Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Bram Fischer was 'n juris van formaat.[1] As Johannesburgse advokaat het hy uitgeblink as 'n kenner van die mynreg, maar gedurende die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu het hy groter bekendheid verwerf vir die talle politieke verhore waarin hy namens die beskuldigdes opgetree het. In 1964 was hy die leier van die verdedigingspan in die bekende Rivonia-verhoor. Toe die beskuldigdes in daardie saak – onder meer Nelson Mandela, Walter Sisulu en Govan Mbeki – skuldig bevind en lewenslange gevangenisstraf opgelê is, het hulle 'n geheim met Fischer gedeel: Bram was self 'n senior lid van die toe nog verbode Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, maar dit was nie algemeen bekend nie.
Die bom het kort na die Rivonia-verhoor gebars. Fischer self is saam met 'n paar ander aangekeer en daarvan aangekla dat hulle lede van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika was en dat hulle die doelstellinge van die kommunisme bevorder het. Fischer het op daardie stadium op die punt gestaan om na Londen te vertrek om voor die Geheime Raad te verskyn in 'n uitgerekte saak oor patentregte. (Slegs ‘n klein, uitgelese groep Suid-Afrikaanse regsgeleerdes het indertyd verskyningsbevoegdheid voor die Geheime Raad geniet.)
Fischer se aansoek om op borgtog vrygelaat te word is op verbete wyse deur die staat teengestaan, want as hy nie na die land sou terugkeer vir sy verhoor nie, sou maande lange ondersoekwerk deur die polisie tevergeefs gewees het en sou hy in die buiteland met sy bedrywighede teen die staat kon voortgaan. Fischer se aansoek was egter suksesvol en hy is op borgtog van R10 000 – wat destyds baie geld was – vrygelaat. (In vandag se geld, sou ek raai, sou dit straks soveel as R500 000 wees!)
Bram Fischer het wel sy woord gestand gedoen en na die Republiek teruggekeer vir sy verhoor. Dit was 'n opspraakwekkende saak, veral toe adjudant-offisier Gerard Ludi – wat in veiligheidskringe bekend was as Q018 – begin getuig het oor die beskuldigdes se ondermynende bedrywighede teen die regering van Hendrik Verwoerd.
Dit moes vir Fischer duidelik begin word het dat die staat 'n baie sterk saak teen hom en sy rooi kamerade gehad het, want op 25 Januarie 1965 het hy versuim om by die verhoor op te daag.
In 'n brief aan sy advokaat het hy die redes vir sy stap breedvoerig uiteengesit. In hoofsaak wou hy voortgaan met sy politieke werk wat – so het hy geglo – die vernietiging behels het van die "monsteragtige beleid van apartheid", soos hy dit gestel het. Hy het aanvanklik gaan wegkruip op ’n plaas in die Rustenburg-omgewing. Na plastiese snykunde en met ‘n pikswart baard as vermomming het hy onder die skuilnaam Douglas Black ’n huis in Johannesburg betrek.
Fischer se verdwyning het verreikende gevolge vir hom ingehou. Sy borgtog van R10 000 is ingetrek en een van die grootste soektogte in ons misdaadgeskiedenis is op tou gesit. Daarbenewens het die Vereniging van Advokate aansoek gedoen dat sy naam van die rol van praktiserende advokate geskrap moes word.[2] Die regter wat die aansoek verhoor en toegestaan het, het beslis dat Fischer se verdwyning 'n verbreking was van sy opregte versekering toe hy om borgtog aansoek gedoen het dat hy sy verhoor enduit sou bywoon. As ‘n hof die oneerlike optrede deur 'n senior en gerespekteerde advokaat oor die hoof sou sien, sou dit 'n erg negatiewe invloed op die regsadministrasie van die land hê, het die hof beslis.
Fischer is na fyn, intensiewe speurwerk op 11 November 1965 – vandeesmaand 50 jaar gelede – in hegtenis geneem. Op 9 Mei 1966 is hy weens sameswering om die regering omver te werp lewenslange gevangenisstrafopgelê. Daarbenewens is hy 20 jaar gevangenisstraf opgelê vir sy deelname aan die bedrywighede van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Voor sy vonnisoplegging het Fischer die hof vier en ’n halfuur lank oor die kommunisme en sy geloof daarin toegespreek. ‘n Jaar later – op Meidag 1967 – het die Sowejetunie die Leninprys vir Vrede aan hom toegeken.
Fischer is aanvanklik op Robbeneiland aangehou, maar later na die Sentrale Gevangenis in Kaapstad oorgeplaas nadat hy met kanker gediagnoseer is. Kort voor sy dood het die destydse minister van justisie toegestem dat hy by sy broer, 'n medikus van Bloemfontein, versorg kon word. Hy is op 8 Mei 1975 oorlede.
Fischer kom uit ‘n aristokratiese Afrikanerfamilie. Sowel sy bekende pa, Percy Ulrich Fischer, as sy oupa, Abraham Fischer, was regsgeleerdes. Sy pa was ‘n Vrystaatse hoofregter en sy oupa was eerste minister in die eerste kabinet van die Oranjerivierkolonie in 1907. Fischer het ook sterk bande met Jan Smuts gehad: hy is in 1937 getroud met Molly Krige, ‘n kleinnig van Issie Smuts, die vrou van die generaal. Molly se vader, Tottie Krige, was Smuts se adjudant tydens die Tweede Vryheidsoorlog.
Verskeie biografieë oor Fischer het al die lig gesien, onder meer Hannes Haasbroek se voortreflike ’n Seun soos Bram: ‘n portret van Bram Fischer en sy ma Ella.[3]
In ‘n merkwaardige ommekeer het ‘n volbank van die hooggeregshof in Johannesburg op 16 Oktober 2003 Fischer se status as advokaat – wat hom in 1965 ontneem is – postuum herstel.[4] Die postume toekenning in Desember 2004 van die graad DPhil honoris causa aan Fischer deur die Universiteit Stellenbosch was erg omstrede en het tot ‘n lewendige polemiek in veral die Afrikaanse pers gelei: hy was immers ‘n keiharde Stalinis, is gesê.
[1] Vgl in die algemeen Ludi en Grobbelaar: Die verbasende Bram Fischer, Nasionale Boekhandel, 1966; Wikipedia
[2] Society of Advocates of SA (Witwatersrand Division) v Fischer 1966(1) SA 133 (TPA)
[3] Umuzi, 2011 (ISBN: 97814152014703)
[4] Rice and Another v Society of Advocates Of South Africa (Witwatersrand Division) 2004 (5) SA 537 (W)
The post Regsalmanak: Bram Fischer appeared first on LitNet.