Goeie komedie en lekkerlagstories was nog altyd op die meeste van ons se lysie van voorkeure. Nodeloos om te sê, is daar sekere lewensgebeure en sketse wat vir sommige van ons snaakser is as vir ander, en natuurlik andersom. Die kwets en seermaak van ’n persoon se selfbeeld en wese was nog nooit vir my snaaks nie, maar die val en opstaan en wankel en neerslaan wel.
Jare gelede , in die vorige politieke bestel en lewe, het die uwe sy eerste ondernemingsdeure in die voormalige sakekern van die eens vooruitstrewende Bellville geopen. Die kantore was mooi ingerig met ’n vars dametjie in ontvangs, telefone, ’n rekenaar, nuwe meubels, koppies en pierings en stoele met hoë rugleunings. Al wat geskort het, was die naam op die gebou.
Langs die agtverdiepinggebou, regoor wat eens 'n trotse Bellville Biblioteek was, moes die naambord teen ’n muur wat teen ’n veldjie grens, gehang word.
Die een oggend, na ’n langerige naweek, daag die naambordmense by die perseel op en begin om die steier op te rig. Van die veldjie se grasoppervlakke tot waar die naambord se rusplek wag, was seker ten minste 3 verdiepings hoog. Die ouens het die meeste van die oggend aan die steier-opsit spandeer. So dan en wan het ons gaan loer en elke keer het die klank van Sondagmiddag se wyn al hoe sterker by die manne begin ruik.
Die ouens het gesweet want die lewerspons was nog klam van die wyn, behalwe die een voorprater op die projek. Sy spons was sommer deeglik nat en dit wou voorkom asof die ding net nie wou uitdroog nie! Hy was die hoofdenker, -inspireerder, -beplanner en -vakman op hierdie winderige dag ...
Die steier was uiteindelik op en teen die gebou geanker. Die voorprater en nog ’n man was bo-op en die naambord was stadig maar seker besig om teen die staalkante op te gly; wind en wankeling ten spyt.
Op die grasperk hier ver onder, het die nuuskieriges en belangstelling intussen toegeneem; dis tog nie aldag dat ’n nuwe naambord in ou Bellville gehang word nie!
Voorpraatman en sy handlanger het die naambord ongedeerd op hul hoogte gekry en die lompe struktuur teen die muur gehou om die “levels te check”. Voorpraatman was glad nie tevrede nie en het kort-kort na onder gegil dat ons ’n aanduiding moet gee wanneer die bord waterpas is.
So gegil en so gedaan. Maar, steeds was hy nie tevrede nie en met die een suiwere knoopslag op die ander gee hy ’n finale opdrag vir sy windvoos handlanger, “dê, hou die bord vas” en met dié staan hy terug om die waterpaslyn te beskou, maar steeds is hy nie tevrede nie en neem nóg ’n tree agteruit ...
Dit was al lank ná middagete toe die ambulans met sy kosbare vrag besope bene in Voortrekkerweg af skril, op pad Tygerberg Hospitaal toe! Hy is na 4 maande ontslaan en het weer leer loop.
Gepraat van advertensieborde ...
Die anderdag sien ’n kêrel ’n advertensiebord voor ’n huis. Op die bord staan handgeskrewe: Pratende hond te koop.
Hy lui die deurklokkie en die hond se eienaar maak sy verskyning en sê hy kan die hond in die agterplaas gaan soek.
Hy loop toe na die agterkant van die huis en daar sien hy ’n brakkie wat op ’n polletjie gras sit.
''Praat jy?'' vra hy.
''Natuurlik my ou," sê die brak.
''Dis interessant. Vertel my meer. Wat is jou storie?''
''Wel,'' sê die brak en kyk hom stip in die oë, ''ek was nog maar net ’n jong brakkie toe ek al besef het dat ek hierdie vermoë besit, en ek wou graag ’n speurder word. Maar toe kom die Departement van Buitelandse Sake van my te hore en hulle besluit ek is die volmaakte internasionale spioen. Kort voor lank stuur hulle my toe van land tot land waar ek allerhande hooggeplaastes afgeluister het sonder dat dié ’n benul gehad het dat ek kon begryp wat hulle sê.
“Nie eens James Bond was so ’n goeie geheime agent soos ek nie. Ek was agt jaar lank ons land se waardevolste spioen. Maar toe word ek moeg daarvoor en keer ek terug om ’n fabriek wat hondekos vervaardig op te rig. Die kosbesigheid het mettertyd die mees geslaagde onderneming van sy soort in die land geword.
“Ek is selfs bekroon as die Knorrigste maar Suksesvolste Entrepreneur van die Jaar!
“Ek het ook ’n dierbare teef van ’n vrou gehad en baie jong hondjies, maar nou is ek net ’n pensionaris.”
Die kêrel slaan sy hande in ongeloof saam. Hy haas hom terug na die brak se eienaar en vra hoeveel hy vir die hond wil hê.
''Tien rand,'' sê die eienaar.
''Tien rand!?'' vra die kêrel verbaas.
''Hierdie hond is die grootste fenomeen wat ek nog ooit teëgekom het. Hoe op aarde kan hy vir jou slegs tien rand werd wees?''
''Man,'' sug die eienaar, ''’n mens kan nie ’n woord glo wat dié ou drommel sê nie!''
Om hierdie ligte maagspierkielie af te sluit, deel ek graag die volgende sensitiewe raad, want snaaks is snaaks, maar:
Jy speel nie rugby in pienk truie nie.
Moenie die kar "spin" as jy in 'n begrafnisstoet ry nie en moenie 'n "Arrive Alive" plakker, op 'n lykswa plak nie.
Die dominee smaak dit nie as jy 'n “cooler box” saamvat kerk toe nie.
Moenie met die mense op die fliek se skerm probeer praat nie. Jarelange wetenskaplike navorsing het bewys dat hulle jou nie kan hoor nie.
As jy jou vrou met 'n kannetjie stuur om te gaan petrol haal, is dit uiters swak maniere om haar te vra om bier ook saam te bring.
Lekker lag ou grote.
The post Lekker lag ou grote appeared first on LitNet.