Bettina Wyngaard en Danie Marais het as afgevaardigdes van PEN Afrikaans die 81ste PEN International-kongres in Québec, Kanada, tussen 13 en 16 Oktober vanjaar bygewoon. Om die 90 van die ongeveer 150 PEN-sentrums wêreldwyd het lede gestuur om hulle by hierdie jaarlikse samekoms van skrywers, uitgewers, vertalers, joernaliste en bloggers te verteenwoordig.
Die funksie van die jaarlikse internasionale PEN-kongres is drievoudig:
- Die Algemene Vergadering (General Assembly) van die kongres is die PEN-parlement waar bindende besluite, amptelike verklarings en resolusies bespreek en aanvaar, gewysig of verwerp word.
- PEN International se onderskeie spesiale komitees (Translation and Linguistic Rights Committee, Writers for Peace Committee, Writers in Prison Committee en Women Writers Committee) asook die regionale netwerke (bv. Central Asia PEN en PEN African Network oftewel PAN) vergader hier om hul strategie, werksaamhede en streekskoördinering te bespreek.
- Die kongres bied ’n gulde geleentheid aan skrywers en die onderskeie sentrums om hul netwerke te versterk, vriendskapsbande te smee en nuwe samewerkingsmoontlikhede te ondersoek.
Bettina het PEN Afrikaans by die vergadering van die Writers in Prison-komitee verteenwoordig, terwyl Danie aan die byeenkoms van die Translation and Linguistic Rights-komitee deelgeneem het. Beide Bettina en Danie het aan die vergadering van PAN, die PEN African Network, deelgeneem. ’n Konferensie vir sowel PAN as die komitee vir vertaling en taalregte word vir Maart 2016 in Johannesburg in die vooruitsig gestel waaraan sowel die uitvoerende direkteur van die PEN International-sekretariaat, Carles Torner, as Romana Cacchioli, die sekretariaat se direkteur van internasionale programme, sal deelneem.
Een van die belangrikste gebeurtenisse op hierdie jaar se kongres was die verkiesing van ’n nuwe president van PEN International. Die uitgaande president, John Ralston Saul, is ’n invloedryke en geliefde figuur wat sedert 2009 hierdie leiersrol met skynbaar onuitputlike energie en diplomatieke sjarme vervul het. Daar was egter groot opgewondenheid oor die verkiesing van die nuwe, eerste vroulike president – die formidabele Jennifer Clement van PEN Mexiko. (Klik hier om meer te lees oor Clement. Vir meer inligting oor die vooraanstaande skrywers wat voorheen president van PEN was, sien: http://www.pen-international.org/who-we-are/pen-presidents/)
Die kongres het ook vanjaar twee prominente verklarings bespreek en aanvaar wat voortaan gebruik sal word as fondamente vir dié organisasie se aktivistiese rol as pleitbesorgers vir meningsvryheid en die regte van alle soorte skrywers en joernaliste wêreldwyd:
- The Québec Declaration on the Literary Translation and Translators (Klik hier om dit af te laai.)
- PEN International Principles on Authors’ Moral Rights and Copyright (Klik hier om dit te lees.)
Veral die laasgenoemde verklaring is belangrik vir Suid-Afrikaanse skrywers in die lig van die regering se voornemens om ons kopieregwetgewing ingrypend te verander. (Vir meer inligting oor hierdie laasgenoemde aspek, sien: http://www.bdlive.co.za/opinion/columnists/2015/09/21/copyright-bill-latest-in-litany-of-laws-of-increasing-oppression)
PEN Afrikaans sal hierdie wetgewing in vennootskap met ander belangegroepe beveg en hierdie pas aanvaarde stellingname is ’n uiters nuttige pyl in ons koker. Beide hierdie verklarings sal so gou moontlik in Afrikaans vertaal word en dan op ons eie webportaal sowel as PEN International se webwerf gepubliseer word. Die 81ste PEN-kongres het daarbenewens 28 resolusies oor ’n wye reeks kwessies aanvaar – onder meer oor massabeloering (“mass surveillance”) en die kommerwekkende uitwerking daarvan op vryheid van spraak, die krisis in Turkye en die Midde-Ooste, die vlugtelingkrisis in Europa en die anti-LGBTQI-wetgewing wat nog in 75 lande bestaan. (Op hierdie bladsy vind jy ’n lys van al die aanvaarde resolusies sowel as skakels na die inhoud van elke resolusie.)
Danie Marais se indrukke van die Québec-kongres:
Die bywoning van die Québec-kongres was vir my ’n openbaring. Ek het geweet waarvoor PEN International staan, watter soort sake hulle ondersteun en dat dit ’n ou organisasie met gravitas en noue bande met UNESCO is. Ek het ook geweet PEN se eerste president was die Nobelpryswenner John Galsworthy en dat Jospeh Conrad, George Bernard Shaw, Elizabeth Craig en H.G. Wells onder van die eerste lede getel het. (Wells was dié NRO se tweede president.)
Maar om werklik saam met meer as 200 skrywers, uitgewers en joernaliste van ongeveer 90 lande onder een dak te sit en te luister hoe internasionale kwessies bespreek word, terwyl daar tegelyk in Engels, Frans en/of Spaans getolk word, is ’n effe surrealistiese ervaring. Dis in hierdie Algemene Vergadering waar jy beleef hoe groot en divers hierdie transnasionale skrywersgemeenskap is en met opwinding besef dat almal hier ten spyte van taal en kultuurverskille tog in twee belangrike opsigte op dieselfde golflengte is: Almal gee om vir meningsvryheid en skryfwerk en probeer dus ook om te verstaan wat hier op aarde met ons aan die gebeur is.
Die skrikwekkende dinge wat op ander ver plekke plaasvind, raak ook skielik onrusbarend naby wanneer jy sit en luister na ’n huldeblyk vir die vise-president van PEN Tibetan Writers Abroad, Lobsang Chokta, wat in Februarie vanjaar in Delhi, Indië, vermoor is terwyl ’n Chinese digter agter jou duidelik hoorbaar huil oor sy oorlede vriend – ’n digter wat in ballingskap gedryf is deur dieselfde regering wat waarskynlik vir Chokta se dood verantwoordelik is.
En vriendelike skrywers in ballingskap loop jy by so ’n PEN-kongres oral raak met die besef dat hulle “die gelukkiges” is, dié wat kon wegkom na ’n bevreemdende lewe in ’n ander land waar die slegte nuus van die huis soos herinneringe by hulle aanhou spook. Dat nie almal so bevoorreg is om die uitmergelende lot van ’n skrywer in ballingskap te beërwe nie, besef jy elke oggend, wanneer die dag se verrigtinge geopen word met die sogenaamde Empty Chair-ritueel waardeur afwesige PEN-lede gehuldig word. (Klik hier vir meer inligting.)
Een van die drie Leë Stoele vanjaar was vir Amanuel Asrat, ’n bekroonde digter en koerantredakteur van Eritrea wat reeds sedert 2001 sonder verhoor in aanhouding is. Hy was een van 11 joernaliste wat in 2001 gevangene geneem is. Daar is rede om te glo dat hy nog leef, maar kommentators skat dat tussen vier en nege van daardie 11 reeds in die tronk oorlede is. Asrat se skandalige gevangenisskap het op die eerste aand vir my meer werklik geword toe ek en Bettina gaan eet het saam met ’n skrywer van Eritrea in ballingskap wat dieselfde moedertaal as Asrat praat, Tigrinya. Dié skrywer het te kenne gegee dat sy ook nie in Kanada heeltemal veilig voel nie. Eritrea se veiligheidspolisie kan jou glo enige plek bykom. Hierdie skrywer het gepraat soos iemand wat lankal reeds aan ’n ondraaglike toestand gewoond geraak het.
Nog ’n ervaring wat ’n merk gelaat het, was die beeld van Raif Badawi se vrou en drie kinders wat die oggend waarop hy as Leë Stoel gehuldig is, by die kongres was. Hulle het intussen asiel in Kanada ontvang, maar Badawi is verlede jaar tot 10 jaar gevangenisstraf, 1 000 houe met die sweep en ’n boete van $260 000 gevonnis omdat hy “Islam beledig het” en “ ’n liberale webwerf gestig het”. Op 9 Januarie vanjaar het Badawi die eerste 50 sweepslae ontvang, maar sy verdere lyfstraf is op grond van mediese oorwegings uitgestel.
Asrat en Badawi is twee van vele. Volgens PEN International se uitgaande president, John Ralston Saul, tel hulle onder die ongeveer 900 skrywers en joernaliste wat wêreldwyd in die tronk is of in lewensgevaar verkeer, terwyl om en by 200 skrywers en joernaliste elke jaar vermoor word.
Met haar intreerede het die nuut verkose PEN International-president, Jennifer Clement, benadruk dat sy nie besef het hoe nodig sy die internasionale gemeenskap gaan kry toe sy in 2009 president van PEN Mexiko geword het nie. Clement wat gereeld in die laaste ses jaar aan die ontvangkant van allerhande dreigemente was, bewyer haar vir geregtigheid vir joernaliste en skrywers in Mexiko en dis ’n lewensgevaarlike onderneming. Toe die fotojoernalis Rubén Espinosa in Julie vanjaar vermoor is, was hy die 13de joernalis wat permanent stilgemaak is sedert Javier Duarte in 2011 in Mexiko aan die mag gekom het.
En hiermee wil ek nie die indruk skep dat die Québec-kongres primêr ’n pynlike herinnering aan ’n wrede, geknelde wêreld was nie. Die letterkunde is ook met oorgawe gedurende dié week gevier en dit was ’n voorreg om te luister na skrywers soos Jung Chang van Wild Swans-faam, die Innu-digter Joséphine Bacon en die welsprekende Booker-wenners Margaret Atwood en Yann Martel.
Maar net so goed soos dit was om te hoor dat die nou indrukwekkende PEN Canada-sentrum se hoofkwartier eens Atwood se sitkamertjie was, net so belangrik was dit vir my om weer diep onder die indruk te kom van die broosheid van taalregte, menings- en persvryheid. Veral in ’n land met ’n geskiedenis soos ons s’n kan ons nie op ons louere rus nie en moet ons die demokratiese grond wat hier gewen is, vir al wat ons werd is met die pen verdedig.
Dinge kan oornag verander en ’n nare wending neem en dan is dit goed om deel te wees van ’n georganiseerde skrywersgemeenskap en -drukgroep soos PEN, wat ook sterk taalaktivistiese sentrums soos die Katalaanse, Baskiese en Walliese PEN onder sy lede het.
In hierdie lig is dit verblydend om te kan rapporteer dat PEN Afrikaans nou werklik deel is en deel voel van hierdie internasionale skrywersfamilie. Ek en Bettina is vanjaar met ope arms in die PEN Africa Network ontvang, waar daar drie jaar gelede onder sommige lede nog weerstand teen die erkenning van ’n Afrikaanse taalsentrum was.
Afrikaans se toekoms bly onseker en juis daarom was dit uitstekend om in Kanada te hoor met watter ontsag daar van skrywers soos Breyten, Brink, Krog en Van Niekerk gepraat word en te sien hoeveel belangstelling daar is om saam met ons te werk – nie net in Afrika nie, maar ook deur inisiatiewe soos die in Noorweë gebaseerde ICORN (International Cities of Refugees Network) en The Dissident Blog, ’n publikasie wat aan PEN Swede verbonde is en graag ook in Suid-Afrika toegang tot drukkers wil hê.
Die PENnestryd duur dus voort, maar ná daardie week in Québec het ek nuwe moed. Skrywers is nie so alleen soos hulle dikwels voel nie. En terwyl die donderwolke bo ons burgerlike samelewing en demokratiese vryhede saampak, kan ’n mens die woorde van Arthur Miller in gedagte hou; woorde wat hy gesê het by ’n PEN-kongres toe hy in die 60’s president van PEN International was en dié organisasie gedreig het om te skeur oor lidmaatskap vir skrywers van Sowjet-Rusland: “You never do any good unless you get into some trouble. I’m not sure people who write, will not be getting into trouble in America again, and we may need your assistance. We must look at every culture with the same eyes.”
Laat ons die pen opneem en saamstaan oor ons fundamentele reg om van mekaar te verskil.
The post Die 81ste PEN International-kongres in Québec, Kanada appeared first on LitNet.