Die mens het seker deur middel van taal gekommunikeer so lank as wat hy bestaan, maar dis maar ongeveer 3000 jaar gelede dat iemand belang gestel het daarin om taal te ondersoek. Dit het onafhanklik van mekaar op twee plekke in die wêreld plaasgevind, nl Indië en Griekeland.
In Indië het ene Panini bekendheid verwerf deur sy geskrif Astadhayayi wat ʼn studie is van Sanskrit se fonologiese struktuur. Panini het beweer dat stukkies woorde in ʼn bepaalde volgorde aanmekaar gegom moet word om ʼn woord te vorm wat betekenis dra.
In Europa was dit die Grieke wat die eerste in die struktuur van taal begin belang stel het, en het dit bestudeer. Die wysgeer, Aristoteles (382—322 vC), was die eerste wat daarmee begin het. Hy het die sin verdeel in onderwerp en gesegde (subject, predicate), soortgelyk aan naamwoordstuk, werkwoordstuk, soos Chomsky sinsontleding doen, waarvan ek alreeds geskryf het. Die Griekse grammatika is verder gevoer deur mense soos Appolonius Discolus (110—175) en Thrax (200 – 100 vC). Thrax het die eerste volledige grammatika vir Grieks geskryf, ʼn taal wat heel geskik was om grammatika te demonstreer, met al sy verskillende agtervoegsels aan woorde. Deur die posisies van die woorde in sinne te bestudeer, het Thrax tot die gevolgtrekking gekom dat daar agt verskillende woordsoorte (parts of speech) is: naamwoorde, werkwoorde, lidwoorde, voornaamwoorde, voorsetsels, voegwoorde, bywoorde en deelwoorde.
Thrax se beskrywing van Grieks was die model vir grammatika in Europa tot en met die twintigste eeu.
Met die verowering van Griekeland deur die Romeine in die tweede eeu vC het Romeinse studente die Griekse grammatika op Latyn begin toepas, en Latyn op dieselfde wyse begin analiseer. Hulle het gevind dat Latyn se struktuur baie soos dié van Grieks is.
In die sesde eeu nC Het die Grieks-Latynse tradisie sy beslag gevind in die werk van Priscius, en tot vandag toe word sy grammatika op skool bestudeer, veral in vakke soos Latyn en Grieks.
Toe grammatici teen ongeveer die vyftiende eeu in Europa hulle tale intensief begin bestudeer het, het hulle Priscius se Latynse grammatika as model gebruik. Dit het maar moeilik gegaan, want Spaans, Frans en Duits se strukture is effens anders as Latyn s’n. Latyn het bv sewe naamvalle, terwyl Duits kan klaarkom met net vier.
Die Grieks-Latynse grammatika word tot vandag toe nog bestudeer, alhoewel Engelse skole in die sestiger jare al formele grammatika-onderrig begin verbied het. Wat Afrikaans betref, het daar in die sestigerjare ook heelwat vernuwing plaasgevind wat die grammatika-onderrig betref. Tweedetaalonderrig het ook heeltemal afgesien van die grammatika-vertaalmetode, en begin toespits op die direkte metode van taalonderrig.
Natuurlik het verskeie taalgeleerdes pogings aangewend om weg te breek van tradisionele Latynse grammatika. Hier dink ek aan die groep linguiste wat bekend gestaan het as die Port-Royal groep in die 17de eeu. Hulle het probeer om ʼn universele grammatika vir Frans te skryf, wat neergekom het op die ondersoek na wat taal op ʼn gegewe oomblik doen. Die Duitser, Wilhelm von Humboldt (1767 – 1835) het probeer om ʼn universele, filosofiese benadering te skep vir die ondersoek na die wese van taal. Hy het veral gekonsentreer op die innere Sprachform van taal, wat ʼn weergawe is van die denke van die mens. Taal en denke, het hy gesê, kan nie van mekaar geskei word nie.
Teen die einde van die agtiende eeu het linguiste begin besef dat tale ʼn groot ooreenkoms toon en, soos alle lewe op aarde, alle tale ʼn gemeenskaplike voorvader het.
Hier moet ek egter vir eers halt roep.
Word vervolg ...
The post ʼn Kort geskiedenis van linguistiek: vir Jan Rap appeared first on LitNet.