Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Koos Roets, ’n onderhoud

$
0
0

Die kinematograaf, draaiboekskrywer, regisseur en rolprentvervaardiger Koos (Mathys Jakobus) Roets word 75 (gebore 7 Januarie 1943). Hy het sy loopbaan in 1962 as assistentkameraman op die stel van Jamie Uys se Lord Oom Piet begin. Dit is 55 jaar – en 150 produksies - later. Sy werk is al 35 keer vir toekennings benoem; hy het 33 daarvan gewen. Sy jongste rolprent, Hoener met die rooi skoene, ’n komedie-riller, draai nou landwyd in teaters.

Die storie ontvou só: Terwyl Bonnie van der Byl, ontvangsdame van die bekende Du Toit de Waal-Teateragentskap, laatmiddag lustig voortklets op haar kantoorfoon terwyl ’n storm buite opsteek, strompel haar suksesvolle, maar ongewilde, baas, die impresario Du Toit de Waal, met ’n mes in die rug die ontvangslokaal binne. As Bonnie ná haar floute bykom, is die lyk weg en kaptein Hendrik Greyling, die Ysterhaan, word ingeroep – siek met griep! In dié koorsige toestand bevind hy hom op ’n ongewone moordtoneel met die lyk wat spoorloos verdwyn het ... Hieruit, teen die agtergrond van ’n kafoefelry en verdenkinge, chaos, verwarring en allerlei kinkels, volg die ontrafeling van geheime, terwyl die raaisel verdiep …

Koos en die akteurs belowe: “Dis nie grillerig en bloederig nie; dis slim, dis fyn, dis vermaaklik, amusant en tot aan die einde onvoorspelbaar en verrassend ...”

1. Loopbaanoorsig

Nadat Koos as assistent aan verskeie dokumentêre en vollengte-rolprente ondervinding opgedoen het, het hy as ’n kamera-operateur begin opgang maak en aan internasionale rolprente by SA Film Studios gewerk.

In die sestigerjare het SA Film Studios nou saamgewerk met die Britse rolprentbedryf. Gevolglik het Koos die geleentheid gekry om saam met uitstaande kameramanne soos Irvan Hillier, Dennis Coop, Ray Sturgess en Freddy Young van Lawrence of Arabia-faam te werk. Dit het hom blootgestel aan die Britse werkswyse, die protokol en etiket op ’n internasionale filmstel.

In 1969 het hy sy eerste fliek, die bekroonde Die geheim van Nantes, verfilm. Nadat hy, tot groot lof van die media, meer as ’n dosyn rolprente binne ’n kort tydperk verfilm het, het hy as regisseur vir televisie en film begin werk.

Sy liefde vir die kamera het verseker dat hy gereeld betrokke was by kamerawerk, en hy kon daarom tred hou met tegnologiese ontwikkelinge op dié gebied.

Tydens die vervaardiging van die internasionale film Brutal Glory in 1986, waarvan hy die regisseur was, het hy drie maande by Pinewood Studios in Brittanje deurgebring en daar geleer hoe om met ingewikkelde stereo-Dolby-klankbane te werk.

As ’n regisseur en kinematograaf het hy dikwels in Super 16, 35 (Arriflex, Moviecam en Panavision) gewerk, en deesdae in die digitale formaat.

Koos beskik oor die vermoë om met gemak te wissel tussen die aksiebelaaide en glansryke Amerikaanse styl en die atmosferiese, stadigbewegende Europese styl (wat hy verkies), wat hy ook op kommersiële en korporatiewe produksies toepas. Die rolprent Brutal Glory is ’n tipiese voorbeeld van hoe hy aksietonele hanteer, terwyl Manakwalanners, Koöperasiestories en Faan se Trein voorbeelde van sy atmosferiese werk verteenwoordig.

Hy het verskeie gesogte toekennings as kinematograaf ontvang, insluitend die Kodak Spektrum-, Rapport Artes-, Star Tonight-, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns-, M-Net Vita- en ATKV-toekennings, asook die SASC-toekenning vir ’n Leeftyd in Uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

Hy was die medeskrywer van die bekroonde en finansieel suksesvolle rolprent Faan se Trein, en het toekennings vir beste regisseur, beste draaiboek en beste rolprent by die 2013 kykNET Silwersermfees gewen.

’n Pawpaw vir my Darling is in Januarie 2016 uitgereik, en soos reeds hier bo genoem, draai sy mees onlangse fliek, Hoener met die rooi skoene, nou landwyd.

2. Onderhoud met Koos

Alles het ’n nostalgiese begin met blywende herinneringe. Vertel asseblief iets van jóú agtergrond?

My pa was ’n ewige student en toegewyde onderwyser by onder meer Athlone Boys’ High en Helpmekaar-meisieskool in Johannesburg. Hy was ook atletiekafrigter van suksesvolle atlete; onder andere die hoogspringer Petra Kompan. My ma was aanvanklik die sekretaris van Johannesburg se stadsgesondheid en was later die koördineerder vir oorklanking by my en my broer Hannes se maatskappy Pendulum Films.

My pa was ook die koshuisvader by die Charlotta Theron-kinderhuis op Bethlehem. Frank Opperman (die akteur) se pa was een van die weeskinders. Hy het een aand ’n ou gloeilamp met water gevul en dit toe voor ’n kers gehou. Die patrone wat dit teen die muur gegooi het, het my so beïndruk dat ek dadelik my eerste projektor van ’n Post Toasties-kartondoos gebou het.

Later het ek strokiesprente op aftrekpapier geteken en dit vir die ander kinders in die studiesaal vertoon. Hulle het geen ander keuse gehad as om te kom kyk nie! Dit was aan die begin nie regtig gewild nie, maar toe my ma begin fudge uitdeel, het meer mense kom kyk. Ek het vroeg vasgestel fliekgangers kan nogal wispelturig wees! Weens die feit dat die projektors van Post Toasties-kartondose was, het dit een aand agv die warm gloeilamp vlamgevat en byna tot groot konsternasie tot ’n brand in die studiesaal gelei!

In my standerd 6-jaar het ons gesin Kestell toe verhuis. Hier het ek my eie tekste begin skryf en kort speelfilmpies op ’n vriend se 8 mm-kamera gemaak. My tannie Katie het vir my ’n pond gegee. ’n Werker het my oorreed om op ’n perderesies te wed. Die perd, Malicious Pride, het gewen – en ek het genoeg geld gehad om my eerste Kodak Brownie 8 mm-kamera te koop en het Bosveld-filmproduksies begin. Ek het steeds daardie kamera! Ek het toe geld verdien deur troues en begrafnisse te verfilm. Dit het vir my genoeg inkomste verdien om ’n 16 mm-klankprojektor te kon koop sodat ek Vrydag- en Saterdagaande vertonings in Kestell se stadsaal kon aanbied. Ek móés eenvoudig ʼn rolprentmaker word!

Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf het sedertdien ingrypende veranderinge ondergaan, of hoe?

Die ingrypendste is sonder twyfel die oorskakeling van film na digitaal! Weens die bekostigbaarheid van digitale filmvervaardiging het enigiemand nou toegang tot die maak van films. Dit het egter ook die nadeel dat die mark oorspoel word met films waarvan die gehalte nie altyd op standaard is nie.

Hoe vergelyk die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf met sy oorsese eweknieë?

Ná deeglike ondervinding in die sestigerjare in Brittanje het ek in 1996 na Australië verhuis om die bedryf daar te betree. Daar het ek ook dan die gesogte ACS- (Australian Cinematographers Society-) akkreditasie ontvang. Dit word streng op meriete verdien en van die duisende lede wat aan die organisasie behoort (wat in die 1960’s gestig is), is daar slegs enkeles wat dié voorreg te beurt val. My nommer is maar 172! Ek voel geëerd en beskou dit nogal as ’n hoogtepunt in my loopbaan. Dit word aanvaar dat die Suid-Afrikaanse tegnici van die beste in die wêreld is. Ons televisie kan die Australiërs ’n punt of twee wys en deesdae is ons rolprente ook op hulle hakke. Die Australiese filmbedryf is aan die Amerikaanse bedryf gekoppel en daar is ’n noue samewerking tussen die twee. By implikasie beteken dit baie beter verspreiding en dus heelwat groter begrotings!

Jy is ’n draaiboekskrywer, ’n regisseur, ’n kamera- en beligtingstowenaar en vervaardiger. Wat verg dit en wat is die uitdagings van dié onderskeie ambagte? Wat is die verskille en ooreenkomste in jou benadering en wat is die deurlopende, bindende faktor? En wanneer weet ’n mens of een of meer van daardie elemente geslaagd is?

Wat ’n moeilike vraag! Ek het my loopbaan by Jamie Uys begin en ek het maar gedink dit is hoe mens films maak! Behalwe bogenoemde, moes ek ook toilette kon regmaak, kinders oppas, stelle bou, in die klank- en redigeringafdelings werk, motorbestuurder wees; en as daar nie ’n produksie aan die gang was nie, moes ek van diens wees in die laboratorium wat vir die ontwikkeling van die film verantwoordelik was! Dit was maar ’n soort lewenswyse.

Om terug te kom by jou vraag. Die storie is die belangrikste element. Dis die deurlopende, saambindende faktor – ’n goeie storie en om daai storie visueel en filmies so goed as moontlik te vertel. Dit begin by ’n goeie teks en om al die elemente van filmmaak in te span om dit te kan verwesenlik – én om uiteindelik met die redigering die vloei en ritme van die film te behou. Alles staan in diens van die storie, en selfs mooi prentjies sal nie help as die storie maar vaal is nie. En nooit sal ek Jamie Uys se les uit die oog verloor nie: Moet nooit die groot E (vir “entertainment”) vergeet nie!

Wat beskou jy as jou beste, bevredigendste werk?

Dit moet Faan se Trein wees – omdat dit ’n droom was wat lank geneem het om te verwesenlik. Ek glo dit was die saamkom op die regte tyd van die heel beste wat ek kon bied en ook ’n fantastiese groep akteurs en filmspan wat dieselfde entoesiasme en visie gedeel het.

Wat is die waarde van toekennings?

Geen mens kan in isolasie skep nie. Iemand moet dit tog sien en ervaar, en as die belewenis positief is, voel mens dat jou werk tog relevant is. Die erkenning van toegewyde, harde werk is tog op alle gebiede ’n motivering om te bly skep; om grense oor te steek.

Ná dié tydlose werk kies jy toe ’n heel ander genre.

Ek het gevoel dat die hele wêreld in so ’n ellendige gemors is dat dit tyd is om ’n bietjie te lag en te ontspan! Dat swaarwigtigheid nou tot die nuusmedia en boeke oor hierdie relevante onderwerpe beperk moet word. Prikkel liewer die kyker se nuuskierigheid en sy lagspiere … én maak hom ’n keer of wat goed skrik!

3. Hoener met die rooi skoene

Geïnspireer deur ’n oorspronklike Franse teaterdrama, het Koos die suksesvolle rolprent Babbelkous in 1971 verfilm, waarin die bekende Suid-Afrikaanse akteurs Katinka Heyns en Tobie Cronjé hulle in die rolle van Anne Parker en kaptein Hendrik Greyling onderskei het.

In 2016 het hierdie film steeds in Koos se kop bly maal – bloot omdat die storie om velerlei redes vandag steeds relevant is en al die elemente bevat om ’n kyker vir 90 minute voor die silwerskerm vasgenael te hou. ’n Greep uit die lewe van ’n op die oog af skreeusnaakse, moordbehepte, praatsieke ontvangsdame van ’n baie suksesvolle teateragentskap wat haar skielik midde-in die chaos van ’n moord of twee bevind ... en dan self speurder probeer speel en terselfdertyd ook met ’n karakter uit haar verlede gekonfronteer word. In hierdie skreeusnaakse spanningsvolle riller-komedie is daar ook op subtiele wyse die dieperliggende patos van ’n eensame vrou wat saans met slegs haar papegaai huis toe gaan ...

Koos het hom nog altyd aangetrokke gevoel tot die humor sowel as patos in karakters en stories en hy het gevoel dat hy dit in hierdie rolprent verder kan ontgin. Hy het die oorspronklike draaiboek herskryf en die uitdaging aangepak om deur dialoog die karakters verder uit te bou en ’n fyn balans tussen humor, spanning en patos in te bou om die verhaal groter impak te gee.

Die rolverdeling

Hoofrolle en ondersteunende rolle is ewe belangrik. Daar is akteurs wat ek lank ken en wie se vermoëns, hul emosionele reikwydte en stilspel (wat soms onder ’n emmer weggesteek is) ek deeglik van bewus is. Intelligente akteurs weet wat die rol vra en kan ook die regie wat hul in dié verband ontvang, snap. Soms sien ek hulle in my geestesoog as ek ’n teks skryf, maar soms is dit moeilik om die regte akteur in die hoofrol te plaas. Dan doen ons maar toetse waaroor daar lank gewik en geweeg word. Uiteindelik hang dit van die dinamika, die tydsberekening tussen die akteurs onderling in tonele af, wat nie altyd voorspelbaar is nie.

Ek was oortuig dat Lizz Meiring (die lawwe, oujongnooi-ontvangsdame), Louw Venter (die grieperige, iesegrimmige, konsensieuse kaptein Hendrik Greyling) Deon Lotz (die flambojante impresario) en André Weideman (die verstrooide konstabel Mickey Mentz) almal rég lyk vir die rolle en oor tonne talent, intelligensie en goeie tydsberekening beskik om reg aan die karakters te laat geskied. Die ander spelers – Lida Botha, Dorette Potgieter, Laré Brink, Geon Nel, Flip Theron, Jacques Theron, Francois Coetzee en Machiel Roets (wat ook die klankbaanmusiek gekomponeer het) – pas hul karakters soos ’n handskoen en spesiale verskynings deur Anton Goosen en Solly Philander dra by tot die realisme van die bedryf waarin die De Waal-teateragentskap gedompel is.

Wat die produksie betref, het jy die potensiaal gesien om te waag en die rolprent in twee weke in die Karoo-dorpie, Klaarstroom, te skiet. Wat was die uitdagings?

Ons het uiteraard nie ’n baie ruim begroting gehad nie en ek het die stuk juis gekies omdat dit oorwegend op een stel plaasvind. Sodoende kon ons dit in ’n kort tydperk skiet sonder om af te skeep en produksiewaarde te verloor. Elke sent tot ons beskikking kon ons op die doek sit, eerder as om dit op duur verblyf- en reiskoste te spandeer.

Die kerksaal was die ideale lokaliteit vir die kantooropset wat in die storie verlang word, en ’n bekwame plaaslike skrynwerker het die stel gebou. Danksy die samewerking, die ruimhartigheid en die entoesiastiese, positiewe betrokkenheid van die plaaslike gemeenskap sowel as ’n professionele, toegewyde en lojale filmspan en akteurs is die Hoener-wa wel deur die drif getrek.

Is jy tevrede met die resultaat of sou jy dinge anders wou gedoen het?

As alles verby is, en dit te laat is om iets te verander, wil ek gewoonlik alles oorskiet! Klein goedjies wat nie 100% is nie, laat jou rondrol … maar dis te laat. Ek dink dit is maar normaal by alle filmmakers! Ek dink tog die rolprent werk en ek is tevrede daarmee.

Die resensente verskil egter. Party meen dit is ’n aangename verrassing; ander beskou dit selfs as ’n verleentheid …

Ja, dis nou vir jou ’n netelige sakie. Konstruktiewe kritiek het waarde, ja. Hang natuurlik ook af van wie dit kom. En dan is absolute objektiwiteit ’n voorwaarde. Afbrekende kritiek sonder goeie insig en oordeel kan mens soms ontstel, maar ek staan nie daarby stil nie. Daar’s nie tyd daarvoor nie. Ek steur my aan geregverdigde en grondige kritiek en ek is dankbaar vir positiewe kritiek.

Wat is die bedryf se ergste tekortkominge?

Te veel rolprente met ’n te beperkte afsetgebied. Ons sal om verskeie redes moeilik in die Amerikaanse of Engelse kringloop kan inbreek, maar die Benelux- en Skandinawiese lande is dalk ’n opsie. Dit sal groter inkomste beteken, beter begrotings en dus beter rolprente. Ons het iets unieks in Suid-Afrika en ons moet hierdie unieke eienskappe bemark. Unieke stories wat op ons eie interessante manier vertel word, maar wel ook universele slaankrag het.

Hoe beloer jy die toekoms van die Suid-Afrikaanse en, veral, die Afrikaanse rolprent?

As ons beter verspreiding kan beding, is daar geen perke nie! Die ongelooflike nuwe plaaslike talent verdien om hul werk oor ’n breër front sigbaar te kry. Ek betrap myself soms dat ek wonder hoe lank konvensionele filmteaters nog sal voortbestaan en watter invloed die internet en selfone in die afsienbare toekoms op die vervaardiging en formaat van films sal hê.

Wat wink nog vir jou loopbaangewys op die horison?

Ek beplan ’n rolprent met die naam Donkie-got, wat sal handel oor die bekende Don Quichot van die Spaanse skrywer Cervantes, maar in ’n meer kontemporêre formaat. Die teks is reeds voltooi en ons hoop om Juniemaand in produksie te gaan.

Effe persoonlik, maar as jy my dit sal vergun? Jy het Katinka Heyns in 1969 ontmoet tydens die verfilming van Jans Rautenbach se grensverskuiwende rolprent Jannie totsiens. Jy het haar mentor agter die skerm geword ten opsigte van kamerawerk en beligting. Julle trou in 1971, jul seun Reghard word in 1973 gebore, Katinka speel in die fliek Eendag op ’n reëndag (met Jans as regisseur en jy betrokke by die produksie en draaiboek). Julle stig Sonneblomfilms in 1975 en lewer ook briljante werk met die koms van televisie. Maar toe loop iets skeef, julle skei en Katinka en Chris Barnard trou in 1978. Tog het julle professionele verhouding voortgegaan – joune, hare en haar nuwe man s’n. Daar was die rolprente Fiela se kind, Die storie van Klara Viljee, Paljas en Die wonderwerker met Katinka as regisseur, Chris as draaiboekskrywer en jy as beligtingskameraman. Paljas, wat in 1998 verskyn het, was die eerste Suid-Afrikaanse rolprent in die geskiedenis wat benoem is vir ’n Oscar-toekenning in die afdeling beste buitelandse rolprent. Trotse oomblikke! Hoe is dit moontlik dat julle ná ’n egskeiding jul werksverhouding kon voortsit? Het julle vriende ook gebly?

Ons het besef dat ons goeie vriende is, maar nie ’n goeie egpaar nie! Om ’n waardevolle vriendskap te behou, het ons besluit om elkeen sy eie pad te gaan. Respek vir mekaar se ruimte en talent het die deurslag gegee. Ons werksverhouding is hoegenaamd nie negatief beïnvloed nie en ons is tot vandag steeds baie goeie vriende. En ek en Chris was ook goeie vriende!

Jy woon in ’n Victoriaanse huisie in die dorpie Klaarstroom aan die noordelike voetheuwels van die Swartberge naby Meiringspoort in die Karoo, waar jy die rustige ruimte geniet om te skryf en tyd met jou diere en die liefde van jou lewe deur te bring. Is dit suurstof vir kreatiwiteit?

Die omgewing, my diere en my lewensmaat is gewis! Miekie is ’n worshond van byna 13 en het vandat hy agt weke oud is elke dag saam met my stel toe gegaan. Hy het nou afgetree, bly bedags by antie Magriet en geniet groter bekendheid in die filmbedryf as wat ek maar ooit van kan droom. Hy dink daaraan om sy memoirs te skryf.

Dan is daar Karel, die schnauzer, die hardegat groot kokkedoor met ses grade van die Universiteit van Rietbron. Hy moet al my tekste keur en dring gewoonlik aan dat daar ’n ninja- en ’n jaagtoneel ingesluit moet word. Willemientjie is die jong worshondjie, en sy het ’n passie vir goue hoëhakskoentjies en groen tenktoppies. Sy skryf gedigte en is nogal lief vir jazz. Dan is daar drie katte: Faantjie, die suurgat, Georgina, die nar, en Zachie, die boemelaarkat.

Eunice Visser is die liefde van my lewe. Sy is ’n gebore Namibiër en ’n kunskenner. Sy is sekerlik een van die beste tuiniers in die Karoo. Sy het ons dorre agterplasie in ’n lushof omskep en my nuwe redigeringskamertjie is deel daarvan. Sy is eintlik ’n gefrusteerde boervrou en sou baie graag eerder donkies, bokke en ’n lusernland wou hê as ’n duur motor of fancy klere. Ons is nou vyf jaar bymekaar en ek moet sê ek het nog nooit ’n beter maat gehad as sy nie! Sy is sekerlik ook een van die beste produksie-ontwerpers met wie ek nog saamgewerk het en het die stelle van Pawpaw vir my Darling en Hoener met die rooi skoene ontwerp. Sy doen ook die redigering van my tekste en staan my oor die algemeen by in die verwesenliking van my drome. En sy bak ook die beste scones in die Karoo!

En wat is jou drome, wense en versugtinge as mens?

Ek word 75 en sal baie graag die laaste paar jaar hier in rus en vrede met Eunice wou deurbring, terwyl ek my met skryfwerk en die restourasie van ou klassieke motors besighou. Ek het egter nog ’n hele paar tekste wat ek baie graag sou wou verfilm. My enigste hartseer is dat my vriend Jans Rautenbach oorlede is voor ons sy finale droom kon verfilm. Dit sou die kroon op ons 55 jaar lange samewerking span …

The post Koos Roets, ’n onderhoud appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>