Dagsê Raed-na-Gael
Interessante stukkie geskiedenis oor die herkoms van jou skuilnaam, dankie.
Ek stem saam met jou; ek praat ook Afrikaans oral waar ek kan en slaan oor na Engels as die ander ou se Afrikaans meer geradbraak as my Engels is. Mens moet egter die storie fyn beskou want dit is moeilik om te onderskei of die ander party ewe trots probeer en of hy werklik sukkel. Ek het al taamlik afgehaal gevoel as ’n Engelssprekende vir my vertel ek kan maar gerus Afrikaans praat; nie gedink my Engels is só sleg nie. Dit gebeur egter bitter min want daar is al hoe minder Engelssprekendes wat Afrikaans kan praat.
Jy vra of dit uit beleefdheid is dat ons Afrikaanssprekendes oorslaan Engels toe in die openbaar. Nee, dit is nie uit beleefdheid nie, ook nie omdat ons kwansuis taalkundig beter aangelê is as wat Engelssprekendes is nie. Ons doen dit omdat ons laer op die taalvoedselketting is en ons het onsself daar geplaas. In ’n multitaal-opset soos in SA is die mees dominante groep daardie wat net hulle eie taal kan praat want dit is al wat hulle nodig het en, ipso facto, is die groep wat die meeste meertalig is daardie groep op die onderste skakel van die ketting. Ek sê ons het onsself daar geplaas want, soos Eleanor Roosevelt sê, daar is net een persoon wat jou minderwaardig kan laat voel en dis jyself.
Van Afrikaans-Engelssprekende huisgesinne het ek baie ondervinding, my familie wemel van hierdie goed. Meeste van hierdie se kinders is ten volle tweetalig behalwe hier en daar, waar hulle nie tweetalig is nie, is hulle Engels. Lyk my dit hang af wie eintlik die broek dra, want in sommige van hierdie gevalle is die ma Engels en in ander die pa.
Ek kan daardie program onthou waar die proffie gesê het daar nie ’n ding soos Standaardafrikaans is nie en hoe die omroepstertjie haar daaroor verkneukel het (alhoewel, ek moet sê, sy praat ’n baie goeie Standaardafrikaans). Ek kan ook onthou dat hy gesê het wat skryftaal betref is daar wel ’n Standaardafrikaans. Hoe gek is dit; waar sit die man se logika?
Die geveg om Afrikaans het lankal begin, die stryd om die behoud daarvan is egter voortdurend. Ek dink dus nie dit moet by RSG begin soos jy vra nie, maar instansies soos RSG en KykNET moet handhaaf en ’n voorbeeld stel (presies wat hulle NIE nou doen nie). En as almal, soos jy, Afrikaans praat waar hulle kan sal geen #RedAfrikaans of so iets nodig wees nie. Die feit dat Afrikaans so met rasse skrede agteruitgaan is net ons eie skuld.
Terloops, ek is so min ’n taalbul soos wat ek ’n steenkoolbul is omdat ek nie van kernkrag hou nie, of ’n renosterbul omdat ek ’n afkeer van renosterstropery het. Ek is soveel ’n taalbul as wat die Engelssprekendes, wat nie hulle taal meng nie, taalbulle is. Interessant dat, enigiemand wat in onderwerp of vakgebied X belangstel word nooit na verwys as ’n X-bul nie, selfs al is X ’n taal behalwe in die geval van Afrikaans; dan is jy nou ’n taalbul.
Ek twyfel of mens kan sê, soos jy beweer, dat iemand die taal tot hoogdrawendheid ‘ontwikkel’ het; daar is maar deur al die eeue heen en in alle tale variasies van die taal (aksente?) wat jou ‘plaas’ wat die sosiale leer betref. George Bernard Shaw se ‘Pygmalion’ was ’n treffer met juis hierdie as tema. Daar is wel mense wat aansitterig hoogdrawend is en, soos jy, lag ek ook in die mou vir hulle. Mens kry dit maar in alle tale. Edgar Whitehead sê dat enigiemand wat met ‘n ‘misty profundity’ praat is besig om die feit dat hy nie weet waarvan hy praat nie te verberg.
Hoe seker is jy die destydse minister van Bantoe-onderwys het Afrikaans afgedwing in skole; was daar maar nie net bepaal dat net sekere vakke deur Afrikaansmedium aangebied moes gewees het nie? Hoe dit ook al sy, Afrikaans se gewildheid onder die swartes kon die nekslag toegedien gewees het maar beslis nie Afrikaans self nie; Afrikaans was in elk geval reeds kwaai onder Engelse aanslag en glad nie gewild onder swart skoliere nie – die Engelse pers het die doringboompie daar behoorlik plat getrap.
Wat wel ’n fout was, en terselfdertyd ’n helse skande, was die afdwing van tweetaligheid by ontvangspersoneel by hotelle en dies meer; dit kon nie anders as om ’n renons in Afrikaans by ’n groot groep mense te bewerkstellig nie. Die skande kom daarby in dat so ’n regulasie hoegenaamd nodig was; dat Afrikaanssprekendes so slapgat was dat hotelle en ander instansies wat graag hulle geld gevat het, dit nie nodig geag het om tweetaliges aan te stel nie want die Afrikaners het maar ewe gedwee Engels gepraat. Waar tog is nog ’n nasie so gedienstig en gedwee soos ons klomp Afrikaners?
Jou vraag “Wie in die wêreld gaan Afrikaans tot hulp wees?” verstaan ek nie mooi nie; ek neem aan jy bedoel VIR wie. Wel, die antwoord dan is natuurlik vir die Afrikaanssprekende, net soos Pools vir die Pool of Japannees vir die Japanner. Jy volg op met ‘vir die “Afrikaner”’. Ek volg nie mooi nie; en hoekom is Afrikaner in aanhalingstekens?
Ek kan nie sien hoe jy sê ” ... eeueoue inheemse tale is van die tafel afgevee ten gunste van ’n amptelike een “gebore” in 1925” nie. Hoekom “gebore” in 1925; die datum toe Afrikaans ’n amptelike taal geword het? As dit die geval is dan sou enige van die “eeueoue” tale ook mos dan eers “gebore” gewees het sou een van hulle in plaas van Afrikaans ’n amptelike taal geword het. Afrikaans self is ook ’n eeu of wat oud en het anders as Engels, geen ander tale verdring nie.
Buitendien, op watter stadium moes hierdie eeueoue ander tale amptelike tale geword het; hoe het Afrikaans hierdie tale van “die tafel afgevee”? Daar is oor die 2000 tale in Afrika en Suid-Afrika het seker so 20. Van hierdie tale was wel amptelik op ’n stadium (die onafhanklike state in die vorige bedeling het hulle eie taal plus Engels as amptelike tale gehad) maar in die NSA is daar net een amptelike taal en dit is Engels (ek dink nie daar is enigiemand naïef genoeg om te dink ons het 11 amptelike tale nie).
Die ander tale het nou ’n skrale kans op oorlewing. Afrikaans, byvoorbeeld, is ontneem van sy hoër funksies (die ander inheemse tale sou noodwendig hierdie funksies ontwikkel het sou hulle amptelike tale gewees het). Elke taalgroep moet nou maar vingertrek om sy eie taal lewendig te hou, miskien vandaar al die “Afrikanerbewegings, -partye, -kultuurorganisasies en wat nog” waaroor jy so kla. Eienaardig, die swartes stel geensins belang daarin om soortgelyke aksies ten opsigte van hulle tale te loods nie; hulle is heeltemal tevrede met die Engelse oorname. Trouens, die regering is die instansie wat Engels so stoot en openlik vyandig teenoor Afrikaans is.
Die arme Afrikaner, oor die algemeen, is al so selfbewus en sensitief oor juis hierdie feeste “n wat nog” dat al hierdie goed, hierdie feeste en dinge, ook begin verengels; dit moet nou “inklusief” wees. Dit lyk my daar word nou verwag van die Afrikaanssprekendes om vir alles wat hulle vir Afrikaans doen ook vir al die ander tale te doen. Hulle blyk ook gewillig te wees om dit te doen, dit sou nou polities korrek wees. Waar tog o waar is nog ’n volk so gedienstig en gedweë soos ons? Terloops, en ironies genoeg, die moontlikheid is daar dat juis Afrikaans verhoed het dat die ander tale (behalwe Zoeloe) “van die tafel gevee” word – die Zoeloes was stelselmatig besig om die ander volke te “eet” soos hulle dit genoem het.
Gegroet swaer
Jan Rap
.
The post Raed-na-Gael se doringboompie appeared first on LitNet.