Dekor-depressie
Almal sê: ”Jy moet jou huis ’n tuiste maak.”
Hoe moet ek dit doen as ek skaars die pot se boom skraap?
Maak dit met kussings en gordyne mooi.
Hoe? My bankbalans is permanent in die rooi!
Steek weg al die tydskrifte oor dekor,
Die onmoontlikheid daarvan maak my keel dor.
’n Potjie hier, blommetjies daar,
Al die verspotte goed maak my net naar.
Die duvet se rante rafel uit,
Die ketel het ’n duik in sy tuit.
Sodra ek begin dink en beplan,
Kom ’n skooltoer “vir almal wat kan.”
Hoe sê ek vir sus: ”Nie hierdie keer.”
Dit maak my hart heeltemal te seer.
Nou sit ek maar in my sak en my as.
Ek pak maar my planne in my droomtas.
Total almal geskool en gewerk is,
Kan ek vir seker maar wis,
Ek sal moet vrede maak en berus.
Dis nou maar eenmaal hoe ons tuiste is.
Laas jaar se lakens en ouma se stoel,
Elke ding dien net sy doel.
Vaal en vervelig, dit is dalk waar.
Ek is seker dinge lyk beter, volgende jaar!
Digitale dromer
By my kind se wêreld kan ek nie in,
Daar is digitale mure wat hom omring.
Die ene en nulle maak vir hom sin,
Deur die Minecraft-gordyn kan ek nie dring.
Daar is X-box, selfoon en PSP,
Hierdie is die plek wat hom waarde gee.
Ek wil so graag hê hy moet meer by ons wees,
Maar ek sien in sy oë die sluier is getrek.
Hy loop alleen in daardie deel van sy gees,
Vir my en die ander is daar nie ook plek.
Jou liggaam is hier, maar jy is weg,
Ek verlang na jou as jy so sit en droom.
Op ’n soektog, ’n missie of vuisgeveg,
Die res van die wêreld slegs ’n gedagte se soom.
Weet net ek is hier en wag op die dag,
As jy deur die pixels opkyk en vra,
“Het mamma heeltyd vir my gewag?”
En ek sal sê: “Ja, honderd maal ja.”
Reënboogdraad
Tussen wolle is ek tuis,
Die gekleurde drade is my huis.
My hart reis met elke toutjie saam,
Pienk vir liefde, rooi vir passie, geel vir skaam.
Soos my lewe word hul gevleg,
Partykeer is die spanning goed, soms sleg.
In my reënboog voel ek veilig,
My hekeltyd is vir my heilig.
My mense se vordering, liefde en leed,
Kompleks of eenvoudig, broos of wreed.
Uit my vingers vloei al die stres,
My drome en vreugdes word in kleur geves.
Met my hekelpen skep ek mure, ’n dak en ’n vloer,
Geen wind of weer kan my veiligheid roer.
Snoesig verpak tussen bolle en tou,
Hierdie adres sal ek lewenslank hou.
Wie sal weet?
Ek is so kwaad vir jou,
Jy het haar wese gebreek.
Vir wat?
’n Ander vrou, avontuur, nuwe land?
Jy was haar tuiste, haar toekoms, haar sekuriteit.
Toe ruk jy die mat onder haar uit met een magtige pluk.
Jou kinders los jy hier, gesels glo op Skype.
Die brose struktuur van hul tuiste is heen,
Ragfyn porselein in skerwe gebreek.
Sy bou weer die legkaart, vingers vol bloed gesny.
Eendag, lank van nou, sal jy dalk terugkyk.
Dalk is jy spyt, ek sal nooit weet.
Maar as die groener weivelde se droogtes kom, en dit sal.
Hoop ek jy onthou jou “dapper” daad.
Dalk doen jy dit weer, wie sal weet?
Vlug as die strop jou wurg.
Sy sal weer opbou, heg wat jy versplinter het.
Die kinders sal groot word met vae herinneringe van jou.
Ek hoop die verre behandel jou goed,
Want hierdie tuiste het genees sonder jou
Maar die gate in jou lewe sal jy altyd onthou.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Mari Esterhuyse se inskrywings appeared first on LitNet.