- Lees die eerste weergawe
- Lees die eerste kommentaar deur Izak de Vries en Danie Marais
- Lees die tweede weergawe
Izak de Vries se kommentaar
Ek dink beslis hierdie weergawe werk. Die sardoniese aanslag is heerlik, en die vlieg se menslikheid is nou duidelik gefokus op die menslike metafoor, terwyl die vlieg se leefwyse, soos die pragtige kots oor die nacho, presies reg is. Dis so walglik en so korrek, nes ’n dogtertjie se gekots na ’n pienk skommel in die Wimpy! Bravo.
Wat meer is, die vlieg en die waiter se dans is nou deeglik voltrek – tot en met daardie heel laaste sin.
Ek is baie tevrede.
Daar is een ding wat wel pla: Shoprite mag kla oor die hoender wat op afslag is oor dit al verval het. Wees versigtig vir hierdie soort opmerking: “sestig-persent-afslag-Shoprite-hoenderboudjies (wat reeds laas jaar begin Desember verval het)”. Hier moet jy meer soos ’n joernalis dink. As jy bewyse het van sulke praktyke, skryf. As jy dit nie in ’n hof kan bewys nie, moenie.
Ek verstaan wat jy sê, maar Shoprite het ’n etiese kode en ek dink hulle kan bewys dat jy hulle verkeerdelik beswadder. Dit sou anders wees as jy praat van een van die kafees op die hoek waar studente koop wanneer geld min raak.
Verskoon my as ek ’n ligte prekie hiervan maak, maar dis belangrik. PEN Afrikaans steun die vryheid van spraak, maar in hierdie geval is jy besig om iets te sê wat moontlik nie waar is nie. Los dié soort stellings vir Trump.
Laastens sou ek tandeborselroetine een woord maak.
Danie Marais se kommentaar
Ek stem saam met Izak: Die tweede weergawe is ’n groot verbetering en daardie lekker walglike nacho-toneel bly ’n mens by.
Veral die nuwe slotsin is ’n enorme verbetering:
“Die waiter kyk op, knik stil, stap in die lig, haal sy vadoek uit en vee die vlieg versigtig in sy linkerhand.”
Hiermee bevestig sy subtiel die verband tussen die kroegman en die vlieg, terwyl die ooreenkomste met die gaste ook nie die leser ontgaan nie. Zeeman illustreer met haar nuwe slot wat die skrywer Ethan Canin baie mooi verduidelik in ’n essay oor die kuns van die slotsin na aanleiding van Saul Bellow se kortverhaal, “A Silver Dish”:
At the end of a story or novel, you do not want the reader thinking. Endings are about emotion, and logic is emotion’s enemy. It’s the writer’s job to disarm the reader of his logic, to just make the reader feel. You’ll often see this in the final moments of a film: The camera tilts up, and the movie ends with a non-distinct image of the sky, or the sea, or the coast. Something the eye can’t quite focus on, which allows you to focus on everything that’s come before. That’s how “that was how he was” [the last sentence of “A Silver Dish”] works, too. It brings nothing else to mind. This sentence would be a non-sentence if it began the story—but, placed at the end, it’s packed with the charge of everything that precedes it. Each of those non-words is nitroglycerin, and the story that precedes it is the fuse.
Lees gerus hier Canin se hele besinning.
Ek wonder egter wel nog oor twee aspekte van dié verhaal:
- Die titel: Fokus die huidige titel nie dalk te inperkend net op die kroegman en die vlieg nie? Gaan dit nie dalk hier oor “Die Mystic en die vlieg” of selfs “Die Mystic Boer en die vlieë” nie? Die verhaal het immers ’n veel wyer kultuurkritiese strekking. ’n Effe meer ontwykende titel sou dus ander betekenismoontlikhede na vore kon bring.
- Ek het reeds in my eerste kommentaar verduidelik dat Zeeman dit sou kon oorweeg om minder van die vlieg se menslike begeertes en gedagtes weer te gee en net sy gedrag baie fyn te beskryf. Die humor in die res van die verhaal is eerstens baie meer subtiel en tweedens sal die vlieg-analogie meer treffend wees as ruimte vir die leser gelaat word om menslike eienskappe te projekteer op die vlieg se groteske gedrag.
Met hierdie argumente in gedagte, sou die skrywer dit dus kon oorweeg om hierdie passasie te skrap of te herskryf:
Hy het soveel planne en ideale en toekomsdrome. Agtien dae vir ’n vlieg, is sewe en negentig jaar vir ’n mens. Hy wil nog die trein vat Kaapstad toe en Tafelberg gaan vlieg, bietjie lywe gaan kyk op Clifton, op ’n slapende hond se nat neus gaan sit sonder om hom wakker te maak en die nommer een ding op sy bucket list: hy wil nog vreeslik graag ’n tannie iewers in Durbanville gaan irriteer. In haar kombuis. Terwyl sy Philadelphia Cream Cheese en Wellington Sweet Chilli sous uitsit vir die gaste wat later die middag kom braai.
Die skrywer kry hier nog ’n stekie na die noordelike voorstede in, maar in sy geheel, maak hierdie paragraaf nie eerder die storie en daarmee saam die vlieg-metafoor flouer eerder as skerper nie?
Laastens net ’n algemene opmerking oor die gebruik van Engelse woorde of slang in ’n Afrikaanse kortverhaal.
Na aanleiding van my en Izak se vorige terugvoer het een kommentator aangemerk: “Die onnodige Engelse woord in die titel hinder my maar blykbaar nie vir die twee resensente nie.”
Hierop het ek die volgende geantwoord wat ek graag hier herhaal omdat dit ’n kwessie is wat gereeld in slypskole ter sprake kom:
As ek gedink het die Engelse woord in die titel, “Die vlieg en die waiter”, was onnodig en ’n geval van lui taalgebruik sou ek dit beslis uitgelig het. In kreatiewe skryfwerk gaan dit egter nie vir my in die eerste plek oor wat taalkundig korrek is nie, maar oor wat pas oftewel werk en oortuig binne ’n spesifieke konteks en milieu en/of vir ’n spesifieke karakter. Binne die konteks waaroor hier geskryf word – ’n studentehool – meen ek dat "waiter" beter pas as "kelner" of "kroegman" omdat die keuse van die Engelse woord iets van ’n spesifieke karakter en milieu aandui en verklap.
Die toets is uiteindelik vir my ’n eenvoudige, praktiese een: Sou daardie karakter só gepraat het onder daardie omstandighede?
Indien wel, is dit korrek. Daarom sou ek ook nie wou torring aan die gemengde taal waarmee die student wat die vlieg aan die einde dooddruk, die kroegman roep nie.
Dieselfde reël geld gekruide taal. Wat die skrywer of die wêreld dink van vloekwoorde, is onbelangrik wanneer hy/sy ’n spesifieke karakter of milieu realisties wil uitbeeld. As ’n karakter in ’n sekere situasie sy taal sou meng, sou swets of sou spoeg of dwelms gebruik of wat ook al, moet die skrywer hom/haar toelaat om dit te doen.
The post PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool: Tweede kommentaar op "Die vlieg en die waiter" deur Elisha Zeeman appeared first on LitNet.