My huis
My huis is waar my man se arms my omhels, toevou en laat veilig voel.
Waar sy soene my begroet en sy sagte oë bevestig dat dit wat hy sê, is wat hy bedoel.
My huis is waar ons bymekaar is, lag, liefhet, speel, bemoedig en leef.
Dit is waar ons onsself kan wees, kwaad raak, huil, praat en vergeef.
My huis is waar kinderlaggies die leemtes van die kamers vul.
Kinderlyfie-liefies wat inkruip tussen die warm komberse en teen my lyf opkrul.
My huis is waar daar trane is en waar dit nie altyd goed hoef te gaan.
Waar ons hande neem en saam bid, want Jesus is die Rots waarop ons staan.
My huis is waar daar vrede is, vergifnis en geloof.
Dit is waar ek op my knieë gaan en my hande lig om God te loof.
My huis is waar my Vader is en waar ook al ek heen gaan.
Dit is waar my huis is, dit is my lewensbestaan.
My huis volg die ritme van ’n lewenslied in my hart se spore.
My huis is ’n plek van veilig wees, dis die lied van geloof, hoop en liefde van engelekore.
My huis is hier net tydelik en ek wag in opwinding vir eendag,
Wanneer ek waarlik huis toe gaan en Jesus, met ’n glimlag, my in gaan wag.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: My huis appeared first on LitNet.