Die verhaal van Heinrich Schliemann se ontdekking van Homerus se Troje waar die Trojaanse Oorlog hom afgespeel het in die 12de eeu vC (tradisioneel 1193 tot 1184 vC), lees soos ’n roman. Hierdie oorlog word deur Homerus in die 9de eeu vC beskryf in sy Ilias, ’n epos van 15 693 reëls in die heksameter-versmaat. Die verhaal lees nog meer soos ’n sprokie as ons dit verbind met die huwelik tussen die veel ouer Heinrich (47 jaar oud) en die beeldskone jong Sophia Engastromenos (17 jaar oud) van die Griekse bodem self, kort voordat hy met sy opgrawings by Troje begin het. Dit vorm een van die wêreld se mees aangrypende argeologiese verhale, te meer nog omdat dit deur louter intuïsie en verbeeldingryke romantiek geïnspireer was. Die uitgebreide ruïnes van Troje in Noordwes-Turkye, soos dit deur dekades heen deur verdere opgrawings blootgelê is, kan vandag in omvang alleen vergelyk word met dié van Karnak (Luxor) aan die regteroewer van die Nyl in Egipte met sy Amontempel en die groot hof van Ramses II en Ramses III.
’n Arm Duitse jonge word vroeg ’n skatryk man
Heinrich Schliemann is op 6 Januarie 1822 op die dorpie Neubukow in Mecklenburg-Schwerin in Oos-Duitsland (destyds Pruise) gebore as een van die ses kinders van ’n arm en eenvoudige lutherse pastor, Ernst Schliemann, en sy vrou, Luise Therese Sophie. In 1823 het die familie Schliemann verhuis na Ankershagen – vandag omskep in ’n museum vir Heinrich Schliemann (wat op webwerf besoek kan word). Heinrich se volle doopname was Johan Ludwig Heinrich Julius Schliemann. Toe Heinrich se moeder in 1831 sterf, was hy maar nege jaar oud, en hy het baie getreur oor sy moeder se dood.
Met die Kersfees van 1829, toe Heinrich maar sewe jaar oud was, sou sy pa hom egter verras met ’n eksemplaar van Georg Ludwig Jerrer se Die Weltgeschicht für Kinder, ’n ensiklopedie van 709 bladsye. En daarin het hy ’n afbeelding gesien van Troje wat in vlamme staan ná die inname daarvan deur die oud-Griekse Achaioí, oftewel Achajers. Hy het gesien hoe Aeneas (oer-vader van die Romeine, Aineías by Homerus) besig was om te vlug voor die vlamme met sy bejaarde vader, Anchises, op sy rug en sy seun, Ascanius, aan sy hand, terwyl hulle nog ook steeds vashou aan die beelde van die huisgode van hulle gevalle stad. Dit alles het Heinrich so reëel gefassineer dat hy dat gedink het die verhaal van Homerus in sy Ilias, waaruit hierdie storie kom (en ons weet vandag ook Vergilius se epos die Aeneïs, wat min of meer begin wat Homerus se Ilias eindig) werklik moes plaasgevind het en nie net ’n blote digterlike versinsel is nie (soos baie geleerdes van die dag dit wel aanvaar het ). En net daar het Heinrich besluit om eendag te gaan bewys dat die verhaal van Troje tog ’n werklikheid was.
Toe Heinrich se moeder gesterf het, het sy vader met sy eie huisbediende getrou, en Heinrich oorgelaat aan die sorg van ’n oom van hom. Toe hy elf jaar oud was, het sy vader hom by ’n gimnasium in Neustrelitz ingeskryf. Maart toe Heinrich se vader in ’n finansiële verknorsing beland (hy sou kerkfondse verduister het), is hy na ’n Realschule oorgeplaas waar hy onderrig kon ontvang vir ’n praktiese beroep van sy keuse. In 1836 moes Heinrich dit ook laat vaar omdat sy vader dit nie langer kon bekostig het nie. Heinrich het vroeg reeds tekens van briljantheid getoon, maar universitêre opleiding was helaas vir hom uitgesluit. Toe hy 14 jaar oud was, het Heinrich as ’n leerjonge in die kruidenierswinkel van Herr Holtz in Fürstenburg gaan werk. Op ’n dag moes hy ’n swaar vaatjie optel, wat ’n bloedvat laat bars het. En na vyf jaar moes hy dié werk ook opsê. In 1841 het Heinrich na Hamburg vertrek en hom daar aangemeld as ’n kajuitjonge vir die passasiersboot Dorothea wat na Venezuela in Suid-Amerika moes vaar. Na 12 dae op see het die boot egter in stormweer teenoor die Nederlandse kus gesink. Baie het verdrink, maar Heinrich en ’n paar ander het egter daarin geslaag om die land weer te bereik. En hy het besluit om toe sommer maar vir hom werk te kry in Amsterdam as ’n boekhouer. Om met syfers te werk, was iets wat hom gepas het. Op 1 Maart 1844 het Heinrich, nou 22 jaar oud, by die personeel van die maatskappy BH Schröder aangesluit wat ’n in- en uitvoersaak bedryf het. Slegs twee jaar later is hy as verteenwoordigende agent van die maatskappy na St Petersburg in Rusland gestuur. Gou het hy ook ander maatskappye daar begin verteenwoordig. En baie gou het hy ook Russies aangeleer. Heinrich het ’n uitsonderlike gawe besit om tale ongewoon vinnig aan te leer (“he could see a language in his mind’s eye”, soos een kritikus opgemerk het). Aan die einde van sy loopbaan was hy 14 tale magtig, naamlik Engels, Frans, Nederlands (hy sou dus Afrikaans ook kon verstaan en lees), Spaans, Portugees, Italiaans, Russies, Pools, Sweeds, Turks, Arabies, asook Grieks (klassiek én modern) en Latyn, naas sy eie moedertaal Duits natuurlik. Hierdie taalvaardigheid het hom grootliks gehelp in die besigheidswêreld wat hy nou betree het.
In 1850 het Heinrich berig ontvang dat sy broer Ludwig in Kalifornië in die VSA, wat daar aan die goudstormloop deelgeneem het, skielik daar oorlede is. En Heinrich is na die VSA. Hier het hy al gou in Sacramento met ’n bank begin wat goud koop en verkoop. Toe die plaaslike Rothschilds egter begin kla dat Heinrich met die afweeg in sy goudhandel kul, het hy sy bank gesluit. Ons sal later sien dat Heinrich dikwels in sy lewe, besigheid of nie, nie altyd so heel eerlik was nie, want hy het altyd in ’n fantasiewêreld van sy eie geleef.
In 1850, terwyl Heinrich in Kalifornië was, het dit die 31ste staat van die VSA geword. Só het hy toe op 4 Julie van daardie jaar outomaties ’n burger van die VSA geword. So dikwels was Heinrich ook net die regte man op die regte tyd en die regte plek. Die gode het hom nou maar eenmaal begunstig.
Heinrich was ook ’n ooggetuie van die groot brand van San Francisco in Mei 1851 (wat hy later gesê het in Junie van daardie jaar plaasgevind het, terwyl hy tog ’n korrespondent vir die Sacramento Daily was).
Op 7 April 1852 het Heinrich sy besigheid in Sacramento verkoop, en weer na Rusland verhuis waar hy die lewe van ’n regte gentleman wou gaan lei. Hier het hy gou kontak gemaak met Ekaterina Lyschin, ’n niggie van een van sy ryk vriende. Kort vantevore het Heinrich van die dood verneem van sy kalwerliefde, Minna Meincke. Op 12 Oktober 1852 tree Heinrich met Ekaterina in die huwelik, ’n aristokratiese, beeldskone, slanke en elegante donkerkop. Dit was nie ’n gelukkige huwelik nie, maar hulle het tog drie kinders gehad, ’n seun, Sergey, en twee dogters, Natalya en Nadezhda, gebore in 1855, 1858 en 1861 onderskeidelik.
In Rusland het Heinrich Schliemann gou ’n skatryk man geword. Hy het ’n saak begin wat indigo-kleurstof (’n soort blou kleursel) vervaardig wat baie populêr was. Die Krimoorlog aan die Swart See (1854-56) tussen Rusland en Turkye, bygestaan deur Engeland en Frankryk (asook die kleine Sardinië), het Heinrich die geleentheid gegee om geld te maak. Vir hulle ammunisie het hy die Russiese leër voorsien van swael, sulfer en lood. Weer eens was hy die besigheidsman wat sy gaping gesien het. Hy was sy hele lewe deur die spreekwoordelike Midas, die legendariese koning van Frigië, vir wie alles waaraan hy geraak het, goud geword het (maar net nie die kos wat hy met sy hande moes eet nie).
In 1858, toe Schliemann maar 36 jaar oud was, het hy afgetree om sy kinderdroom te verwesenlik, naamlik om Homerus se Troje te vind en op te grawe. Maar hy was nog met Ekaterina in ’n ongelukkige huwelik. Vanweë sy besigheidstransaksies moes hy dikwels buite Rusland reis, geskei van vrou en kinders. In 1866 byvoorbeeld het hy ses maande afgeneem om aan die Sorbonne in Parys te gaan studeer. Nadat hy sy Russiese vrou twee keer met ’n egskeiding gedreig het omdat sy nie saam met hom wou reis nie, het die breuk gekom. Hulle was eers van tafel en bed geskei. In 1869 het Heinrich al sy bates na Indianapolis in die VSA laat oorplaas vir ongeveer drie maande om voordeel te trek uit die plaaslike liberale egskeidingswette. Weer eens was dit ’n bedagte sakestap. Heinrich het van Ekaterina geskei, en na die afhandeling van die skeisaak het hy direk na Griekeland verhuis om sy kinderdroom om Troje te vind, te verwesenlik. In Athene het hy (as skatryk man) ’n prominente advertensie in ’n koerant geplaas waarin hy vir ’n jong, aantreklike, maar eenvoudige, ongekultiveerde en tradisioneel kultuuregte Griekse vrou gevra het.
Heinrich trou met ’n rasegte Griekse meisie en begin met opgrawings by Troje
Terwyl Heinrich nog in Indianapolis in die VSA was, het hy ook aan sy ou vriend, Theokletos Vimbos, destyds ’n teologiese student op Sint Petersburg, maar nou aartsbiskop van Mantineia in Griekeland, geskryf. Hy vra Vimbos om vir hom ’n rasegte Griekse vrou te soek, en om sommer ook foto’s saam te stuur. Hy wou met haar trou en die Troje van sy drome saam met haar gaan opgrawe. Vimbos het ’n versameling foto’s van aspirantbruide bymekaargekry, en op die ingewing van die oomblik sommer ook Sophia s’n, die jong dogter van sy gunstelingneef, bygesit. Die advertensie van later was helaas verniet. Heinrich het toe al Vimbos se skone Sophia Engastromenos, toe pas 17 jaar oud en nog op skool, uitgekies. Self was hy nou al 47 jaar oud. Sophia het by haar ouers gewoon in die oer-deel Kolônos, die geboorteplek van die groot Griekse treurspeldigter, Sophokles, waar die blinde Oidipus ook sy laaste jare sou slyt, net buite Athene.
Op 2 September 1869 stap Heinrich aan wal by Athene se antieke hawestad, die Peiraius. En op die oggend van 3 September, vergesel van Leon Melas, voorsitter van die skoolraad, besoek hy die private skool Arsakeion aldaar om Sophia te sien. Sy word gevra om vir hom ’n gedeelte voor te dra uit Homerus se Ilias, en wel uit boek 16 wat handel oor die begrafnis van die Trojaanse held Hektor. Met trane in sy oë was die koeël vir Heinrich, nou reeds ’n geboë figuur met ’n pankop, deur die kerk. Haar ouers wou ook hê dat sy met die skatryk Duitser moes trou, wat intussen Grieks, die volkse en literêre weergawes daarvan, die Dhimotikí én Kathareúousa, vlot leer praat het.
Drie weke later, op 23 September, tree Heinrich en Sophia in die huwelik in die nabygeleë Sint Meletios-kerkie. Aartsbiskop Vimbos het die seremonie gelei, waarna die Schliemanns, aan boord van die Aphrodite, op ’n wittebroodsreis van drie weke vanuit die Peiraius vertrek het. Die wêreldreisiger Heinrich het dit beplan ter opvoeding van sy jong, onskuldige en onervare bruid: Messina, Sisilië, Napels, Pompeii, Sorrento, Rome, Florence, Venesië, München en Parys.
Aanvanklik gaan vestig die paartjie hulle in Parys te Place St Michel 6. Dit was ’n oorweldigende nuwe wêreld vir Sophia. ’n Drukke sosiale verkeer het op haar gewag – en sy kon nog net Grieks praat. Aan huis het selfs die beroemde Joseph Ernest Renan (skrywer van die kontroversiële La vie de Jésu, 1863) gekom om met Schliemann oor godsdiens en kultuur te gesels. Geen wonder nie die jong Sophia wou meer as eenkeer ingee in dié gans vreemde wêreld vir haar. Maar Heinrich het haar hand altyd styf vasgehou. Sy moes nog deel van sy groot droom word. En sy sou nog die moeder word van sy twee kinders, Andromache en Agamemnon.
In April 1870 begin hulle met hulle opgrawings by wat Schliemann gemeen het Troje moes wees, in die noordweste van Turkye. Vroeër reeds het Heinrich opgrawings gedoen by Mukene, wat uitkyk op die Argos-vlakte en die Peloponnesus (die antieke vesting waar Klutaimnestra en Aigistos vir Agamemnon vermoor het met sy tuiskoms ná die Trojaanse Oorlog), asook by Itaka, ’n eilandjie aan die weskus van Griekeland en eens die koninkryk van Homerus se held Odusseus, die “Vindingryke”, waar Penelopeia so lank getrou op hom gewag het na die afloop van die Trojaanse Oorlog (in teenstelling met Klutaimnestra van Mukene wat nie kon wag nie).
Schliemann was ’n uiters onkonvensionele argeoloog. ’n Amateur, ja, maar met ’n fyn romantiese en intuïtiewe aanvoeling eerder gelei deur uitsprake in die antieke bronne self, soos by die oud-Griekse reisiger Pausanias, Strabo (“die Geograaf”), die geskiedskrywer Herodotus, en natuurlik die einste Homerus self in sy Ilias. Sy idees is ondersteun deur sy vriende Wilhelm Dörpfeld, Emile Burnouf, Rudolf Virchow, Frank Calvert, en natuurlik sy getroue faktotum en skopós (“toesighouer”), Nicholas Saphiros Jannakis.
Heinrich het Homerus se Ilion (Troje) in noordwestelike Troas (die hedendaagse Turkye) gaan soek juis waar baie geleerdes eerder oortuig was dat dit nie geleë was nie, naamlik op die Hissarlik-heuwel daar naby, wat hy gemeen het geografies beter inpas in die Homerus-verhaal. Hierin had hy inderdaad die vroeë steun reeds van Frank Calvert en Charles MacLaren van Edinburgh. Klassici soos FA Wolf, George Grote en JP Mahaffy het ook so gemeen. Ander geleerdes het weer gemeen dat die antieke Troje eerder gesoek moes word op ’n puinhoop digby die dorpie Boenarbasji.
Heinrich, bygestaan deur Sophia, het sy opgrawings by die Hissarlik-heuwel begin in April 1870. Eers drie jaar later, op 14 Junie 1873, het hy diep in een van die strata (lae van opeenvolgende nedersettings wat op dieselfde plek gebou was nadat die vorige stad verwoes is) op sy “Skat van Priamos” (só genoem na die koning van Troje ten tyde van die Trojaanse Oorlog) afgekom. In die reste van ’n paleisagtige megaron (“groot saal”), verberg in die muur van dié stratum, het hulle koperswaarde, silwer meslemme en goue bekers gevind, asook ’n skat van diademe, halssnoere, armbande en ringe wat daar begrawe gelê het vir meer as 30 eeue. Toe Heinrich die goud van die juwele in die stowwerige vuil van die stadsmuur sien blink, het hy glo sy werkers gevra om opsy te staan, sodat hy en Sophia dit persoonlik kan uithaal en in haar serp plaas. Hierna het Heinrich dit skoongemaak en sy Sophaki (haar troetelnaam) daarmee behang en laat afneem, in verruklike waan, vas oortuig dat dit die juwele was wat Homerus se Helena gedra het toe sy uit Mukene in Griekeland deur Paris, die prins van Troje, ontvoer is. Sy was, volgens Homerus, juis die oorsaak van die Trojaanse Oorlog (Hêlénês hének’ êükómoio: “ter wille van mooihaar Helena”). Lank na Schliemann se dood kon argeoloë vasstel dat hy die Troje van Homerus in ’n verkeerde stratum gesoek het, naamlik stratum II, in plaas van stratum VIIA, toe die stad waarskynlik deur ’n groot vuur afgebrand is. Hierdie juwele kon dus nog reeds sedert eeue vroeër daar versteek gelê het (want strata word van onder af in die tell, die puinhoop van die stad, genommer)!
Schliemann het sy “Skat van Priamos” uit Turkye gesmokkel en uiteindelikvia Griekeland geskenk aan die Museum für Völkerkunde in Berlyn, waardeur hy ook die vryheid van die stad ontvang het.
In die Tweede Wêreldoorlog het die Russe hierdie skat van Priamos uit ’n Berlynse bunker verwyder en na Moskou geneem. En vir meer as ’n halwe eeu sou niemand weet wat daarvan geword het nie. Eers in 1993 het Kevgeni Siderof, die destydse Russiese minister van kultuur, aangekondig dat die Poesjkin-kunsmuseum in Moskou beplan om dit weer uit te stal. Maar wat sou alles in die onstuimige oorlogsjare verlore kon gegaan het? Sien hier C Moerland, The Lost Thesaurus of Troy (Londen, 1994), en Eric Glasgow, “The Glory of Troy Emerges from the Cold War” (Contemporary Review, vol 268, no 1565, van Junie 1996). Drie lande maak sedertdien aanspraak op eienaarskap van die “skat van Troje”, naamlik Duitsland (vir wie Schliemann dit self laat verkry het), Rusland (wat nou sê dat hulle dit van verwoesting gered het), en natuurlik Turkye (op wie se grondgebied dit by Troje gevind is).
William Ewart Gladstone, die eerste minister van Brittanje (en self ’n klassikus), het van Schliemann gesê dat sy louter geesdrif die ou gees van ridderlikheid in ’n suiwer, bloedlose vorm laat herleef het, en sir Arthur Evans (van Oxford, die opgrawer van Kreta) het bygevoeg dat iets van die romantiek van vervloë jare nog aan Heinrich Schliemann gekleef het. “Een passie, twee liefdes”, soos Lynn en Gray Poole dit titelgewys in hulle biografie oor Heinrich en Sophia Schliemann in 1966 saamgevat het. Inderdaad ’n heel sonderlinge verhaal waarin ’n grootse droom en twee ongewone liefdes mekaar ontmoet het.
Heinrich Schliemann se opgrawings by Mukene en later weer by Troje
Schliemann het die eeuelange dispuut of die Troje van Homerus werklik bestaan het, en indien wel, waar dit geleë was, vir goed opgelos. Hierdie akademiese dispuut het reeds in die 2de eeu vC begin met Demetrius van Skepsis, gebore in ongeveer 214 vC in die Troas. Vergelyk hier sy (nou verlore) 60 boekdele geskryf oor net 60 versreëls by Homerus in die 2de boek van die Ilias (“Die Katalogus van Skepe”) wat handel oor die Trojaanse strydmagte. Hierdie Demetrius was ’n grammatikus, argeoloog en veelweter in die algemeen.
Schliemann het egter ook Agamemnon se Mukene (Grieks Mukênê, of Mukênai in die meervoud soos by Athênai vir Athene) in Argolis op die Peloponnesus blootgelê. Mukene is die nie-Griekse naam van die plek wat die Achaïese Grieke geërf het van die oorspronklike inwoners, die Pelasgers van die streek. In 1868 het Schliemann Kérkura in die Ioniese Golf (die moderne Corfu) asook Itháka (Odusseus se geboorte-eiland by Homerus) besoek. Daarna het hy na Mukene (Argos) in Argolis op die Oostelike Peloponnesus verhuis waar hy ook ’n asembenemende sukses met sy opgrawings bereik het: vergelyk sy Mycenae van 1878 – en ook GE Mulonas se Ancient Mycenae van 1957. Dit was dus eers daarna, in 1870, dat Schliemann die Hissarlik-puinheuwel in die Troas in Klein-Asië met ’n nog groter sensasie gaan blootlê het. In Turks beteken Hissarlik “Plek van Vestinge”. En dit was Homerus se Ilion in sy Ilias.
Mukene verteenwoordig die hoogtepunt van die Laat-Helladiese tydvak, wat dateer van ongeveer 1600 tot 1100 vC, dus tot met die koms van die Doriërs in 1104 vC, volgens die geskiedskrywer Thoukudides 80 jaar ná die Trojaanse Oorlog. Daarom word die Laat-Helladiese tydvak ook die Mukeense tydvak genoem. Omdat Mukene in hierdie tydvak in die geskiedenis van Griekeland die kulturele en handelsentrum van die Grieke van die tyd was, het die Duitse argeoloog A Furtwängler dit só benoem. Ons verwys ook na die Mukeense Grieke.
Hoewel die vermaarde Ierse klassieke historikus JB Bury (1861-1927) daarteen redeneer in sy History of Greece (p. 24), is dit vir my baie duidelik dat Mukene ’n verlengstuk van Kreta op die Griekse vasteland was, ’n “provinsie” of selfs ’n kolonie van Kreta. Dit toon dieselfde gevorderde lewenstyl as Kreta en het ook gebruik gemaak van die Lineêr-B-skrif as soos ons dit ook op Kreta (en veral op Knossos) vind. Sekerlik was Kreta weer op sy beurt ’n onafhanklike “buitepos” van Egipte. Die datering van die Minoïese tydvakke op Kreta, in verhouding tot dié van Egipte, staan vas. Egipte was die eeue-oue beskawing wat die ganse die wêreld van die Middellandse See beïnvloed het. Geskiedenis het altyd ’n kousale verloop wat verantwoord moet word. Brokstukke daarvan hang nie onafhanklik van mekaar in die lug nie. Die Griekse Lineêr-B-skrif, wat eers in 1952 ontsyfer is deur die klassikus John Chadwick van Cambridge en die Londense argitek Michael Ventris, verteenwoordig ’n oer-vorm van Grieks teen 1200 vC, geskryf in 87 hiëroglifiese tekens. Dit was ’n sillabiese skrif en het niks te doen met die latere Griekse alfabetiese skrif nie. Om die waarheid te sê, na die verwoestende intog van die Doriërs in Griekeland, het die Achajers selfs hierdie eertydse skrif van hulle verloor, ’n skrif waarvan die Griekse vegters by Troje móés geweet het.
Mukene had ’n uiters strategiese en verdedigbare ligging op die vlakte van Argos, binnelands na die res van die Peloponnesus en ooswaarts oor die Egeïese See heen vir handel. By die Atheense treurspeldigters was Argos en Mukene ’n uitruilbare pleknaam. Mukene lê maar ongeveer 12 myl van die Middellandse See af op ’n verbindingsroete met die ismus (landengte) van Korinthe aan die diep-insnydende Korinthiese Golf wat amper van die Peloponnesus ’n eiland gemaak het. Mukene had ’n goeie watertoevoer en natuurlik die wydgeleë landbougrond van die Argos-vlakte. Die koninklike paleis van Mukene is tussen 1600 en 1400 vC op die akropolis van Mukene gevestig. Hierdie akropolis (“hoog-stad”, “burg”) van Mukene is, soos by Athene, geleë op ’n heuwel (ongeveer 900 vt bo seespieël), ’n ware vesting. Net noordoos daarvan lê die hange van die hedendaagse berge Zara en die profeet Elia.
Schliemann se opgrawings in Troje, in samewerking met Wilhelm Blegen, het hom vir ’n volle 20 jaar besig gehou (1870-1890). Hy het vier opeenvolgende opgrawings by Troje uitgevoer: in 1870 (saam met sy vrou Sophia); 1878-79 (saam met Emile Burnouf en Rudolf Virchow); 1882-83 (weer alleen); en 1888-90 (saam met Wilhelm Dörpfeld – tot die jaar waarin hy dood is). Intussen het Schliemann ook die rykdom van Mukene in Argolis op die Peloponnesus blootgelê, met uiters opspraakwekkende vondste. In die koninklike skag-grafte op die akropolis van Mukene het hy skatte opgegrawe wat nie alleen vir hom nie, maar ook die belangstellende wêreld verstom het. Homerus het dit waar gehad: Mukene was “ryk aan goud”! Schliemann het vyf grafte blootgelê wat die stoflike oorskot bevat het van nege mans, agt vroue en twee kinders, wat daar begrawe moes gewees het vóór 1400 vC. Stamatakis, die destydse Griekse inspekteur van argeologie, het in 1877 ’n sesde graf ontdek. Met die versterking van die stad in 1400 vC is ’n nuwe muur oor ’n gedeelte van die ou koninklike begraafplaas gebou; dit het hierdie grafte juis van plundering gevrywaar.
Die gesigte van die mans in die grafte was bedek met maskers van goud en die kinders was toegedraai in bladgoud. Saam met die oorlewendes was ook hulle kosbaarste besittings begrawe (soos in ou Egipte): bekers van goud en silwer; dolke, ryklik versier met inlegwerk; pragtige erdewerk; allerlei juwele van goud; krale van amber (barnsteen of gefossileerde gom) en faience (geglasuurde erdewerk met helder kleure beskilder). Die grafte was ook voorsien van grafstene met reliëfversiering, wat die heel vroegste monumentale beeldhouwerk van die Griekse moederland uitmaak. Toe Schliemann hierdie beendere met hulle goue maskers ontdek, was hy vas oortuig dat dit die grafte van die huis van Atreus was, dus ook van Agamemnon, aanvoerder van die Achajers teen Troje in die 12de eeu vC. Hy het dan ook onmiddellik ’n telegram aan die koning van Griekeland gestuur waarin hy die koning laat weet het dat hy daardie dag in die gesig van ’n beroemde voorganger van hom gekyk het! Schliemann het sy aanspraak gegrond op ’n verslag van Pausanias, die bekende oud-Griekse reisbeskrywer wat dit ook in die 2de eeu AD reeds besoek het. Laasgenoemde se Reisgids van Hellas (Helládos Periêgêsis) het in tien boekdele vir ons bewaar gebly– ’n ware skatkamer van informasie oor die hele oud-Griekse wêreld van die tyd. En sien hier ook Cacoulides se Guide to Corinth, Mycenae, Tirys and Epidauros (p 39 vervolgens).
Die reste van nege tolos-grafte is ook in die onmiddellike omgewing van Mukene gevind. ’n Tolos is ’n ronde gebou met ’n koepeldak waarin die stoflike oorskot van gestorwenes weggelê is. Hiervan is die “Skatkamer van Atreus” (soos Schliemann dit genoem het) die bes bewaarde en sekerlik ook oorspronklik die imposantste. Dit was beslis die graftombe van ’n groot koning, en Schliemann dateer dit teen 1350 vC. Daar is egter geen bewys dat dit werklik die graftombe van Atreus (die vader van Agamemnon) was nie, maar dit bly ’n verleidelike aanname. Schliemann ontdek ook die veronderstelde graftombe van Klutaimnestra, Agamemnon se vrou. Sy is vermoor deur haar seun en dogter, Orestes en Elektra, as wraak vir die moord van hulle vader Agamemnon in sameswering met haar vryer Aigistos. Hierdie verhaal (mite) is die onderwerp van die oudste Atheense treurspeldigter, Aischulos, se Agamemnon.
Hierdie graftombe is in die helling van die heuwel (akropolis) van Mukene, regoor die sogenaamde Leeupoort (hooftoegang tot die stad). Die ingang (dromos) is oor die 100 vt lank en 20 vt breed. By die deur van die tombe is die mure meer as 30 vt hoog. Hierdie deur self is ook 20 vt hoog. Dit is oordek met ’n latei (draagbalk) wat bestaan uit twee reusagtige plat rotsblokke, waarvan die binneste een na berekening oor die 100 ton weeg. Dit moes van die helling af met behulp van rollers in posisie geskuif gewees het. Bo die lateie was ’n driehoek (soos ook by die Leeupoort) uitgebou, natuurlik om die gewig van die muur hoër op na die vertikale deurposte te verplaas.
Die binnehoogte van die koepelkamer is by die 50 vt Die dak van die koepelvormige gebou is in die vorm van ’n byekorf gebou deurdat elke opeenvolgende laag stene na binne oorgebou is, en die laaste opening met ’n groot plat steen bedek is. Die dakmuur was oorspronklik versier met goue of vergulde rosette; die tapgate is vandag nog te sien. ’n Paar tree regs van die ingang is daar ’n deuropening wat tot ’n tweede, veel kleiner sykamertjie lei. In die middel is ’n vierhoekige grafput. Hierdie grafkamertjie was doodeenvoudig ’n onafgewerkte uitgrawing in die helling van die heuwel. Beide die hoof- en sykamer was vir begrawings gebruik.
Hoe is ’n begrafnis in die tolos-tombe uitgevoer? Die stoflike oorskot van die oorledene (ten volle sierlik aangetrek) was op ’n lykbaar ingebring en op die vloer van die hoofkoepelkamer of in ’n grafput van die sykamertjie geplaas, saam met sy wapens, ander kosbare besittings en voedsel (kruike met olie, wyn en graan) om hom toe te rus vir sy lang tog na die hiernamaals (Hades of die Onderwêreld − soos in ou Egipte). Slegs koninklikes is hier ter ruste gelê. Die deur van die graftombe is dan verseël, en ’n roudiens is voor die deur gehou, wat waarskynlik geëindig het met ’n drankoffer, waarna die erdekruike stukkend gegooi is. Daarna was die dromos (toegangsweg) met grond opgevul en ’n steen buite opgerig om die plek van die tombe aan te dui. Hierdie deeglike verseëling van die graf was nodig om te verhoed dat die gees van die afgestorwene ontsnap.
Rondom die koninklike akropolis van Mukene het die gewone volk hulle huise gehad. Ook hier is daar ringgrafte blootgelê, selfs nog met Britse opgrawings in 1952-4. Dit het verder bewys dat die skaggrafte van Schliemann inderdaad graftombes was en nie bewaarplekke van voorrade soos sir Arthur Evans eers gemeen het nie.
Die hoof koninklike bouwerk op die akropolis van Mukene was die megaron, die “groot saal”, as kroonkamer, van die paleis wat op vier suile gerus het. Hier was die dromos (ofte wel die porticus of hoofvertrek) en die prodromos, oftewel die voorportaal (ook ’n portico), met ’n sirkelvormige haard reg in die middel. Die megaron het ’n dak opgehad, maar die prodromos was oop vir die dag- en sonlig. Die troon van die koning was in hierdie dromos, regs van die ingang. Aan dié kompleks was daar ook ’n badkamer aangeheg met slaapkamers vir gebruik van familie en gaste. Hierdie kamers was ryklik versier met vrolike fresko’s, soos by die koninklike paleis in Knossos op Kreta wat sir Arthur Evans gevind het Dit het onder meer krygs- en jagtonele bevat.
In die dorpie rondom die akropolis was die wonings van die werkers en ambagsmanne, soos die goudsmede en pottebakkers, allerlei kunstenaars en selfs priesters. Die slawe het ook daar gewoon. Blou klei was gebruik om faience, geglasuurde erdewerk met helder kleure, te maak. Kraletjies en hangertjies was ook gemaak uit kuanos, Homerus se donkerblou glas. Die metaalwerkers het allerlei skottels, klein en groot, uit brons en lood vervaardig. Die pottebakkers was veral lief om vroulike beeldjies te maak, waarvan daar drie tipes was: die halfmaan- of sekelvormige vrouefiguur (die psi-tipe), die eiervormige vrouefiguur (die phi-tipe) en die kouróphoi, d.w.s. vroue wat besig is om hulle kinders te voed.
Die koninklike paleise van Mukene, die nabygeleë Tiryns, en ook Pulos (Coryphasium, die moderne Navarino) is uiteindelik finaal ontbloot deur onderskeidelik die Griek Chrestos Tsountas, Schliemann en CW Blegen.
Mukene, soos ons reeds gesien het, het sy eie skrif, Lineêr-B, gehad. Daar is op kleitablette geskryf. Die oes aan Lineêr-B-kleitablette by Mukene was egter skraal. Hierdie skrif was slegs vir administratiewe doeleindes gebruik, soos vir die aantekening van voorrade deur die koninklike amptenare. Daar het nooit enige literatuur (literêr of histories) daarin tot stand gekom nie. Ofskoon die inhoud kleurloos is, is dit geweldig belangrik as ’n vorm van oer-Grieks vir die studie van die Griekse filologie. Agamemnon was by Homerus die “Koning van Manne” (ánax andrôn) genoem. In die tablette van Mukene lees ons van die koning as wanax, dws die Epiese ánax met die digamma [F], oftewel w-klank, as voorvoegsel. Meer as vyfduisend van hierdie kleitablette met Lineêr-B daarop is regoor die antieke Griekse wêreld gevind, ook by Knossos op Kreta, by Pulos (koninkryk van Homerus se ou Nestor), en selfs by Thebe in Noord-Griekeland.
Met die koms van die Doriërs (die sogenaamde Grieks-Illuriese migrasie uit die noorde), 80 jaar ná die val van Troje volgens Thoukudides, is Homerus se Achajers verdryf na die kus van Klein-Asië asook die talle eilandjies op pad daarheen oor die Egeïese See. Hierdie instromende Doriërs (ook Grieke, maar toe nog veel minder verfynd) het ou Mukene uiteindelik ook die doodsteek toegedien. Die lang en glorieryke era van Mukene was vir goed verby, en die Donker Eeue het op Griekeland toegesak waartydens hulle ook hulle ou gebruik van die sillabiese Lineêr-B-skrif vir goed verloor het. Ons weet egter dat Mukene wel nog ’n klein kontingent soldate gelewer het om die Grieke eeue later, tydens die Persiese Oorloë, te kon staan by Thermopulai (480 vC) en Plataia (479 vC). Van Mukene het vandag net sy ruïnes oorgebly. Toe die Griekse reisiger Pausanias dit in die 2de eeu AD besoek het, was dit nog net bewoon deur ’n klompie veewagters wat daar met hulle skape en bokke geboer het. Toe ek dit die eerste keer in 1963 besoek het, het ek ook die klokkies om die nekke van die bokke hoor lui waar hulle gewei het aan die hange van die berg Zara daar naby en teen die voet van ou Mukene self, soos van ouds. Alles was stil en vaal oor die vlakte van Argos. Wie sou ooit kon droom en weet dat daar, eeue gelede, soveel drama afgespeel het rondom Agamemnon, die aanvoerder van die Achajers teen Troje, en sy vrou Klutaimnestra en haar minnaar Aigistos, en dat so ’n baie ryk koninkryk eens sy setel daar gehad het? Oor Mukene kan die werke van John Chadwick gelees word: The Decipherment of Linear B (Cambridge University Press, 1960); The Mycenean World (ook CUP, 1976), en Documents in Mycenean Greek (saam met Michael Ventris, CUP, 1973 – ’n werk van 622 bladsye). Toe ek in die sestigerjare van die vorige eeu op Cambridge in Engeland gestudeer het, het ek die kursus in Lineêr-B onder Chadwick self voltooi.
Die kritiek teen Heinrich Schliemann geëvalueer
Heinrich Schliemann is seker een die beroemdste én mees kontroversiële figure in die Westerse kultuurgeskiedenis van die afgelope eeu. Met sy opgrawings by Troje en Mukene wou hy die helde en hulle stede in die Griekse prehistorie weer tot lewe bring. Hy wou die wetenskap van die argeologie (toe nog in sy kinderskoene) inspan om die romantiese en mitologiese verlede waarvan Homerus ons in sy Ilias vertel, en spesifiek die Groot Oorlog van die Achajers teen Troje in die 12de eeu vC, alles as waar te bewys. Met die argeologiese data wat hy opgediep het uit die glorieryke verlede van die antieke Griekse wêreld, het hy sekerlik gesorg vir een van die grootste opskuddings in die geskiedenis van die Weste sedert die Renaissance.
Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu (en vroeër) is die argeologiese arbeid van Schliemann weer helder onder die loep geneem. David A Traill het in die Journal of Hellenic Studies, vol 104 van 1984, en in die Classical Journal, vol 81 van 1985 sy eie sweer oor Heinrich Schliemann se argeologiese bevindings oopgebreek onder onderskeidelik die opskrifte, “Schliemann’s Discovery of ‘Priam’s Treasure’: a Reexamination of the Evidence”, en “Schliemann’s ‘Dream of Troy: the Making of a Legend”, wat uiteindelik geëindig het met sy boek Schliemann of Troy: Treasure and Deceit (St Martin’s Press, New York, 1996). Hy het die geloofwaardigheid en integriteit van Heinrich Schliemann by die agterdeur uitgegooi en hom ’n “pathological inveterate liar” genoem, ’n man wat meer in eie roem belang gestel het as in die historiese waarheid. ’n Naïewe romantiese dagdromer wat nou self deel van die mite geword het. En die “vader van die Brons-eeu en die Middellandse argeologie” het ewe skielik ’n skurk geword. Adrienne Beck met haar “Redeeming Schliemann: A critical and contextual evaluation of the “father of archaeolgy” in Teaching History, vol 47, no 3 van September 2013, het met ’n goed gefundeerde verslag die ewewig herstel. So ook Donald F Easton met sy artikels in die Annual of the British School in Athens (“The Schliemann Papers”), vol 77 van 1982; Antiquity (“Schliemann’s Mendacity – a False Trial?”), vol 58 van 1984; Anatolian Studies (“Priam’s Treasure”), vol 34 van 1984; en in The Classical World (“Heinrich Schliemann: Hero or Fraud?”), vol 91, no 5 van 1998; asook W Schindler met sy artikel in Illinois Classical Studies (“An archaeologist on the Heinrich Schliemann Controversy”), vol 17, no 1 van 1992, en Mark Lehrer en David Turner in hulle artikel in The Annual of the British School at Athens (“The Making of an Homeric Archaeologist: Schliemann’s Diary of 1868”), vol 84 van 1989, het almal die balans herstel en aan Heinrich Schliemann die lof en eer wat hom toekom, teruggegee.
Die kritiek teen Schliemann was dat hy hom in sy dagboeke aan inkonsekwensies en opsigtelike misleidings skuldig gemaak het (soos sy aanspraak dat hy die burgerskap van die VSA in 1850 ontvang het; dat hy ’n ete saam met president Millard Fillmore van die VSA in die Withuis geniet het; dat hy nie werklik self teenwoordig was met die Groot Brand van San Francisco in Mei 1851 nie; dat hy nie werklik ’n doktorsgraad van die Universiteit van Rostock in Rusland ontvang het nie; en dat sy helper Jannakis beweer het dat Schliemann artefakte “geplant” het en selfs ’n (onbekende) goudsmid gevra het om items vir hom te vervaardig. In sy dagboeke lees ons egter ook oor die ongunstige weer wat hulle soms by Troje ondervind het, en kla hy ook oor die swak Ottoman-Turkse kos “van onverteerbare bredies van rys gemeng met gepeperde sklipadvleis”.
Psigoanaliste is selfs ingespan om Schliemann te diskrediteer, soos William Niederland in die sestigerjare van die vorige eeu. Dié het in Schliemann se talle briewe sy “onbewuste onderbewuste” ontleed, en gevind dat hy geensins in sy jeug al behep was met Homerus se Troje of die argeologie nie; dat hy sy vader sou gehaat het omdat hy hom aanspreeklik gehou het vir sy moeder se dood; en dat sy latere preokkupasie met die grafte van die dodes steeds sy droefheid oor sy moeder se dood toon, en dat hy sy moeder weer wou “restoureer” deur Homerus se dooies weer tot lewe te bring. Verregaande inlegkunde, sou ek vandag meen.
Om Schliemann te verdedig, is vergelykende kontekstuele analises gemaak met dagboeke van die tyd, soos dié van Bismark en Wagner wat ook nie altyd histories presies was nie. Selfs die groot Homerus, het Cicero by geleentheid gesê, het soms gedut. Hierby is sy handgeskrewe dagboeke ook vergelyk met sy gepubliseerde werke. Daar is uitgewys dat Schliemann se kritici sy nagelate tekste aangeval het, eerder as om volledig kritiek te lewer oor sy opgrawings (en merkwaardige vondste), juis dít wat in metodiek en tegniek soms tereg veel te wense oorgelaat het. Daar moet onthou word dat die argeologie as wetenskap juis wakker gemaak is deur die opgrawings van Schliemann. Hy self was ’n amateur en nie (’n hedendaagse) professionele argeoloog nie. Daarby wou Schliemann alles vir almal wees: hy wou die geleerdes van die dag stof tot nadenke gee, en hy het ook vir die bewondering van die leek gespeel met sy natuurlike “bourgeois showmanship”. Hy was sekerlik soms arrogant, ongeduldig en egotisties, maar hy het die hef in die hand gehad met sy rykdom wat alles kon vermag. Daarby was hy ’n meester in antieke en moderne tale, buite die bereik van sy meeste kritici. ’n Groot gees van die tyd soos sir Arthur Evans (wat Kreta sou opgrawe) het hom trouens vir sy werk geprys en selfs inspirasie in hom gevind. Die destydse eerste minister van Engeland, William Eward Gladstone (wat ook gesorg het vir ons eie digter WEG Louw se voorname), het selfs ’n voorwoord vir een van sy werke geskryf. Schliemann moet vandag binne die historiese konteks van die tyd beoordeel word. Dan verrys hy as die groot meester wat hy was.
Daar is egter sekerlik ook heel tereg beweer, byvoorbeeld deur Kenneth W Harl in sy artikel “Great Ancient Civilizations of Asia Minor” van 2012, dat Heinrich Schliemann miskien meer skade aan Troje aangerig het as Homerus se Achajers self, deurdat hy nie die tell van Troje (’n puinhoop van 50 meter) stelselmatig en versigtig stratum vir stratum opgegrawe en die vondste en bevindinge sorgvuldig een vir een genoteer het nie. Antieke stede is altyd herbou op die puin van verwoesting wat oorwinnaars agtergelaat het. Nog te meer in die geval van Troje, wat geleë was aan die Hellespont, Propont (die See van Marmara) en die Bosporos wat toegang tot die Swart See verleen het. Schliemann en sy honderde werkers het ingespring en eers ’n dwarssnit in die puinhoop gemaak, vandag nog bekend as “Schliemann se Loopgraaf (trench)”. Toe hy die eerste ontdekking teen 27 Mei 1873 gemaak het van die “wegsteekplek” van goud en juwele, het hy dit onmiddellik die “Skat van Priamos” gedoop. Later is egter uitgevind dat hierdie skat eerder duisend jaar vroeër daar begrawe is, en dat die uitvoerige verwerking van goudartefakte, so word gemeen, nie (algemeen) voorkom in die Mukeense (Vroeë Brons) tydvak nie. Schliemann het dit (reeds) in Stratum II gevind, terwyl stratum VII/VII A eers later dateer uit die tyd van die Trojaanse Oorlog. Schliemann het gemeen dat hy die onderste stratum bereik het, wat hy as Homerus se Troje aanvaar het. Die oudste strata lê altyd laer af in ’n tell. By Troje word vandag onderskei tussen nege strata. Die feit bly staan egter dat Schliemann “gevind” het waarna hy gesoek het, soos die goue masker in die skaggrafte op die akropolis van Mukene. Hier was ’n romantiese dromer wat altyd in sy eie wêreld geleef het. Trouens, Schliemann se vondste kan argeologies slegs vergelyk word met die ontdekking en oopmaak van Toetankamen se graf deur Howard Carter in 1922 in Egipte. Schliemann se ontdekkinge was die grootste wat die Europese wêreld gesien het ná die Portugese ontdekkingsreisigers se ontdekkinge van nuwe wêrelde, ’n hele paar generasies vroeër (Dias, Da Gama en Columbus − almal gebore teen die middel van die 15de eeu). Argeologie as wetenskap soos ons dit vandag ken, was nog in sy absolute kinderskoene voor die koms van argeoloë soos William Matthew Flinders Petrie (1853−1947) wat die realia soos pottebakkerswerk in die onderskeie strata vergelyk het met die ander, rondom die hele Middellandse See, om dit vergelykend te kon dateer. Vandag word mikroanalises met kwassies in die moderne argeologie gedoen. Dit was alleen Heinrich Schliemann se vindingryke verbeelding en sy gawe van buitengewone instink wat hom gelei het. Dit is met ongelooflike toewyding en entoesiasme dat hy sy “lewenstaak” aangepak het. En natuurlik was geluk ook aan sy kant. Maar die gode neig om hulle te help wat hulself ook help. Agter Schliemann lê ook sý noukeurige analises van die Trojaanse verhaal, soos wat Homerus self gesê het én ander antieke skrywers soos Herodotus, Pausanias en Strabo, “die Geograaf”, wat ook van “Ilion” praat. Dit is feitlik ’n uitgemaakte saak dat Homerus se Ilios (’n newevorm van Ilion) taalkundig te identifiseer is met die Hetitiese Wilusa wat ons in Hetitiese geskrifte aantref, wat eens die hoofstad was van ’n leenstaat van die Hetitiese Ryk. Homerus, in die eerste plek, het vir Schliemann die deur na die verlede oopgesluit. Al was Schliemann se opgrawings soms ook hoe lukraak, tog het hy die argeologie as volwaardige wetenskap help voortbring. Hy word vandag die vader van die Vroeë Brons- of Mediterreense argeologie genoem. In 1869 het die Universiteit van Rostock in Rusland wel ’n doktorsgraad (in absentia) aan hom toegeken met die publikasie van sy Itaka, der Peloponnesus und Troja vir sy topografiese analise van die eiland Itaka (Homerus se Odusseus se tuiste). Hierin kan wel plagiaat uitgewys word, maar dan in terme van die konvensies van die tyd. Die enigste werklike praktiese ondervinding wat Schliemann voor die tyd van argeologie gehad het, was die drie dae wat hy gekyk het hoe die Italiaan Guiseppi Fiorelli opgrawings by Pompeji, digby Napels, gedoen het. Die teorieë dat Schliemann net so goed die “Skat van Priamos” kon versin het uit diverse bevindinge, klink verregaande onjuis. Ook dat die goud van die “Masker van Agamemnon” in die Griekse Museum op die Akropolis nog nooit deur die Grieke self vir regte goud getoets is nie, as sou so ’n prosedure tot beskadiging daarvan kon lei. Daar word ook deur sommige beweer dat die gelaatstrekke van die masker darem te “modern” is. Dit alles is slegs ongefundeerde aannames en moedswillige verdagmakery. Daar is selfs dié wat steeds beweer dat Homerus se Troje nog nie gevind is nie. Hier kan ons alleenlik die geografie rekonstrueer vanaf Aulis in Beosië, Noord-Griekeland, tot by die “Vlakte voor Troje” in Homerus se Ilias. Carl Blegen, Schliemann se onmiddellike opvolger by Troje, het destyds al tot Schliemann se verdediging gekom. Hy het toegegee dat daar foute uit te wys is in Schliemann se prosedure, maar dat dit gedoen is voordat die argeologiese wetenskap werklik nog bestaan het, juis dit wat hy wakker gemaak en geskep het. In hierdie beginproses sou niemand beter kon vaar as Schliemann nie.
Dat Schliemann wel ’n vindingryke kalant was om altyd sy doel te bereik, is binne sy grootse aspirasies te verstane en gevolglik vergeeflik. Frank Calvert se bydrae kon hy byvoorbeeld beter uitgewys en beklemtoon het, omdat dit hy was wat uiteindelik die Hissarlik-heuwel as Homerus se Troje uitgewys het, en dat dit nie die nabygeleë Pinarbaşi (Boenarbasji) was nie. Sien hier SH Allen se twee artikels oor die saak in die American Journal of Archaeology (vol 99, no3, pp 379–407 van 1995, ”Finding the Walls of Troy. Frank Calvert”) en The Classical World (vol 91, no 5 van 1998, pp 345-54, “A Personal Sacrifice in the Interest of Science: Calvert”). Die doel heilig soms die middele. Maar Schliemann het gevind wat hy gevind het: van die grootste skatte wat die argeologie nog ooit opgelewer het. Dit is vandag onmoontlik om Schliemann se hoogs dramatiese verhaal en bevindinge mis te kyk.
Heinrich Schliemann het nie (net) roem gesoek nie, maar het sy groot fortuin opgeoffer om ’n kinderdroom te verwesentlik. Ons weet vandag dat die meeste oud-Griekse mitologieë in wese altyd etiologies van aard is, d.i. om dinge wat gebeur het te verklaar, deur die aitíai (oorsake en beweegredes) daaragter te soek. So dikwels lê daar altyd historiese kerne agter al daardie verhale. Daar kom wel verregaande fantasieë in die oud-Griekse mites voor, soos die bestaan van drake en verskriklike monsters, maar iewers vind die trefkonsep van feitlik elke mite sy wortels in die geskiedenis “soos oorgelewer”.
Die dood van Heinrich Schliemann
Heinrich Schliemann het vir die grootste deel van sy lewe gesukkel met ’n chroniese oorinfeksie. In November 1890 het hy na Halle in Duitsland gegaan vir ’n operasie aan sy oor. Die dokters het gemeen dat die operasie ’n sukses was, maar sy binne-oor het pynlik gebly van inflammasie. Hy het sy dokters se advies verontagsaam, die hospitaal verlaat, en na Leipzig, Berlyn en Parys gereis. Sy plan was om met Kersfees weer by Sophaki en die kinders tuis te wees. Sy toestand het egter so verswak dat hy nie per boot van Napels na die Peiraius van Athene kon reis nie. Hy bly eers in Napels agter en lê nog ook weer ’n vinnige besoek af by die ruïnes van Pompeji wat op 24 Augustus 79 AD onder die lawa begrawe is toe die vulkaniese berg Vesuvius, net meer as vyf myl noordwes daarvandaan, ’n uitbarsting gehad het, en ook Herculaneum en Stabiae bedek het. Op Kersdag 1890 het Schliemann op die Piazza della Santa Carita in Napels in ’n koma inmekaargesak, en die volgende dag, 26 Desember 1890, daar gesterf. Die oorsaak van sy dood was aangegee as ’n cholesteatoom (’n sist in die epitele weefsel wat verhard het, dikwels met cholesterol-saampakking daarin). Dit was natuurlik ’n geweldige skok vir sy Sophaki toe sy hierdie nuus verneem. ’n Groot gees, vir haar en haar twee kinders, en ook die ganse wêreld daarbuite, was nie meer daar nie. Sophia, wat toe maar 38 jaar oud was, het in groot smart sy oorskot Griekeland toe laat kom waar dit eers deur vriende na die Eerste Begraafplaas in Athene geneem is. Daarna is hy in sy mausoleum wat hy vir hom en sy vir vrou digby hulle huis op ’n heuwel laat bou het, te ruste gelê. Hierdie manjifieke klein mausoleum in die vorm van ’n antieke Griekse tempel gebou op ’n hoë voetstuk is as spesiale opdrag deur Ernst Ziller ontwerp. Onder die stilobaat daarvan was ’n fries aangebring wat Schliemann aantoon waar hy besig is om opgrawings by Mukene en Troje doen. Toe Schliemann se lyk in sy mausoleum weggelê is, was die kis in ’n Griekse vlag gedrapeer en ’n borsbeeld van Homerus daarnaas geplaas. In Athene het Schliemann vir hom ook ’n grootse herehuis met twee verdiepings, die Ilium Mélathron (“die Huis van Ilion”), laat bou. Dit huisves tans die Numismatiese Museum van Athene.
Sophia is eers in 1935 oorlede in die ou hawe van Faleron, oorkant die Peiraius. Sy is toe ook in haar Heinrich se mausoleum weggelê, weer bymekaar na 45 jaar. In die geskiedenis sal haar foto vir altyd bly bestaan waar Heinrich haar laat afneem het, getooi in die juwele en versierings van die skone Helena wat Heinrich in Troje opgegrawe het (as die “Skat van Priamos”) nadat dit daar (so het hy gemeen) vir meer as dertig eeue lank, ’n volle drieduisend jaar, onder die puin van die stad Troje verborge gelê het. Later, na Schliemann se dood, is egter vasgestel dat dit nie uit stratum II by Troje kom nie, maar eerder uit (die latere) stratum VIIA (wat nie werklik só ’n groot verskil maak nie). Nietemin mind-boggling. Wat ’n ongelooflike ervaring moes dit nie vir Schliemann en sy Sophaki gewees het nie! Daardie foto van die pragtige, beeldskone Sophia pryk vandag ook op mý lessenaar in sy volle glorie, met die “Skat van Priamos van Troje” om haar nek gehang én aan haar bors gedrapeer, asook die goedbewaarde, breë diadeem effens oor haar voorhoof getrek. Op my lessenaar staan sy langs die foto van ’n afbeelding van Nefertiti, nog ’n skoonheid uit die Ou Wêreld, wie se graftombe waarskynlik ook eersdaags opgemaak sal kan word.
Die Schliemanns het twee kinders gehad, Andromache en Agamemnon, vernoem na prominente figure in die Atheense dramas wat later op die Homeriese stofgegewe oor die Trojaanse Oorlog van die 12de eeu vC gegrond is. Agamemnon (die “Koning van Manne” by Homerus) was die leier van die Achajers wat teen Troje opgeruk het om die skone Helena te gaan haal. Andromache was die edel volksmoeder van Hektor, voorvegter van die Trojane by Troje. Ander moes seker soms die argaïese name vir die twee Schliemann-kinders heel amusant gevind het. Schliemann wou aanvanklik nie sy kinders formeel laat doop het nie. In sy eie plegtige seremonie het Heinrich ’n kopie van Homerus se Ilias oor hulle hoofde gehou terwyl hy ’n honderd heksameter-reëls daaruit voorgedra het. Heinrich Schliemann het tot sy dood ’n romantiese dromer gebly. Andromache is eers in 1962 oorlede, en Agamemnon reeds in 1954.
Werke gepubliseer deur Heinrich Schliemann, 1867 en daarna
Heinrich Schliemann was ’n uiters produktiewe skrywer van werklik omvattende werke, ryklik geïllustreer met lyntekeninge, wat feitlik al om die ander jaar verskyn het. Hy was ewe tuis in Frans en Engels as sy moedertaal Duits. Let daarop dat die Cambridge University Press feitlik al sy argeologiese werke weer in 2010 heruitgegee het. Hy het ook ’n lywige skat van dagboeke nagelaat.
La Chine et le Japon au temps présent (Librairie Centrale, 1867). Hierdie eerste werk van hom het hy geskryf na ’n besoek aan bekoorlike Japan.
Ithaka, der Peloponnes Forschungen (Giesecke & Devrient, 1869; heruitgegee deur CUP, 2010) [Homerus se Ithákê in die Ioniese See, aan die Weste van die Griekse moederland, speel, snaaks genoeg, geen rol in klassieke Griekeland se geskiedenis nie. Dit is wel ’n skilderagtige eilandjie, en moes as halfwegstasie vir Korinte gewees in sy handel met Italië aan die oorkant van die Adriatiese See gedien het. Engelse opgrawings daar het wel tipiese Mukeense boustyle en vaasvorme daar gevind, asook die stukke van twaalf pragtige trípodes, soos dié waarvan ons by Homerus lees, byvoorbeeld by die Odusseia 13.13,217 en 363. Selfs ’n inskripsie met Odusseus se naam daarop is daar gevind, naas dié vir Atena, Hera en die Nimfe. Geen menslike beendere is egter daar gevind nie. Cees Goedkoop, Op zoek naar Ithaka. Een speurtog naar het vaderland van Odusseus (Heureka, Weesp, 1990) het Homerus gefynkam vir geografiese aanwysings vir die werklike ligging van Ithaka, en gee dan alternatiewe moontlikhede].
Trojanische Altertümer: Bericht über die Ausgrabungen in Troja (Leipzig, 1874; heruitgegee deur CUP, 2010)
Troja und seine Ruinen (1875; in 1875 in Engels uitgegee deur J Murray van Londen as Troy and Its Remains: A Narrative of Researches and Discoveries Made on the Site of Ilium in the Trojan Plain; heruitgegee deur CUP, 2010)
Mykenae: Bericht über meine Forschungen und Entdeckungen in Mykenae und Tiryns (Wissenschaftliche Buchgesellschaft, 1878; heruitgegee deur CUP, 2010) [’n Nota ter verduideliking hier: “Argos” was die naam van verskillende oud-Griekse stede. Die woord self beteken eintlik “Vlakte”. By Homerus word dit gebruik om die hele Argolis mee aan te dui. Homerus se Agamemnon het sy hoofstad van Argos by Mukene gehad. Na die Doriese Intog van 1200 vC het hulle Mukene hernoem na Argos. Daarom het die name Argos en Mukene in die klassieke Griekse letterkunde uitruilbaar geword].
Ilios, City and Country of the Trojans (Ayer Co. Publishers, 1880; heruitgegee deur CUP in 2010)
Troja. Results of the latest Researches and Dicoveries on the Site of Homer’s Troy, 1882 (in 1976 uitgegee deur Arno Press, New York)
Orgomenos: Bericht über meine Ausgrabungen in Böotischen Orgomenos (Leipzig, 1881; heruitgegee deur CUP, 2010) [Orchomenós in Beosië (te onderskei van Orgomenos in Arkadië op Peloponnesus) lê noord van Attika, en was reeds bewoon sedert die vroeë Steentydperk. Die vroegste veroweraars daarvan was die Minoërs, vernoem na die legendariese leier Minos. Dit word reeds met die vroegste Griekse mites geassosieer soos die Argonaute (vgl. Pindaros, Istmiese Odes, 1.56). Die Griekse Chárites, oftewel Grasieë, as dienaars van Aphrodite, het volgens Pausanias (5.172-80) hulle eerste heiligdom daar gehad. Orgomenos, geleë aan die Kopaïsmeer in die noorde (vandag drooggelê vir landbougrond) was ’n welvarende stad in antieke tye, wat selfs met Thebe ten suide daarvan meegeding het. Die Minoërs het ook aan die Trojaanse Oorlog van die 12de eeu vC deelgeneem (vgl. Homerus se Ilias 2.51 by die “Katalogus van Skepe”). Heinrich Schliemann het vir ses jaar lank, 1880-86 daar opgrawings gedoen. Hy het gemeen dat hy daar sy suksesse by Mukene kon herhaal. Hy het ook die Tolos-graftombe (met ’n koepeldak soos by Mukene) blootgelê, wat hy ook die “Graftombe van Minos” genoem het (vergelykbaar met die “Graftombe van Atreus” by Mukene). Dit was een van die grootste begraafplase in die Mukeense tydperk, waar die koninklikes van Orgomenos begrawe is. In die 2de eeu AD het die Griekse reisiger Pausanias dit besoek en in detail beskrywe (by 9.38,2-3). In die 12de eeu vC is Orgomenos verwoes, heel waarskynlik deur die Doriese Intog. Dit is egter sedertdien oopgebreek en beroof. Die Minoërs het gevorderde pottebakkerswerk op die wiel vervaardig, wat Schliemann as “Grys Minoaans” gedoop het, omdat dit geglasuur was, die vroegste van sy soort in Griekeland. ’n Groot amfiteater, wat uit ’n veel later tyd dateer, en met dié by Epidauros vergelyk kan word, is ook daar geleë].
Tiryns: Der prähistorische Palast der Könige von Tiryns (Leipzig, 1886) [Waar Mukene ongeveer in die middel van Argolis lê, is Tíryns meer na die suide geleë naby die ingang tot die Golf van Argolis, ongeveer een myl van die see af. Tiryns was ook ’n vesting, net soos Mukene, op ’n rotsagtige heuwel geleë. Ook Tiryns was in voor-historiese (Neolitiese) tye bewoon. Teen die begin van 2 000 vC het Homerus se Achajers, as Griekssprekendes, hulle ook daar kom vestig. Hierdie vesting is later in drie fases uitgebou met die konstruksie van ’n reuse muur daaromheen, die vergroting van die burg deur die aanbring van terrasse, en die bou van ondergrondse stoorkamers. Die stadsmure van Tiryns is geweldig breed, tot sewe meter (25 vt. en meer). Die is gebou met onafgewerkte rotsblokke, waarvan Pausanias (2. 25. 8), die Griekse reisiger in die 2de eeu AD, gesê het dat twee muile nie eens van die kleinere rotsblokke sou kon beweeg het nie. Daarom word dit met die adjektief “Siklopies” beskryf, omdat net die reusagtige eenoog-siklope dit sou kon beweeg het om in plek te sit. Homerus (vgl. Ilias 2. 559) het dan ook gepraat van die “magtige mure van Tiryns”. Hoewel daar mitologies beweer word die held Herakles in Tiryns gebore is, speel dit (snaaks genoeg) feitlik geen rol in die oud-Griekse heldedigte, liriek en drama nie. Die eerste opgrawings by van die akropolis van Tiryns is in 1831 uitgevoer deur die Duitser Friedrich Thiersch. Van 1884 tot die volgende jaar het Heinrich Schliemann ook opgrawingswerk by Tiryns onderneem. Hy het daar na (nog) ’n Mukeense paleis gesoek, maar die terrein amper vernietig deur dit eerder as ’n Middeleeuse vesting te beskou. Daarna het sy vriend Wilhelm Dörpfeld egter die werklike argeologiese wondere daarvan blootgelê met sy opgrawings. Die opgrawings by Tiryns het voortgeduur tot 1938. Na die Tweede Wêreldoorlog is die werk daar hervat, en is dit ook later tot ’n wêrelderfnisterrein verklaar. Die fondasies van die beroemde megaron (’n groot saal in die Mukeense tyd) daarvan is blootgelê met sy prodromos (voorsaal) en dromos (hoofsaal). Die sikliese haard van Tiryns is ook gevind, wat omring was deur vier houtpilare, en daarnaas die troongestoelte van die koning. Die mure was gedekoreer met kleurryke fresko’s. In een van die graftombes is ook ’n brons helm ontdek. Uniek is ook die kliptonnels wat vanaf die akropolis gebou is na die nabygeleë waterfonteine (waarvan daar drie was, een in die weste, met sy eie geheime ingang, en twee tonnels van ongeveer 17 meter lank noord van die stadsmure). Dit was uiters belangrik as die stad beleër sou word. Met die Doriese Intog teen 1200 vC het Tiryns, net soos Mukene, ook kwaai deurgeloop onder grootskaalse vernietiging. Tiryns moes, volgens berekening, uiteindelik meer as 10 000 inwoners gehad het wat aan die voet van sy akropolis gewoon het. Aan die begin van die klassieke era het Tiryns, net soos Mukene sy eertydse belangrikheid verloor. Toe Kleomenis I van Sparta dit aan die begin van die 5de eeu vC verslaan het, het die slawe van Tiryns nog vir baie jare in die sitadel bly woon, vertel Herodotus ons (6. 83). In die Peloponnesiese Oorlog wou Tiryns neutraal bly. Met die tweede aanval van die Perse onder Xerxes in 480, het Tiryns die volgende jaar nog deelgeneem aan die landslag by Plataia volgens Herodotus (9. 28)].
Bericht über der Ausgrabungen in Troja im Jahre 1871 bis 1873 (Artemis & Winkler, 2000, postuum)
Auf den Spuren Homers (Erdmann, Stuttgart, 2003, postuum)
Briefe von Heinrich Schliemann (W de Gruyter, 1936)
Vergelyk ook hier die volgende werke wat deur vriende van Schliemann gepubliseer is onmiddellik na sy dood:
Rudof Virchow & P Ascherson, Ilios: Stadt und Land der Trojaner. Forschungen und Entdeckungen in der Troas und besonders auf der Baustelle von Troja (Leipzig, FA Brockhaus, 1881; in Engels verskyn as Ilios, the City and Country of the Trojans: The Results of Researches and Discoveries on the Site of Troy and throughout the Troad in the Years 1871–72–73–78–79, New York, Harper & Bros., 1881)
F Adler & Wilhelm Dörpfeld, Tiryns: the Prehistoric Palace of the Kings of Tiryns (New York, Schriber, 1885)
Bibliografie van Heinrich Schliemann
Heinrich Schliemann, Selbstbiographie: bis zu seinem Tode vervollständigt (Leipzig, FA Brockhaus, 1892, geredigeer en voltooi deur Schliemann se vrou, Sophia)
Karl Schuchhardt, Schliemann’s Ausgrabungen in Troja, Tiryns, Orchomenos, Ithaka im Lichte der heutingen Wisschenschaft (2te Aufl., Brockhaus, 1891). Hierdie werk het verskyn met Schliemann se dood. Dit is in Engels vertaal deur Eugenie Sellers as Schliemann’s Excavations: An Archaelogical and Historical Study (MacMillan, 1891)
Emil Ludwig, Schliemann of Troy: The Story of a Gold-Seeker (Little, Brown & Co, 1931)
Leo Deuel, Memoirs of Heinrich Schliemann: A Documentary Portrait drawn from his Autobiographical Writings, Letters and Excavation Reports (Harper & Row, New York, 1977)
Alan Honour (vertaal A Crafford), Die Rykaard met die pik (Tafelberg Uitgewers, Kaapstad, 1962)
Michael Wood, In Search of the Troyan War (University of California Press, 1987, 1998)
Lynn & Gray Poole, One Passion, Two Loves (Crowel, 1966)
Arnold C Brackman, The Dream of Troy (Van Nostrand Reinhold Co, New York, 1974, 1979)
George E Mylonas, Mycenae rich in Gold (Ekdotike Athena, Athenai, 1983)
Katerina von Burg, Heinrich Schliemann: For Gold or Glory? (Windsor Press Publications, 1987)
Pierre SR (Robert) Payne, The Gold of Troy (herdr Dorset, New York, 1959, 1990)
Caroline Moorehead, The Lost Treasure of Troy (Weidenfeld & Nicholson, 1994)
Eric Glasgow, “The Gold of Troy Emerges” (Contemporary Review, vol 268, no 1565, Junie 1996)
Vladimir Tolskikov & Mikhael Treister, The Gold of Troy: Searching for Homer’s Fabled City (Abrams, Sc1996)
David A Traill, Schliemann of Troy: Treasure and Deceit (St Martin’s Press, New York, 1996)
Susan Heuck Allen, Finding the Walls of Troy: Frank Calvert and Heinrich Schliemann at His[s]arlik (University of California Press, 1999)
Laura A Schlitz & Robert Byrd, The Hero Schliemann: The Dreamer Who Dug for Troy (Candlewick, 2006)
Trever Bruce, The Troyans and their Neighbours (Taylor & Francis, 2009)
Jill Rubalcaba, Digging for Troy: From Homer to Has[s]arlik (A Junior Library Guild Collection, 2012)
Wolfgang Bernard, Homer-Forschungen zu Schliemann’s Zeit und heute (Wayback-Argief, 9 Junie 2007)
Ander werke rondom Heinrich Schliemann
Irving Stone, The Greek Treasure: A Biographical novel of Henry and Sophia Schliemann (Doubleday, New York, 197. Hierdie werk was die basis van die Duitse TV-produksie Der geheimnisvolle Schatz von Troja van 2007)
Peter Ackroyd, The Fall of Troy. A Novel (2006)
Chris Kuzneski, The Lost Throne (2008, ’n roman waarin ons verhaal slegs bygehaal word)
The post Heinrich Schliemann, opgrawer van Troje en Mukene appeared first on LitNet.