#SONA2017 sou nooit vreedsaam verloop het nie. Dit kón nie. Reeds vroeg in die week is daar bekend gemaak dat 441 lede van die weermag ontplooi sou word om tydens die staatsrede orde te handhaaf.
Die vryheid van beweging van joernaliste, wat hulle vermoë om volledig verslag te doen oor gebeure in en om die parlementêre perseel, beïnvloed, is erg aan bande gelê. Dit het boonop gepaard gegaan met leuenagtige bewerings dat die joernalistieke organisasies daartoe toegestem het, bewerings wat joernaliste ten sterkste ontken het.
Die EFF het hul jaarlikse oorlogskreet, dat hulle die staatsrede gaan ontwrig, gelewer.
Dit als nog voor die dag van die staatsrede.
Vroeg die middag van die staatsrede is traangas gevuur om lede van die EFF wat protesteer het, uitmekaar te dryf.
Swartgeklede DA-lede het met plakkate wat lees “Remember the Esidimeni 94” die parlement binnegegaan. Buite het helikopters laag oor die gebou gevlieg. In ’n vertrek buite sig van waar die publiek was, het lede van die polisie in onluskamoefleerdrag en met onlusgereedskap gewag. Verslaggewers rapporteer dat gewapende lede van die weermag op die snelweg gestasioneer is.
Toe Zuma die saal binnestap, en die 12-jarige pryssanger sy lof begin besing, was daar onmiddellik chaos. Die EFF-LP’s het “Khwezi!” en “tsotsi!” begin skree, terwyl die ANC-LP’s hulle probeer doodskree het met krete van “ANC!”. Die enigste persoon wie se stem verswelg is in die geroesemoes, was die pryssanger s’n.
Vir die volgende effens meer as ’n uur was dit die een punt van orde na die ander wat geopper was. Die DA het ’n minuut van stilte vir die Esidimeni 94 versoek. Dis volstrek geweier. Die EFF het kommer uitgespreek oor hul veiligheid, aangesien lede van die polisie na bewering met spuitnaalde gevul met een of ander biologiese wapen buite op hulle wag. Hulle kommer is as gerugte verwerp en hulle is geïgnoreer. Lede van die EFF het Zuma se bevoegdheid om daar te wees, bevraagteken. Hulle is as buite orde beskou.
Wat vroeg reeds duidelik was, was dat al die lede van die opposisie goed geskool is in beide die Grondwet en die toepaslike reëls van parlement, en dat hulle groot sorg aan die dag gelê het om die gronde waarop hulle optree, te staaf uit die reëls en die Grondwet. “Ons tree binne ons mandaat en die reëls op,” was die boodskap wat oor en oor subtiel uitgedra is. Zuma is ’n “constitutional delinquent” wat nie bevoeg is om die land te lei nie, was die boodskap. Aanvanklik was dit toegelaat, maar die twee voorsittende beamptes het na ’n uur alle geduld verloor. En dis waar dinge skeefgeloop het. Eers is ’n lid van Cope gevra om die lokaal te verlaat, en hy is toe deur die parlementêre sekuriteitsbeamptes uitgelei.
Kort daarna is die EFF en masse verwyder. Of ons met die EFF se taktiek saamstem of nie, hulle het ’n demokratiese reg om besware te opper. Hulle was baie versigtig om op te tree binne die raamwerk van die reëls. Daar is niks demokraties daaraan om hulle as ’n party te verwyder nie – iets waaroor die konstitusionele hof reeds beslis het. Sommige lede van die EFF het nie gepraat nie, en kon hulle dus nie skuldig maak aan ’n oortreding van enige reëls nie, maar hulle is net so hardhandig verwyder soos dié wat opgestaan en protes aangeteken het. Lede van die ANC het goedkeurend hande geklap. Hulle is skynbaar min gepla deur die feit dat die konstitusionele hof oor presies daardie punt beslis het, skaars ’n jaar gelede. Maar die ANC onder Zuma se bewind het nog altyd net lippetaal aan “rule of law” bewys.
Kykers by die huis kon op ’n aparte skerm sien hoedat, terwyl die gevegte tussen die sekuriteit en EFF binne losbars, die onlustepolisie van buite aangehardloop kom en formasie vorm voor die gebou. Dit is teenstrydig met parlementêre gebruik, en teenstrydig met die onderneming wat die ANC skynbaar vroeër die week teenoor opposisiepartye gegee het.
Lede van die parlement wat met geweld uit die huis verwyder word, is in die Zuma-era die nuwe normaal. Lede van die regerende party wat goedkeurend hande klap terwyl hulle kollegas in die opposisie aangerand word, is deel van die nuwe normaal. Gaan onluspolisie op die parlementêre gronde ook deel word van ons nuwe normaal?
As dit toegelaat word, leef ons nog steeds in ’n demokrasie, of het ons een tree nader gekom aan die afgrond wat lei na ’n diktatorskap?
Die ander opposisiepartye het myns insiens reg opgetree deur in protes die vergadering te verlaat en buite bymekaar te kom. Dit het op een stadium gelyk asof ANC-LP’s die lede van die DA wou aanrand, en hulle is onder gejou en gevloek uit die vertrek. Patricia de Lille het op Twitter beweer dat sy en ander gaste in die galery met pepersproei gespuit is.
In die woorde van een LP: “This man broke South Africa and you (chair of the NCOP) broke parliament.” Harde woorde, maar grootliks waar.
En wat was Zuma se reaksie deur dit alles? Hy het gesit soos een wat ’n amusante prent op televisie kyk. Toe hy opstaan om die ANC toe te spreek – want al die ander LP’s het die vertrek verlaat – het hy met sy kenmerkende giggel gesê: “Finally.”
“Finally.” Die reëls van ’n demokratiese bestel is gebuig en gebreek, en die leier wat ’n eed afgelê het om daardie bestel te beskerm, se enigste reaksie is “Finally”. Toe lees hy die toespraak wat vir hom voorberei is, en hy kondig, sonder die geringste sweem van ironie, 2017 as die jaar van eenheid in aksie aan.
Daar was geen eenheid sigbaar in die gebeure wat tydens die staatsrede afgespeel het nie. ’n Leier met ’n greintjie empatie en ’n ons van verantwoordelikheid sou van die voorbereide toespraak afgewyk het en die woorde gevind het om die nasie gerus te stel. ’n Ware leier sou dit wat gebeur het, aangespreek het.
Zuma is nie daai leier nie.
Hy het verkies om agter die rokspante van die voorsitter van die NCOP en die speaker weg te kruip, en van daar te sit en giggel.
Daar is niks om oor te giggel nie.
Een LP het met reg die vraag gestel: "Are we sacrificing all we fought for, all because of one man?"
Dis die vraag, is dit nie? Elke jaar gly ons net verder en verder in die slyk van korrupsie weg. Elke jaar word demokraties verkose lede se reg om te praat, hulle met geweld ontneem, en dit word net al meer geredelik as normaal aanvaar.
Joernaliste word verhoed om behoorlik verslag te lewer. Polisie op die gronde het die EFF afgekordon en nie toegelaat dat joernaliste met hulle praat nie. Sensuur word toegepas deurdat die klank binne die gebou met gereelde tussenposes onderbreek was.
Vryheid van spraak, vryheid van die media en die reg van verkose LP’s om hul mening te lug is bakermatte van ’n demokrasie. Dis als gisteraand vernietig, in diens van ’n giggelende keiser sonder klere.
Dis egter nie snaaks nie. Ons demokratiese instellings word stadigaan, baksteen vir baksteen, vernietig.
Ons almal gaan die gelag betaal. Een of ander tyd. En die aand van #SONA2017 het ons die eerste paaiement betaal.
The post #SONA2017: die jaar van eenheid in aksie appeared first on LitNet.