Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Vakansietyd – verlossingstryd

$
0
0

Die betonkapitaliste het gister weer die kruiwaens en swierwaens se neuse soos skoon troffels op ’n rak na die werkplek laat trek. Die lang somervakansie is verby en dis weer tyd vir arbeid.

Of so sê hulle.

Ek het min of amper geen vakansie-geselsies met my werksvriende gemaak nie, want toe die vensters-10 die aansitsleutel draai, storm daar ’n swerm posstukke in gelid die skerm vol en 358 goed, bemoerd en niks bedoelende e-posse vereis onmiddellike aandag.

Die baas, (ja, ek is nie die baas nie!) het geland en 09:00 sweef hy die kantoor binne; vars maar vaal uit die winter van die Noorde na sy kort oggendstappie op Seepunt se promenade. Ons raak-raak net aan die mees algemene van feite en geite oor die werk vir die week en met genoeg kennis en tyd om dit te gaan verteer, is sy besoek uit die beloofde land tog nie te onaardig nie.

Dan kom ons by die debiteurslys; daardie snuiters en skobbejakke en pierewaaiers wat die geld verkwis het, eerder as om ons te betaal!

Almal weet tog – betaal die winkel-, fabriek- of kantoordak oor jou kop eerste!     

“Bel jy daai een, dan e-pos ek hierdie een … vanjaar is ons Bulldogs wat nie kansvatters gaan duld nie!”...kon ek en my kollega die debiteursvergadering laggend laat afsluit! 

Terug by die e-posse, wat nou reeds goed tot ’n paar kopkrappers verminder het. Dit werk tog so: los die moeilikes vir later en terwyl jy die maklikes sonder veel denkery deurdraf, kan die onderbewussyn solank aan hulle skaaf en wanneer jy uiteindelik en noodgedwonge daar uitkom, dan is jou gedagtes reg vir die roer. Maar, die hou-vir-hou beskrywing van my werksdag is uiteraard nie iets wat regverdiglik in enige saamleser se oogkas ingedruk moet word nie; dit was vakansietyd en daar is tog immers vakansiestories om te vertel …

Ek het ’n lastige belydenis om te lewer …

Ek gaan nie verskriklik gemaklik om met vreemde ablusiegeriewe nie. Soms is dit selfs sielkundige moeite om ’n ander troon as die een waaraan ek gewoond is, by ons eie huisie te bestyg.

Ieder geval, so het ons elkeen maar ’n gat in ons mondering of ’n vlekkol op die harnas.

Myne was die afgelope Kerstyd tot op die uiterste van uiterstes bep(r)oef én oorwin. Ja my volk van daaglikse verlossing, ek het die stryd van vrees vir ’n vreemde toilet aangevat en oorwin!

Dit was die oggend na Kersdag.

Ons was ’n klomp gaste, saam met my geliefde se ouers en uitgebreide familie, by haar familie in ’n pragtige huis net ’n klip en ’n bietjie se gooi van die branders duskant Hermanus.  ’n Lekker kuierplek tussen Melkhoutbome met  ’n teerpad, ’n paar ou en restoureerbare huise en ’n woonwapark. Die einste woonwapark wat sonder instemming tot die redding van ’n oorlopende krisis ingetree het. (Ten einde die waardigheid van onskuldige mense te beskerm, sal ek met hierdie omgewingsbeskrywing volstaan.)

 Dit was steeds die oggend na Kersdag.

Die etes van die vorige dae, ja dae, was heerliker as heerlik en die poeding, ’n welbespreekte maar onderskatte “trifle”, was in ’n rak van haar eie. Ons het almal die lekkerte van die feestyd met kouende plesier deurgesit … alhoewel, “sit” nie eintlik die gepaste woord hier is nie.

Want, die huis met sy vier toilette – almal en-suite – het op hierdie naweek besluit om eers die een en daarna elk van die ander toilette te laat staak. Gelukkig was daar darem deurentyd ’n toilet of twee wat saamgewerk het, behalwe natuurlik dat dit vir my sagte wit boudvleisies nie beskore was om enige van die twee vorige dae op een van die werkende of selfs stukkende toilette te kon sit nie; die ablusie-angs het my voedselverwerking en hul seine na my verstand en knypspiere so bewimpel, dat nog ’n slukkie wyn, boudvleis, hoender of selfs die “trifle”, nie genoeg was om die angs  te verlig nie.

 Tot die oggend na Kersdag …

Tot my geliefde se heerlike koffie my maagsak (wynsak / slaaisak / vleissak / trifle-sak – wie weet?) getref het en die boodskap verby die angs geglip het om beide my verstand en kardinale beheerspiere met ’n groot geskal en ontwrigtende wrywing te laat aangekondig, dat ek baie gouer as enigsins later een van die stukkende toilette sou moes beklim. “Maar hoe?! – die goed is reeds vol!”

Dit was hier, op hierdie oggend na Kersdag, wat ek die pad gevat het en die gat in my mondering gaan toemaak het …

Om eerlik te wees, dit was nie maklik nie, want soos ek teen die oggendson-in my plakkies versigtig oor die teerpad laat skuur het, het die sweet van angs teen my rug en bene afgeloop, so-by-so dat ek moes seker maak dat dit inderwaarheid wel net sweet was!

My gedagtes was ’n warboel van soeke en denke vir plekke van ontlasting, toe die krampe my oordeel onwillekeurig tot helderheid dwing en ek van die woonwapark onthou …

My voete het sommer self vinniger begin beweeg; nie te veel nie, want die rolverdeling tussen die knypspiere en die bene was so fyn bedraad, dat die geringste oorywerigheid ’n nare aandadigheid tot gevolg kon hê. Meters na meters het die woonwapark nader gekom toe die trekkende angsglimlag op my gesig versuur word deur die besef dat ek nie weet waar die toilette in die woonwapark is nie!

“Sê nou net die wasblokke is aan die oorkant of links of regs en ek gaan na die verkeerde kant toe … ag Here, help my tog; laat die toilette naby aan die hek wees …”

My gebedsgedagte was skaars woord toe ek deur die hek stap en die wit gebou knap links van die hoofingang sien!

Verligting, angs en spanning het mekaar voos vuisgeslaan om die eerste emosie te wees, toe hul al drie deur ’n indringer uitgekap word … ’n werker in die toilette, ’n dame wat die mans se badkamers se vloere was!

“ More dame, geseënde Kersfees en kan jy asb die gebou verlaat?” het soos bone uit ’n sous geborrel toe ek die deurtjie ooppluk, sy vra ewe nog hoekom toe ek met die laaste helder denke haar gillend antwoord: “Want jy wil nie NOU hier wees nie!”

Ja my volk van daaglikse verlossing, ek het die stryd van vrees vir ’n vreemde toilet aangevat en oorwin; ek het my op die onbekende pad begewe, die angs tweevoetig aangedurf en ’n bak van verligting gevind.

Ek hoop regtig die arme dame van die woonwapark is ongedeerd.

 

The post Vakansietyd – verlossingstryd appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>