Regie en draaiboek: Kenneth Lonergan
Spelers: Casey Affleck, Michelle Williams, Kyle Chandler, Lucas Hedges, Gretchen Mol
Hierdie grys, hartseer film is ’n tragedie in die klassieke Griekse sin van die woord, waar die protagonis deur ’n sameloop van die wrede noodlot en ’n fatale karakterfout neergevel word.
Die gevalle held, Lee Chandler (Casey Affleck), is opsigter en nutsman by ’n woonstelblok in Boston. Hy leef en werk daagliks in ’n feitlik katatoniese staat en wys enige toenadering van ander mense af, behalwe as hy ná ’n aand se drinkery doelbewus ’n kroeggeveg uitlok. Deur terugflitse kry die kyker insae in sy vorige, gelukkiger lewe, toe hy nog ’n vrou (Michelle Williams) en kinders gehad het.
Wanneer Lee die nuus kry dat sy ouer broer, Kyle Chandler, sterwend is weens ’n jare lange hartprobleem, word hy gedwing om terug te gaan na sy tuisdorp, Manchester, en die skokkende ontdekking dat sy broer hom benoem het as voog vir Patrick (Lucas Hedges), sy vyftienjarige seun.
Die Engelse “bleak” is die woord wat hierdie film ten beste beskryf. Dis kleurloos en uitsigloos – ’n briljante studie in onderbeklemtoning van begin tot einde. Die slot bring ’n sprankie hoop, maar ook niks meer as ’n sprankie nie. Hoe jy ook al daarna kyk, verlies is bitter en die lewe meermale ’n tragedie.
Hopelik sal Casey Affleck met hierdie film die erkenning kry wat hom al sedert Gone baby gone (2007) toekom. Ook Michelle Williams is indrukwekkend, en Lucas Hedges is ’n vars jong talent om dop te hou.
As vermaak jou voorvereiste vir ’n aand in die teater is, vermy hierdie een. Vir ernstige fliekkykers is dit egter verpligtend.
Sterre: 4½
The post Filmresensie: Manchester by the sea appeared first on LitNet.