- Lees die eerste weergawe
- Lees die eerste kommentaar deur Izak de Vries en Danie Marais
- Lees die tweede weergawe
Izak de Vries se kommentaar
Ja, ek dink weergawe twee is baie goed. Daardie laaste sin vat alles saam.
Jaco het reggekry om sy eie stem hierop af te druk. Daaroor is ek die blyste.
Dit is duidelik dat hy geluister het na ons kommentaar, maar ook dat hy hom nie aan die neus laat lei het nie. Dit is uitstekend, so moet ’n skrywer kan werk.
Ek is baie tevrede.
Kyk net na “siteaf” – dit moet waarskynlik twee woorde wees.
Danie Marais se kommentaar
Ek beaam graag en met genoeë Izak se kommentaar op die tweede weergawe van Jaco du Plooy se kortverhaal.
Die enigste aspekte waaroor die skrywer nog myns insiens weer met vrug kan wonder, is die titel en die vierdelaaste paragraaf waar die verteller nadink oor die Nomfundo se dood.
Wat die titel betref, het ek in my eerste kommentaar die volgende gevra: Werk die titel reeds hard genoeg? Of spel dit die ironiese kontras tussen die veiligheidswag se werk/funksie en haar weerloosheid te duidelik uit?
Ek meen die eerste titel ("In alle veiligheid") was wel ’n te duidelik interpretasie van die verhaal, maar die nuwe titel is vir my naby aan niksseggend, of is daar hier iewers ’n verwysing wat ek nie snap nie?
Dis goed om ’n titel in te span wat die leser noop om weer oor die verhaal én die titel na te dink, maar hierdie titel terg my nie met nuwe perspektiewe of betekenismoontlikhede nie en is ook nie op sigself interessant nie.
Ek het nie ’n spesifieke voorstel nie, maar ek glo hier is nog ruimte vir verbetering. Daar is eenvoudig nog nie genoeg genuanseerde wisselwerking tussen die storie en sy titel nie.
Wat die vierdelaaste paragraaf betref, dink ek hier moet die skrywer herbesin:
“Ek gooi die orige bier in die wasbak uit en kyk deur die venster na Tafelberg wat in die verte bo ’n laag rookmis uittroon. Tussen my en die berg lê duisende huise; nie almal lyk soos dié oorkant die parkie nie, maar in elkeen is daar mense wat vriende, ouers of kinders is. Al kan ek nie hulle almal sien nie, weet ek dat die meerderheid aanhou om rond te skarrel agter iets aan of dalk weg van iets af. Ek wonder watter effek Nomfundo se lewe op enige van hierdie mense kon gehad het, maar herinner myself dat dit nie gaan help om filosofies te raak nie.”
Die eerste sin hierbo is belangrik omdat dit die verteller se eie voorstedelike posisie of perspektief duidelik maak sonder om enige iets uit te spel. Die filosofiese mymeringe daarna oor al die lewens en Nomfundo se impak daarop is egter ’n oorbodige spekulasie oor implikasies wat vir elke leser reeds duidelik is. Onthou die ou dictum: “Don’t complain, don’t explain.”
Baie van die beste kortverhale draai om ’n epifanie of waterskeidende oomblik van verheldering of totale verduistering. Hier is egter ’n tragiese gegewe wat die verteller roer, maar uiteindelik nie genoeg om enige verskil aan sy ingesteldhede of magteloosheid te maak nie, of dalk tog.
Hoe dit ook al sy, ek meen steeds hier is dalk iewers nog ’n subtiele insig wat wag om deur die skrywer ontbloot te word.
Jonathan Franzen skryf in ’n resensie van Alice Munro se skitterende kortverhaalbundel Runaway (2004) dat Munro met elke terugkeer na die eenvoudige klein lewensverhale waarom haar stories wentel, meer ontdek het.
Want, soos Munro dit in ’n onderhoud stel: “The complexity of things – the things within things – just seems to be endless. I mean nothing is easy, nothing is simple.”
Kortom, ek glo dit kan vrugbaar wees om nog ten minste een keer die gewaarwordinge waartoe Nomfundo se dood lei, te oorweeg.
Ek wonder ook of die liedjie “Loliwe” nie dalk weer ’n rol kan speel nie?
En dan ’n paar laaste dinge om te oorweeg:
- Is hierdie twee sinne nie onnodig lank en effe lomp nie?:
“Sodra sy my sien, flap sy haar hand in die lug en beduie dat ek kan sit; iets wat ek dadelik doen. Ek sit, en ek wag.”
Wat van net iets soos?:
“Sodra sy my sien, flap sy haar hand in die lug en beduie dat ek kan sit. Maak so en ek wag.”
Jy sou terwyl jy wag ook iets raak beskrywends oor Shaney en/of haar kantoor kon byvoeg.
- Du Plooy slaag goed daarin om Shaney te karakteriseer deur middel van haar taalgebruik, maar met die weerlees, wonder ek of hier nie ’n onnatuurlike registerbreuk is nie:
“En ek watch vi’ Patrick. Ek gattie lat ’n guard my stockloss die hemele in stuur nie,” eindig sy af en vir die eerste keer vandat sy met haar geneul begin het, voel dit vir my na ’n goeie geleentheid om te praat.”
Sal Shaney praat van “stockloss” wat “die hemele in” gestuur word, of is dit nie ’n ander meer formele oftewel outyds idiomatiese stem wat hier effe onoortuigend deurskemer nie? Ek stel voor die skrywer dink weer oor Shaney se woorde.
- Sou ’n aandagstreep in plaas van ’n komma ná “kosyn” nie die lees van hierdie sin vergemaklik nie?:
“Voor ek kan antwoord, verskyn Nomfundo se gesig langs die kosyn, ’n plastieksak met ’n halwe brood in die hand.”
- Hierdie sin is effe lomp en spel te veel uit:
“Die Spur wemel van vakansiegangers met rooi gesigte en wit strepe wat van oor tot oor strek; dit sou seker die Raad van Boeresuperhelde se jaareindfunksie kon wees, indien so ’n Raad ooit sou bestaan het.”
Wat van net?:
“Die Spur wemel van vakansiegangers met rooi gesigte en wit strepe wat van oor tot oor strek. Dit lyk of dit die Raad van Boeresuperhelde se jaareindfunksie sou kon wees.”
- Sou jou ek-verteller werklik net “met ’n halwe oor” hierna luister?:
“Ek herhaal nie weer van die vreemde woorde wat sy by die gesprek insluit nie, maar ek vra haar uit oor haar pinkie wat onder die nael afgesit is en luister met ’n halwe oor na haar antwoord; ek tel net woorde op soos siekte, sangoma en Christen.”
Die verteller is weliswaar in die eerste plek in sy eie sake geïnteresseerd, maar hy toon wel duidelik belangstelling in Nomfundo en die rede vir ’n vinger wat half-afgesit is, moontlik deur ’n sangoma, klink tog interessant. As die skrywer wel sy verteller só wil tipeer, is dit in orde, maar indien nie, behoort hy te vertel wat met die pinkie gebeur het. Dink ook weer oor die anglisistiese frase: “Ek tel net woorde op soos …”
Hierdie sin dui (moontlik onbedoeld) op ’n soortgelyke onsensitiwiteit wat nie rym met die feit dat die verteller die moeite gedoen het om vir Nomfundo ’n mooi Nuwejaar op WhatsApp toe te wens nie:
“Ek sukkel eers om te hoor wat hy sê, maar toe ek dele van sy monoloog begin uitmaak, besef ek ek hoef nie nog verder te luister nie.”
Iemand wat van Nomfundo gehou het, sou dit tog anders uitdruk, nie waar nie?
The post PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool: Tweede kommentaar op "Onder eng'le" deur Jaco du Plooy appeared first on LitNet.