Die verstikkende rookreuk in die lug, in die neus en op die tong. Die gewoer van laagvlieënde helikopters. Die geloei van die brandweerwa-alarms. Die gepop-pop van ontploffende toestelle. Die geweeklaag van mense wat als verloor het.
Dit is die taal van vuur.
Wit of gryserige rook beteken dis veld wat brand. Donkergrys, amper swart, borrelende rook beteken geboue. Huise. Besighede. Daai swart wolke gaan altyd gepaard met kleiner ontploffings. Dis die les wat ons die afgelope paar jaar in my tuisdorp geleer het.
Dis die taal van vuur.
Dis die as en roet wat op als neersak. In die hond se waterbak. Op die wasgoed. Op die vloere. In jou hare en op jou klere. Een omroeper op die plaaslike gemeenskapsradiostasie het vroeër hierdie week gesê dat hy nou al weet as iemand soggens werk toe kom en hulle ruik asof hulle van ’n braai af kom, dan kom hulle waarskynlik van Grabouw af.
Dis die hartverskeurende mooi rooi van die son wanneer rook die atmosfeer inwalm.
Dis die aansig van skilpaaie wat in hulle doppe verbrand. Van slange wat vlug saam met bokkies. Dis die realiteit van ’n vrugbare veld wat in ’n oogknip vernietig word, sodat net swart stokkies en grys aarde oorbly.
Dis rook wat vir dae na die tyd nog uit die veld of gebou bly styg. Dis die vrees dat die geringste windjie die kooltjies opnuut kan aanblaas.
Dis die gehyg na asem van mens en dier wanneer daar nie meer genoeg skoon, vars lug deurkom nie.
Dis die bloedbelope oë en krom skouers van die brandbestryders wat die vlamme probeer blus.
In ander tye sou ek hulle pogings met Hercules s’n vergelyk. Hierdie jaar voel Sisyphus meer gepas.
Dit hou net nie op nie. As een brand in toom is, dan spring twee ander op.
Dis die taal van vuur.
Elke jaar in Desember en Januarie brand dit. Hierdie jaar tref dit verder. Sir Lowry’s Pas. Tafelberg. Paarl. Stellenbosch. Kleinmond. Worcester.
Vuur is die groot gelykmaker. Herehuis of plakkkershut – maak geen verskil nie. Dis onverskillig teenoor ras, of geslag, of sosiale status. Dit vra nie hoeveel geld jy in die bank of onder die bed het nie. Dit verteer net.
Ons obsessie met, en vrees vir, vuur is oeroud. Diere het ’n instinktiewe vrees vir vuur. Mense ook. Maar ons het ook ’n obsessie met vlamme. Hoekom anders hou ons ons hand oor die vlam van ’n kers? Hoekom anders word vuur as reinigend beskryf in elke godsdiens? Rookoffers, brandoffers, Isak op die altaar. Hel en die ewigdurende vuur as bestrawwing en afskrikmiddel. Die Heilige Gees en die tonge van vuur.
Dis die taal van vuur.
In selfverdedigingsklasse word vroue geleer om nie “Help!” te skree as hulle aangeval word nie, maar “Brand!”. Mense kom nie uit om te help as jy alleen in gevaar is nie, maar vir iets so elementeel, primitief en onvoorspelbaar soos vuur sal almal uit hulle huise stroom om te help. Hulle weet vuur onderskei nie.
Dis die taal van vuur.
In betogings word daar telkens goed aan die brand gesteek. Voertuie. Biblioteke. Vlae. Kunswerke. Vuur is ’n manier om protes aan te teken.
Ons taal is deurspek met verwysings na vuur: Nuus versprei soos ’n veldbrand. Hy brand van begeerte. Sy brand van nuuskierigheid. In die kookwater wees. Out of the frying pan, into the fire. Jy gaan jou vingers brand. Soos ’n kat op ’n warm plaat wees. Waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie. Vuur met vuur beveg. Sy blaas vanoggend weer vuur. Vuurvreter wees. Hy was so kwaad, daar het rook by sy ore uitgekom. De hel in wees. In die rook draai.
Dis die taal van ons obsessie met vuur.
Vuur is ’n sosiale gom. Ons kom om die braaivleisvuur bymekaar in somer. Kinders word geleer om marshmallows op stokkies te sit en dit te braai. In die winter is daar niks lekkerder as ’n kaggelvuur nie. Watter advertensie om toeriste na Suid-Afrika te lok, het nie een of ander beeld van vuur as teken van geselligheid nie?
Dis ook die taal van vuur.
Dit brand elke somer. Wat hierdie somer anders maak, is dit wat brand. Oop stukke grond wat vreemd genoeg feitlik altyd aan munisipaliteite behoort. Winsgewende, produserende plase wat nou vir jare nie oeste sal lewer nie. Historiese geboue. Areas wat toeriste trek.
In geen area was daar net een brand nie. Dis elke keer meerdere brande, wat die brandbestryders forseer om hulle fokus te versprei. Dis brande in areas wat alreeds onder druk verkeer om water te bespaar, en nou word ons forseer om die alreeds kwynende reserwes te gebruik om brande waaraan daar skynbaar geen einde is nie, te blus.
Vuur is gulsig. Dit verteer als, maar hierdie jaar se vure voel al asof dit uitsoekerig is, asof dit aangetrokke is tot spesifieke teikens. Dit voel asof daar kwaadwillige intelligensie daaragter sit. Gekoördineerde kwaadwillige intelligensie.
Vuur is tekenend van verlies. Lewensverlies. Verlies aan eiendom. Verlies aan herinneringe. Verlies aan vreugde. Verlies aan vrede. Binnekort, verlies aan water. Verlies aan inkomste. Verlies.
Vuur is ook tekenend van hernuwing. Ons kan net hoop dat die Wes-Kaap soos ’n feniks uit die asse sal verrys.
Dis die taal van vuur, ’n taal waarin ons die afgelope tyd geforseer is om vlot te raak.
Maar wee diegene wat met vuurhoutjie en petrol ons leermeesters is.
The post Die taal van vuur appeared first on LitNet.