Beste Jan,
Jy het heeltemal die verkeerde begrip van wat grammatika is. Grammatika is slegs vir die student van taal of ʼn taal bedoel, nie vir die gebruiker van daardie taal nie. Die meeste mense het geen of geringe kennis van die grammatika van hulle taal. Tensy jy dit doelbewus bestudeer het, glo ek nie dat jy veel weet van die Afrikaanse grammatika nie.
Laat ek weer eens verduidelik. Enige taal het ʼn struktuur en slegs die studie van daardie struktuur, en die beskrywing van hoe daardie taal funksioneer, word die grammatika genoem. In die verlede het linguiste dit hulle plig geag om uit te gaan in die wêreld op soek na onbekende tale. Hulle het dan die tale bestudeer en die grammatika daarvan geskryf. Soos ek male sonder tal al aan jou verduidelik het, grammatika is deskriptief van aard. Taalkundiges kan onmoontlik iets beskryf wat nie bestaan, soos jy dit wil hê, nie; dis die werk van fiktiewe skrywers.
Grammatika is ʼn gespesialiseerde dissipline met sy eie metodiek en woordeskat. Ek is seker daarvan dat geen Afrikaanssprekende taalkundige die Afrikaanse grammatika volledig “ken” nie, maar hy is toegerus om verskillende aspekte van Afrikaans te ondersoek en te beskryf. Die produk sal dan ʼn Afrikaanse grammatika wees.
Hoe meer ek deur ons land reis, hoe meer begin my taalbeskouing ook verander. Ek weet daar word gepraat van Kaaps, selfs Oranjerivierafrikaans, Griekwa-Afrikaans, Standaardafrikaans, Natalse Afrikaans, Vrystaatse Afrikaans, Transvaalse Afrikaans, en nog meer, maar die struktuur, die sintaksis van almal is basies dieselfde. Die verskil lê tog maar hoofsaaklik by uitspraak en woordgebruik. Ons kan almal tog sekerlik maar plaas onder die sambreelnaam Afrikaans. Almal verstaan mekaar tog, selfs al gooi ons Engelse woorde tussenin. As sensusopnames gedoen word, sal al hierdie mense hulleself tog as Afrikaanssprekend beskou.
Met bostaande in gedagte, is die sin: “Jy’t gemention dat ons nie ʼn future saam het nie,” tog maar ook Afrikaans. Miskien ken die spreker nie die woorde en uitdrukking ‘gemeld’, ‘gewag gemaak van”, ‘aangeroer’ nie, en ook nie ‘toekoms’ of ‘toekomstige lewe’ nie. So geïsoleerd kan ek eintlik nie sê of dit Kaaps of Afrikaans is nie. ʼn Mens sal na die hele gesprek en uitspraak moet luister om dit te bepaal.
Jy het my nooit direk gevra waar die Engels in Afrikaans vandaan kom nie, maar aan jou skrywe kon ek sien dat jy nie weet nie. Daarom het ek vir jou vertel van Lord Charles Somerset se taalwette, die onderdrukking van Afrikaans voor 1900 en daarna. Ek het gewys dat die Engels waarteen jy so stry en baklei vandag se Engels is. Ek het jou ook al gewys daarop dat daar ʼn onderskeid is tussen die politieke aanslag op Afrikaans en die natuurlike ontwikkeling van Afrikaans deur die opname van Engelse woordeskat.
Miskien kyk jy te veel sepies en beskou die taal wat daar gepraat word as sou dit nou Kaaps of wat ook al is. Die taal wat die akteurs in die sepies praat, is vir hulle voorgeskryf deur die skrywer van die teks, en dit is sy manier om die karakters uit te beeld. Ek kyk nie sepies nie, en sou dus nie ʼn oordeel kon vel oor hulle taal nie. Ek weet maar net hoe skrywers te werk gaan.
Jy weet miskien van die derduisende anglisismes in Afrikaans, maar jy weet nie hoe hulle oorspronklik in Afrikaans gekom het nie, daarom lig ek jou in deur vir jou die geskiedenis van Afrikaans voor te hou. Die Engelse woorde wat deesdae in Afrikaans voorkom, word nie meer as anglisismes beskou nie, maar as gewone leenwoorde. Eintlik word daar nie eens meer geleen nie, sommer net gevat.
Jou Onderstepoort-evolusiestorie volg ek nie mooi nie. Kom ek leer jou so ʼn bietjie van die evolusieteorie. (Dis eintlik my kos!) As twee organismes sou kruis, dan behoort hulle tot dieselfde spesie. Organismes van verskillende spesies kan nie kruis of paar nie. Indien dit tog wel gebeur, dan kan die nuwe organisme nie verder teel nie, soos bv. die muil.
Wat Engels en Afrikaans betref, hulle is bloedfamilie: Indo-Europees->Germaans->Wes-Germaans->Anglo-Saksies->Engels. Wes-Germaans ->Nederlands->Afrikaans. Engels en Afrikaans lê so naby aan mekaar, dat die een se woordeskat maklik by die ander ingeburger kan raak; anders as bv met Frans of Spaans waar die taalskeiding reeds vroeër plaasgevind het.
Dit is so dat Afrikaans en Standaardafrikaans uit 17de eeuse Nederlands ontstaan het, maar jy vergeet gerieflikheidshalwe dat daar tussenin Kaaps en Kaaps-Hollands lê. Hoe kom jy daarby verby?
Jy sê ‘future’ en ‘mention’ is nie in die woordeboek nie, maar wat sal jy sê as dit in die toekoms wel daarin is? Die afleiding ‘futurisme’ is al daar. Wat ek van jou hele argument nie verstaan nie is dat jy van iemand wat sê: ”Jy’t gemention dat ons nie ʼn future saam het nie,” verwag dat hy in die woordeboek moet gaan kyk of hy hierdie woorde mag gebruik of nie.
Nederlands is deurspek van Engelse woorde, en jy verklaar dit as verering wat die Nederlanders teenoor die Engelse het. Dis mos belaglik; ʼn taal vergroot nie sy woordeskat deur verering te betoon nie. Dan moet ons Boere mos ʼn verskriklike liefde hê vir die Rooinekke met ons derduisende Engelse woorde wat ons al oorgeneem het. Die Rooinekke het dan ook ʼn taamlike liefde vir ons, want South African English het, volgens die Oxford meer as ʼn duisend woorde van Afrikaanse oorsprong.
Ten slotte, maar weer oor die term grammatika, wat jy nie verstaan nie. Dit is so, en dit lyk my dit het darem tot jou deurgedring, grammatika, met al sy onderafdelings, sintaksis, fonologie, en semantiek, is deskriptief van aard. Dit verg egter jarelange studie van die grammatika om ʼn taal te kan ontleed en ʼn grammatika daarvoor te skryf. Grammatika is net vir die taalstudent van belang. Die gebruiker van ʼn taal weet heel waarskynlik nie eens dat so iets bestaan nie. Op skool word grammatika ook nie vir die kinders geleer nie. Veral by die aanleer van ʼn tweede of derde taal, word die direkte metode gebruik, nie die grammatika-vertaalmetode soos in die ou dae nie. Ek het bv Duits op skool geneem, en het ʼn redelike kennis van die grammatika gehad, maar kon dit nie praat nie, omdat ek dit nie deur die direkte metode geleer het nie, maar deur die grammatika-vertaalmetode. My Duitse kollega se huistaal is Duits, maar hy weet nie eens dat sy taal vier naamvalle het nie. Wat jy dink die grammatika van ʼn taal is, is die struktuur, die samestelling daarvan wat enige kleuter sommer in ʼn japtrap baasraak. Die bestudering van daardie taalsisteem en die beskrywing daarvan, is bekend as die grammatika van die taal. As niemand Duits se sisteem bestudeer en beskryf het nie, sou ek en jy ook nie geweet het dat Duits vier naamvalle het nie.
Heel tenslotte noem jy die taal Akuntsu wat ongedokumenteerd is, en jy sê dat dit nie nodig is om vir die taal ʼn grammatika te skryf nie, want dit het een. Ek stem saam dis nie nodig om ʼn grammatika daarvoor te skryf nie, maar jou bewering dat dit ʼn grammatika het, is onsin. Jy verwar taalsisteem en die beskrywing van taalsisteem met mekaar. As niemand die taalsisteem van Akuntsu beskryf nie, sal niemand weet hoe dit aanmekaargesit is nie. Niemand sal weet wat die taal se struktuur is nie, en hoe dit funksioneer nie. Vir die ses sprekers van die taal is grammatika nie nodig nie, slegs vir die taalkundige is dit van belang.
Groete,
Angus
The post Vir Jan Rap: Taal en grammatika appeared first on LitNet.