Ek het ’n huisie by die see
Ek het ’n huisie by die see.
Dis nag.
Stormwinde om my kaia woed,
Die watertafel styg.
Ek het ’n huisie by die see.
Dis dag.
Stootskrapers laat my tafel knak.
Ek het ’n huisie by die see.
Dis dag.
Vlamme lek.
My alles tot as.
Ek het ’n huisie by die see.
Dis nag.
Duine in my lyf.
Ek het ’n huisie by die see.
Dis nag en dag.
’n Simba-boks.
En dan sê jy nog, Meneer, my vis is duur, ek hoort nie hier, ek spoil jou view.
Praat jý met ’n bank se huis by die see.
Huis, paleis, pondok
’n Sekere man met ’n vrouespan
bou ’n kraal met prag en praal,
’n brandbad vir vure,
’n suite vir lobola-diere.
’n Sekere man gooi aanhou wal.
Hieroor sal hy nie val.
Die regbank beman vir kraal en praal.
’n Sekere man hou aan vat
in ’n huislose see.
Die Guptas sal aanhou gee.
Migrasie
Vlerke span kompasgetrou
as die aarde kantel,
seisoene draai.
Kontinente, pieke, dale gly en gly verby.
Afstande en afstande en afstande.
Fyn raam beur broos teen son, osoon en atmosfeer.
Brandende lyf in outosfeer.
Dan:
Tuis tot die aarde weer kantel.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Jo-Ansie van Wyk se inskrywings appeared first on LitNet.