die huil van die traporreltjie onder die familieportrette.
huis saam met my
– nog net 'n rukkie –
voor jy groet
en huiswaarts keer.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Huis appeared first on LitNet.