Die Tromsø Internasionale Filmfees begin op die dag in Januarie wanneer ’n mens weer die son bokant die horison kan sien. Dit is die einde van die lang noordpoolnag, wat in November die vorige jaar begin het. Tydens my besoek vanjaar is die terugkoms van die son met vuurwerke gevier. As dit nie bewolk is nie, is die eerste sonlig op 15 Januarie vir ’n kort tydjie sigbaar. Sonsopkoms is teen halftwaalf in die oggend sigbaar, maar teen halfeen begin dit weer skemer te word. Die dae word stadig langer totdat die stad in Junie en Julie 24 uur sonlig het danksy die middernagson.
Die gebrek aan sonlig het my as filmliefhebber nie veel gepla nie. Ek was ’n gas by die filmfees. ’n Mens is daaraan gewoond om lang tye in die donkerte van rolprentteaters deur te bring! Ek het aan die aktiwiteite van die Fipresci-jurie (die internasionale federasie van filmkritici) deelgeneem en na 12 rolprente in die hoofkompetisie gekyk.
Tromsø het ongeveer 70 000 inwoners. Die bywoning van die filmfees in 2016 was indrukwekkend: 60 619 kaartjies is verkoop. Die fees het 26 miljoen Noorweegse krone vir die ekonomie ingebring. Dit is ongeveer R42 miljoen! Die fees is om verskeie redes ’n baie belangrike platform. Dit is ’n omvattende blik op die internasionale filmkuns. Dit bied ’n kans vir Noorweegse rolprentmakers om hul nuwe werk te vertoon. Daar is ’n gedeelte met rolprente uit die streke bokant die noordpoolsirkel, vanaf Kanada tot Rusland. Die fees bied hierdie regisseurs ’n kans om met befondsers te gesels om toekomstige projekte aan te bied. Die fees slaag ook daarin om filmbedryfwerkswinkels, seminare en retrospektiewe naatloos te integreer – die ideaal van enige rolprentfees.
Die 12 rolprente wat ek moes beoordeel, was besonder sterk. Swaargewigte soos regisseur Cristian Mungiu het reeds jare gelede die Goue Palm vir 4 Months, 3 Weeks and 2 Days (2007) gewen. Sy nuutste film, Graduation (2016), het die Fipresci-toekenning ontvang. Dit is ’n meesterlike ontleding van korrupsie in Roemenië. Mungiu gebruik lang skote om na die sosiopolitieke gebeure te kyk. Die benadering is verstommend. Hy was by die fees betrokke om ’n seminaar oor sy werk te lewer.
Vir my was ’n film uit Ysland die hoogtepunt van die fees. Die regisseur Guðmundur Arnar Guðmundsson se Heartstone (Hjartasteinn, 2016) speel in ’n afgeleë vissersdorp in Ysland af. Þór en Kristján is die hoofkarakters. Hulle is tieners en bring die somerdae saam deur. Die band tussen hulle is baie heg. Aan die begin van die verhaal blyk Kristján die leier van die groep te wees. Hy is gewild onder die meisies. Die film is ’n sensitiewe uitbeelding van tienerseksualiteit en die emosies, wat daarmee gepaard gaan. Wanneer Kristján sy gevoelens teenoor sy vriend begin wys, raak dinge buite beheer. Die gemeenskap begin Kristján te verwerp. Dit is pynlik om te aanskou. Die regisseur verbeeld ’n patriargale samelewing waarin daar weinig plek vir die niekonformiste is. Wat die film bo soortgelyke films laat uitstaan, is die komplekse uitbeelding en ’n briljante gebruik van landskappe.
Daar was talle ander hoogtepunte in die kompetisiegedeelte van die fees: Jee-woon Kim se The Age of Shadows (2016), ’n visueel briljante uitbeelding van die Koreaanse weerstandsbeweging gedurende die jare twintig; die Poolse film The Last Family (2016), wat die verhaal van ’n gesin oor drie dekades in ’n veranderende Pole verbeeld; Pablo Larrain se Neruda (2016), ’n elegante werk oor die digter Pablo Neruda, en die Turkse drama My Father’s Wings (2016), ’n skrynende uitbeelding van die uitbuiting van konstruksiewerkers.
Buite die hoofkompetisie was daar ander juwele: Nils Gaup se klassieke epos Pathfinder (1987) is as ’n stilfilm vertoon. Die klankbaan is deur musikante uit Noorweë en Rusland in ’n konsertopvoering voorsien. Daar was ’n retrospektief van Christian Mungiu se werk. En ’n mens het die voorreg gehad om Paul Verhoeven se Elle (2016) te sien, waarin Isabelle Huppert een van haar grootste vertolkings lewer.
Ook twee Noorweegse rolprente het uitgestaan: Pyromamen (2016), oor ’n jong brandweerman, wat ook ’n brandstigter is; en Kongens Nei / The King’s Choice (2016), ’n epos oor die Nazi-besetting van Noorweë in die jare veertig. Die Noorweegse filmkuns beleef ’n oplewing en danksy meer kaartjieverkope blom die filmkultuur in die land. Anders as in Suid-Afrika is daar ’n politieke wil aan die kant van die Noorweegse regering om hul filmmakers en filmfeeste te ondersteun. Die Tromsø Internasionale Filmfees is tans die grootste filmfees in die land en spog met ’n indrukwekkende internasionale bywoning. En wat kaartjieverkope betref, is dit groter as ’n kombinasie van al die Suid-Afrikaanse filmfeeste op die oomblik. Nie sleg vir ’n stad met net 70 000-plus inwoners nie!
Die fees het ’n opelugteater, die sogenaamde Winter Screen. Ek het nie van die unieke geleentheid gebruik gemaak nie, want temperature het van 1 grade Celsius tot minus 4 gewissel. The Heart of a Dog (2015) is daar vertoon en hondeliefhebbers is genooi om hul troeteldiere na die vertoning te bring.
Die wildernissentrum is ’n hoogtepunt van die fees. Jurielede word genooi om op ’n sleerit te gaan. Buite die stad is ’n huskieplaas met 350 honde. Dit was ’n onvergeetlike ervaring en die foto’s hierby vertel meer as woorde.
Dit is maar net een van die aktiwiteite wat die Tromsø Internasionale Filmfees ’n besonderse ervaring maak. Die toegesneeude stad met sy ryk kultuuraktiwiteite en ’n wêreldklas filmfees is ’n besliste moet op enige filmliefhebber en reisiger se spyskaart.
Foto's: Martin Botha (tensy anders vermeld)
The post Bevrore landskappe en bewegende beelde: die Tromsø Internasionale Filmfees appeared first on LitNet.