Myself ook mos begewe om 'n Land-Rover te besit. Al is hierdie ene net ’n Land-Rover van aansien want binne-in en onderin en in die are (dis die bedrading) is alles in elk geval Amerikaans (Chev 4.1 enjin) en Duits (Mercedes-Benz-kragstuur) en Amerikaans (Jeep transfer case) en die Britse deel is die Rover Auto gearboks (wat ook al dit in Afrikaans mag wees). Voeg hierby al die ander nasies wat bygedra het lat hy kan loop en jy sit met 'n ryding wat reg inpas in ons nuwe Suid-Afrika wat eintlik lankal nie meer nuut is nie en nog net suid is.
Nietemin, en ek sweer hierdie nie op Bybels of enige ander geskrifte nie maar ek sê vir jou dis waar:
Ons sukkel altoos om die blerrie ding verkoop te kry want jy weet mos Land-Rover se mense is mos maar mense wat puriste is en hulle wil selfs 'n geroeste skroefie in plek hê solank dit Brits en Landie is. Al val die ding uitmekaar moet hy reg en oorspronklik wees. Tipies Brits al staan die ding en breek op die vloer. Want jy weet hulle sê 'n Land-Rover wat nie olie lek nie het nie 'n enjin in nie.
Thysie roep my annerdag want hy is kak bang vir spinnekoppe. Een of ander Bobbejaanspinnekop (hier rond is enige spinnekop groter as 'n speld se kop 'n bobbejaanspinnekop, never mind sy genetiese of familie-geskiedenis en sertifikate tot die teendeel) het hom verwilder toe ek hom mooi gevra het om die Landie te loop start. Want 'n Landie moet gereeld gestart word anners breek hy net nog erger. Soos enige Landie-eienaar jou sal verwittig.
Na blikke Doom (en hier was geen predikers betrokke nie) is die Landie skoon van alle spinnekoppe verklaar en die res van die werkers kon al om die tweede dag die Landie start en laat loop en dalkies straat af ry om te loop bier of 'n bankie of twee koop by die kantien of die plek waar bankies ook al verhandel word.....
En so loop die weke inmekaar en die Landie se battery is gekoppel en die werk raak mos altoos al meer en mens vergeet mos maar om die dinge te herinner en net gister toe lê ek in die nanag en dink dat die blerrie Landie weke laas gestart is. Wonner of die battery nog vol is want laas het ek hom op die charger laat sit en ek’s seker die bliksems het vergeet ... my inkluis ...
Ek beduie vir Thysie hy moet lat die manne kyk of daai Brit (want ons weet mos toe die Britte die oorlog destyds verloor het het hulle beduie dat hulle ons eendag sal terugkry en toe los hulle mos maar vir ons die Land-Rovers as straf omdat hulle verloor het ...) nog kan start.
Thys roep my verskrik nader na 'n uur of wat se wegbly. Beduie vir my ek moet kom kyk. Die spinnekoppe ... En die Landie wil net nie weg nie ...
Met die naderstap sien ek iets soos mis in die Landie. Mistigheid verwag mens nie op 'n snikhete dag soos vandag nie. Nietemin, deur oop en toe sien ek dis die spinnerakke wat die binnekant so mistig laat lyk het. Thysie beduie my dis nog fokol, start jy die fokken ding en probeer jy wegry en kyk wat gebeur ...
Ek draai die sleutel en getrou aan enige Chevrolet 4.1 motor (met 'n Weber carb) vat hy soos, wel, 'n Chev ... rathefboom onnertoe maar niks.
Skakel af want hier’s 'n fokop. Thysie beduie my boontoe want dit smaak my ek’s nie baie oplettend nie.
"Kyk op in die boom in jou n%$&...(hy praat altyd so al praat hy met onse dominees) die ding sal nooit loop nie, die spinnekoppe het oorgeneem!"
"Hoe so Thysie?" En toe sien ek wat hy meen:
Die hele blerrie Landie hang in die lug. Die spinnekoppe het van binne af buitentoe beweeg en van onner af die Landie letterlik opgehys aan die ou geelhout waaronder hy al so lank geparkeer was. Die mistige weer wat ek altoos so soggens opstaantyd beskou het was toe al die tyd die spinnekoppe wat uit wraak met hul spinnerakke my Landie opgehys het met hulle rakke. Al van bo van die Landie se Dakrak af onnertoe.
Ek is tans op soek na ons bekende Doom-prediker se kontakbesonderhede. Net dalk het hy 'n manier hoe ekke dalk van 'n plaag ontslae kan raak, want nou sit ek met 'n voertuig wat ek nie eens op sleeptou kan neem nie ...
Groete uit Oesterland, en ja, die Landie staan nog net so onder die geelhoutboom.
oester
The post My Landie en die spinnekoppe appeared first on LitNet.