Dit sou heel gepas wees om die agteruitgaande toestand van ons klein dorpies as metafoor aan te wend om die ideologiese krisis waarin die DA hom tans bevind te demonstreer.
Die meeste klein dorpies het hul ontstaan in die 19de eeu as klein militêre administratiewe poste van koloniale besetting gehad. Dié dorpies het wortel geskiet rondom magistraatshowe en kantoorblokke. Infrastruktuurbelegging was minimaal en ekonomiese ontwikkeling het selde verby die bestaan van algemene handelaars gestrek.
Dié beleggings en ontwikkelings was hoofsaaklik tot die sentrale wit sakegebied van klein dorpies beperk. Tot nadeel van niewit mense, wat tot krotbuurte gereduseer was.
Die DA en sy voorgangers het dus op dieselfde ideologiese vertrekpunt sy beslag gekry: die bevordering en verskansing van ’n wit ideologie. In so ’n mate dat dié party se (wit) leierskap van wat in getalle ’n swart party is, maar ideologies witheid in stand hou, met ’n groot dilemma sit.
Hoe versoen die DA die belange van sy wit liberale met sy swart nasionaliste s’n? ’n Paradigmaskuif in ideologie is die oplossing.
Ideologieë verskaf ’n belangrike manifestasie van politieke waardes wat dikwels verantwoordelik is vir die wyse waarop baie, indien nie alle nie, politieke akteurs optree.
Die term ideologie is tussen 1796 en 1798 deur die Fransman Antoine Destutt de Tracy geskep. Dit omskryf ’n stel waardes wat ons as riglyne gebruik vir hoe ons lewe.
Die gevaar van ideologie lê opgesluit in ’n ou spreekwoord wat deur die Britse historikus AJP Taylor losweg geformuleer is: “Jou ideologie is soos jou eie asem: jy kan dit nie self ruik nie.”
In ’n ander konteks om ’n oplossing vir die dilemma met ideologie te verskaf, het die historikus Hermann Giliomee opgemerk: “Dit is veel beter om openlik te erken uit watter hoek jy kom wanneer jy jou storie vertel.”
Dit blyk dat die voormalige DA-leier, Helen Zille, wetend of onwetend in haar onlangse outobiografie, Not without a fight, die hoek of ideologie waaruit die DA kom, naamlik neoliberalisme, verklaar het.
Tragies vir die DA het neoliberalisme, wat in 1938 tydens ’n vergadering in Parys sy naam gekry het, klaaglik misluk. Aan die beginjare het neoliberalisme hom, ten spyte van uitspattige befondsing, op die periferie bevind, maar tydens die 1970’s, wat gekenmerk is deur ekonomiese krisisse aan beide kante van die Atlantiese Oseaan, toenemend binne die hoofstroom.
Die bewind van Margaret Thatcher en Ronald Reagan het neoliberalisme nie net verskans nie, maar verder uitgebou deur onder meer privatisering asook om belasting vir die rykes te sny.
Destyds, soos ook die DA dit vandag doen, is neoliberalisme bevorder en gepropageer onder die dekmantel van “daar is geen alternatief nie”. Tot so ’n mate dat dit verantwoordelik is vir die ekonomiese krisis van 2008, die opkoms van rykdom en mag soos vervat in die Panama-dokumente, die verval van openbare onderwys en gesondheid, die opkoms van Donald Trump, rassisme en etniese chauvinisme, asook die mislukking van linksgesindes.
Neoliberalisme staan staatsinmenging teen en sorg dat die markte seker maak elkeen verdien wat hom of haar toekom. Vakbonde word geringgeskat en kompetisie definieer menslike verhoudings. Armes wat nie kompeterend is nie, word gemarginaliseer.
Ten spyte van dié mislukkings van neoliberalisme glo die DA onwrikbaar daarin en beskou enige aanval hierop as ’n aanval op witheid.
Die oudjoernalis Christi van der Westhuizen skryf: “(Zille) dink ’n kritiese ontleding van witheid beteken daar is nie plek vir wit mense in die land nie.”
Die DA se (mislukte) neoliberalisme is gelyk aan ras-essensialisme, wat losweg as kleindorpie-denke gedefinieer kan word.
The post Die DA en sy ideologiese krisis appeared first on LitNet.