Ma se tuiste
Vanaf ’n plaas duskant Warmbad
al die paaie steeds grondpad
met twee poniesterte
alewig staan en tuur in die verte,
’n stofstreep oor my wang
’n kind se droom ... hoekom dan so bang?
Plaaskind tot tienermeisie
middelklas, oënskynlik gelukkig,
tussen verkeersligte en stadsverkeer,
steeds iewers is daar ’n ingedrewe wig
roem, goedkeuring of populariteit?
hoekom is alleenheid my enigste verweer?
Oral heen geswerf,
elke dorp gewaagd ... rooi gaan verf
maar die skadu van alleenheid
volg jou al is dit nou wêreldwyd.
Ek het herhaaldelik
’n tuiste probeer skep,
telkens opgepak en weggeloop
elke keer beland in ’n nuwe strik,
toegespin in my eie selfbejammerde web,
my hart leeg gestroop.
Net met alleenheid as my skaduwee,
al was dit ook in ’n huisie by die see.
Want later sou ek uitvind,
waar jy jou tuiste skep
is van minder belang
as die goeie herinneringe
van liefde en opofferings.
Ek was toe net ’n kind
vasgevang in ’n web
eensaam en bang
twee vlegsels met stringe
van lint
net so is Ma aan my hartjie gebind.
Want hier waar ek oor die vlaktes tuur,
weet ek waar ek is sal Ma se tuiste wees,
my verlange ’n verterende brandende vuur!
solank ek altyd die stofstreep
oor daardie bang
kind se wang
nooit afvee en vergeet van waar ek kom ...
sal ek altyd weet, dié is my huis.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Ma se tuiste appeared first on LitNet.