Barberton
Ek kyk op na die berge en weet
wat die psalmis bedoel,
as ek omring met hul glorie
God se helende hand in my stukkende
hart voel.
Die stywe pad bergop belyn met pragbome,
verkoelend, verkwikkend, versterkend ...
Lower in malse kleure van oneindig groen
gespikkel met rooi soms ’n pers, dalk ’n geel,
wat weerkaats in nat strate
na ’n milde bui reën.
Soms gooi die riviertjie ’n tantrum of twee,
ruk bome en mure en self sy walle in twee,
maar maak daarvoor op
in die oorvloed wat rondom ons is.
My mense is vriendelik, loop verby met ’n groet.
Help as jy verdwaal het met ’n geselsie en lag
en genees ’n seer siel om in ander te glo.
En as die nagte nader
gryp Hy die verfkwas in bloedrooi en goudgeel gedoop
Swaai dit oordadig oor berge, die lug en op teer,
... stort Seën op ons neer ...
... laat ons weer Hemelwaarts kyk en van nuuts af waardeer.
Die sterre en maan luister saam na die nag se geluide.
Paddas wat kwaak, ’n uiltjie of twee,
die nagvolk wat saamwerk
om ’n rustige nag te beloof.
En vroeg in die oggend as die son die dag verf,
draai ek reg rondom kyk op na die berg
en weet waar vandag se Hulp vandaan kom.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Barberton appeared first on LitNet.