Suid-Afrikaanse teater 101
- Suid-Afrika is so 'n diverse land dat ons as Suid-Afrikaners almal verskillende borrels bewoon - en ons verstaan nie altyd mekaar se omstandighede nie.
- Party mense het geld vir teater, en kom nog steeds nie teater toe nie. Ander het nie geld vir teater nie, en hulle gaan ook nie.
- Sommige teatermense ondersteun mede-teatermense. Daar is nie altyd nuwe bloed in die teater nie.
- Daar is belangrike teaterinisiatiewe soos die Teksmark en Kunste Onbeperk; teatermense moet hieromtrent ingelig wees. Daar bestaan dus geleenthede as jy daarvoor soek.
- Woon teaterproduksies by: as jy vir teater wil skryf, moet jy teater ken.
- Partykeer werk die sosiale media as lokmiddel.
- Partykeer nie.
- Dit mag dalk help om gratis kaartjies weg te gee, 'n gehoor op te bou wat andere trek om die volgende aand te gaan kyk.
- Ander kere nie.
- Partykeer help dit om oor warm onderwerpe te skryf, oor dinge waaroor almal praat.
- Soms help dit om alle belangrike temas te ignoreer en net iets nuuts en wonderliks te skep.
- Hoe kry ons mense in die teater? Daar is nie altyd antwoorde nie.
- Die staat moet bereid wees om geld te gee en te befonds.
- Daar moet kunsterade wees wat vir teatermense sorg.
- Nuwe stemme is nodig.
- Die ouer, gevestigde teaterskrywers is noodsaaklik sodat die jonges by hulle kan leer.
- Dit gaan goed met Afrikaanse teater.
- Dit gaan sleg met Afrikaanse teater.
- Teater moet mense se koppe skuif, hulle anders na die lewe laat kyk.
- Dit is nodig om tegniese vaardighede aan te leer om vir die teater te skryf.
- Shakespeare het nie net die regte woorde gebruik nie, hy het ook byna-wiskundig woorde op die regte tyd gebruik.
- As jy 'n akteur is: Klem op die regte woord in die regte plek van die sin is belangrik.
- Iemand moet kinders van kleins af opvoed.
- As jy 'n roman skryf, skryf jy alleen. As jy vir die teater skryf, gaan jy spanwerk moet beoefen - akteurs, regisseurs en al die res van die teatermense gaan jou woorde op hul eie manier interpreteer en dit voorstel/uitbeeld op 'n manier waaroor jy nie altyd beheer het nie.
- Moenie dink dat Europa niks van Afrika verstaan nie.
- Moet ook nie dink dat dinge in Europese teater net soos hier werk nie.
'n Paar gesprekspunte tydens 'n dinkskrum met Tom Lanoye as fasiliteerder. Die geleentheid?
Kunste Onbeperk het in samewerking met die Vlaamse regering (België) en SASNEV op 13 Desember 'n werksessie met die Vlaamse skrywer Tom Lanoye aangebied. Hierdie was die eerste in 'n reeks van meesterklasse en werkwinkels met internasionale skrywers as deel van die Teksmark-inisiatief.
Waarom 'n teater-dinkskrum saam met Tom Lanoye?
Wie is hy?
Agtergrond van Tom Lanoye
Tom Lanoye (1958) is ’n skrywer, digter, dramaturg, joernalis, vertaler en kritikus. Hy woon en werk in Antwerpen en Kaapstad. Hy is een van die mees gelese en bekroonde skrywers in sy taalgebied (Nederland en Vlaandere). Sy werk is reeds in meer as twaalf tale vertaal en opgevoer. In 2013 is hy vir sy volle oeuvre met die gesogte Constantijn Huygens-prys bekroon. Die eer het al skrywers soos Hugo Claus en Harry Mulisch te beurt geval.
Sy romans Sprakeloos, Kartondose en Gelukkige slawe het reeds in Afrikaans verskyn – al hierdie werke is vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea Boekehuis. Twee van Lanoye se toneelstukke is al in Afrikaans opgevoer in Suid Afrika, beide onder regie van Marthinus Basson: Mamma Medea (vertaal deur Antjie Krog) in 2002 en Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles (vertaal deur Basson) in 2014.
Coenraad Walters skryf oor hom in hierdie resensie:
Tom Lanoye is ’n veelsydige en produktiewe skrywer van onder meer gedigte, rubrieke en dramas. In sy prosa-oeuvre kan veral drie strominge aangetoon word: die outobiografiese (soos Kartondose, wat hy in 1996 by die KKNK in Oudtshoorn opgevoer het, en die onlangse Sprakeloos), die magies-realistiese (wat ek veral in sy kortverhale raakgelees het, soos dié wat in ’n Slagterseun met ’n brilletjie opgeneem is), en dan ’n soort hiperrealisme, met romans wat bevolk word deur karakters wat ongewone omstandighede en avonture beleef, soos Gelukkige slawe.
Toe Geraldine Reymenants, afgevaardigde en algemene verteenwoordiger van die Vlaamse regering in Suid-Afrika, hom tydens die teatergespreksdag aan die woord stel, bevestig sy dit: "He is a very famous Flemish writer."
Hy is al bekend van sy werk Kartondose af, en mense ken sy werk. Behalwe skoolkinders, want sy werk was "te obseen" om voorgeskrewe werk te word, glimlag sy.
Hy skryf wel oor baie belangrike dinge, sê sy. Oor België, en wat daarmee verkeerd is.
Sy kyk vir die gehoor: "Our politics need to change."
Die Suid-Afrikaners knik almal. Toe hier 'n verwysing is na 'n land waarvan die politieke omstandighede aangespreek behoort te word, is daar 'n raakpunt tussen hierdie land en die land waarvandaan Lanoye kom.
In die vertrek is ongeveer twintig mense - verteenwoordigers van Kunste Onbeperk, die Vlaamse ambassade en SASNEV, skrywers en belangrike rolspelers in die teaterbedryf:
Rozanne Vos, Willem Anker, Tertius Kapp, Deon Maas, André Gerber, Malan Steyn, Geraldine Reymenants, Ingrid Winterbach, Antjie Krog, Philip Rademeyer, Amee Lekas, Marthinus Basson, Hugo Theart, Wessel Pretorius, Jason Jacobs, Ameera Conrad, Amy Jephta, Albert Maritz, Retief Scholtz, Stephina Zwane, Jan Mouton, Eureka Barnard en Ena Jansen.
Die samekoms met Tom Lanoye het voortgevloei uit 'n vorige Teksmarkgeleentheid (hier is agtergrond).
'n Oorsig van Tom Lanoye se aanbieding
Lanoye praat in Engels, want hy weet almal hier verstaan nie noodwendig Vlaams óf Afrikaans nie.
- Teater = taal
- Taal = teater
"Why I love theatre and Afrikaans," sê hy. "For me, theatre is language."
Daar is altyd oor-en-weer-oorvleueling en kruisbestuiwing.
Hy weet van omgewings waar kruisbestuiwing plaasvind. Hierdie skrywer-dramateksskrywer, verstaan van verskillende omgewings en hoe dit by mekaar aansluit. Sy ma was immers 'n aktrise.
Persoonlike lewe
Sy pa, vertel Tom Lanoye, is 'n slagter. En hy vra die gehoor: kan jy jou 'n meer teatrale en 'n meer basiese beroep indink? Jy werk met 'n dier se vleis.
En my ma, gaan hy voort. Sy het Italiaanse bloed in haar gehad. En daarmee saam iets van die teatrale geaardheid van die Italianer.
By haar het ek geleer: 'n ma oordramatiseer. Ek het 'n privaatmitologie geleer: 'n ma, om beheer te behou oor die gesin, moes veins of voorgee om 'n hartaanval te kry by elke denkbare geleentheid.
In sy huishouding, vertel hy, het hy geleer om Arthur Miller te lees toe hy so sewe of agt was. Sy hele ouerhuishouding was 'n verhoog/teatrale omgewing. Sommige daarvan, dink ek terwyl ek na hom luister, het hy later as teatraal ervaar: soos die simbool van sy pa die slagter. Sy ma, as die een wat hom teater met moedersmelk ingee, was meer voor die hand liggend.
(Persoonlike aantekening: Wikipedia het my niks van sy moeder vertel nie. Die enigste verwysing na haar, is die feit dat hy oor haar geskryf het - sy boek Sprakeloos handel oor hoe sy haar spraak verloor het ná 'n beroerte.)
Hier praat hy verder oor haar: om teaterwerke te kon lees en om 'n ma te hê wat hom na die kleedrepetisies neem, het hom beïnvloed.
Sy het my gereedgemaak, vertel hy. Sy het my gereedgemaak, want ek het gesien hoe sy háár voor die spieël gereedmaak. Sy ma was dus betrokke by die teater.
Sy ma se gedrag en wie sy is het die weg vir hom gebaan, hy het teater ingekry deur middel van alles wat hy waargeneem het. En sy pa, so 'n simboliese en tog basiese beroep.
Hy wil oor iets anders gesels, sê hy. Die trauma van sy ma wat 'n beroerte gehad het. Sy het gedink sy praat Vlaams, maar inderwaarheid het sy onverstaanbaar gepraat.
Jou moedertaal-aanleerder kan haar taal verloor. Die een wat vir jou jou moedertaal geleer het, kan haar eie taal verloor.
En toe lees hy voor uit sy boek wat oor hierdie tema handel, hoe die een wat hom leer praat het en hom gevorm het, haar spraak verloor: Sprakeloos.
"Ons longe raak vol water, inderwaarheid is ons dit: visse met pretensie."
As mens die storie van Lanoye se ma verstaan, verstaan jy waarom taal en teater vir hom so belangrik is.
Waarom het Lanoye vir die teater begin skryf?
Hy wou nie onderwyser word nie, hy wou skryf. Dus het hy begin skryf vir die teater, want daarmee kon hy geld verdien.
Taal, teater en politiek
Die vorige ambassadeur van België en ook voorheen op die bestuur van die SBA, Jan Mouton, steek sy hand op en kry 'n spreekbeurt.
Taal is deel van ons identiteit, sê hy.
Ons as Vlaminge ken die belang van taal. Frans is anders, dis 'n wêreldtaal.
"We (die Vlaminge) knew that language was going to be our way of surviving. Language was our way of surviving."
Toe Lanoye weer aan die woord is, beklemtoon hy die politieke belang van taal. 'n Taal is 'n politieke standpunt.
Daar bestaan in Vlaandere 'n behoefte om taal en identiteit te verbind.
Maar taal was ook protes - vir hom wat Lanoye is. Deur in 'n sekere taal te skryf het jy geprotesteer, al het jy geskryf in 'n taal wat voorheen 'n slagoffer was, of 'n identiteit probeer afdwing het.
Met my taal wou ek 'n ander image skep van Vlaandere as juis hierdie byna-meerderheidsgevoel, sê Lanoye.
Terwyl hy praat, besef almal dit word 'n gesprek oor 'n ander land, oor hierdie land waar ons is. Hoe het ons hier beland, hier waar ons vandag is? Ons wat die vermenging van taal en identiteit ken, weet presies waaroor Lanoye praat.
Hoe leer mens om vir die teater te skryf?
Raad vanaf Tom Lanoye:
- Gaan woon teater by, "even the shitty productions".
- Wees geïnteresseerd in teater, lees teater, kyk teater.
- Jy moet kan verduidelik (aan jouself, en aan ander mense) waarom jy iets herskryf, soos 'n werk van Shakespeare. Daar moet universele temas en waarhede wees.
- Om na ander mense te luister voordat jy begin skryf, is belangrik.
- Teater is spanwerk: "Team and time".
- Daar moet tyd verloop vir 'n stuk én sy karakters om op mekaar te kan inwerk, "om potjieskos te kan raak".
Europa soos Afrika, Afrika soos Europa?
'n Vraag van Ingrid Winterbach - hoe maak mens met al die nuwe invloei van vlugtelinge in Europa? Hoe beïnvloed dit teater? - vestig aandag op 'n gekompliseerde en belangrike kwessie in Europe.
Lanoye reageer hierop: Die teatergehoor in Europa is steeds hoofsaaklik ryk, opgevoed en wit. Daar is nou eers vlugtelinge wat begin universiteitskwalifikasies kry.
Toe Marthinus Basson later vertel van sy ervaringe in België in die laat-tagtigs en vroeë-negentigerjare, hoor almal die raakpunte tussen die Suid-Afrikaanse en die Europese konteks. Teatergehore se koppe moes geskuif word.
Basson is wel baie positief oor die aktiewe teateromgewings in die kleinste Europese dorpie. En hy meen 'n definitiewe aspek om in Suid-Afrika aan te spreek, is om skoolkinders van kleins af op te voed en teater toe te stuur as deel van die skoolkurrikulum.
Nou vra Lanoye vir Basson: waarheen het jy teruggekom, in die negentigerjare?
Basson sê: Die kunsterade was besig om te ontbind, befondsing sou verander. 'n Groter spektrum van stemme, meer invalshoeke. Dit was wat móés gebeur. Ongelukkig het dit nie gebeur nie. Befondsing het nie na wense en op hierdie manier plaasgevind nie.
'n Optekening van die gespreksessie en die kernvrae: Waar is die teatergangers? Hoe kry ons mense in die teater?
Lanoye: Al die mense wat sê Afrikaans is onder druk, kan gerus een boek per drie maande koop of een teaterstuk per paar maande bywoon. Ondersteun dus finansieel, nie net in woorde nie.
Teater word verkeerd verpak, meen Rozanne Vos. Mense is so oorgestimuleer - mense moet ingelok word, en dit moet werklik besonders wees. Waar is 'n speelvlak?
The arts industry is supporting the arts industry.
Nog 'n standpunt, Ameera Conrad van die Baxter: mense het nie die geld om eens by die teater uit te kom nie, wat nog te sê die geld vir die teaterstuk te betaal. Ons kan nie 'n produksie op die planke bring as die mense vir wie ons dit skryf, nie kan kom kyk nie.
Maar nou is daar ander dinge waarop mense geld sal spandeer. Hulle sal betaal vir 'n skouspel, of vir sokker. Selfs in Europa, sê Lanoye.
Ameera Conrad, praat oor 'n produksie by die Baxter waar mense gratis kon kom kyk. Op die ou end was hul kapitaal mense se sosiale media-gesprekke. Die nuus het versprei. En die produksie word dan uiteindelik goed ondersteun.
Deon Maas meen Afrikaanse teater is nie in die moeilikheid nie, wit Afrikaanse mense is steeds die rykste mense. Xhosa-teater is die soort teater wat in die moeilikheid is. Almal praat oor die afname van Afrikaans. En het daaroor gepraat van die begin van demokratiese Suid-Afrika af. Daar is 'n ontploffing van Afrikaanse musiek en teater. Maar sy gevoel is dat die euforie van Afrikaanse kunstevorme besig is om af te weer. Dis besig om nou net te normaliseer. Afrikaanse mense was nog nooit juis baie gekultiveerd nie, sê hy.
Wat van aktuele en relevante drama, vra Stephina Zwane. Nou skryf mense oor studenteprotes, so die studente kom kyk. Miskien is ons nie besig om stories te vertel oor dinge wat regtig saakmaak nie, meen sy. In die tagtigerjare het mense stories van protes geskryf, anti-apartheid. Wat van #-stories? Dinge wat saakmaak vir mense van vandag?
Lanoye: hoekom het ons 'n biblioteek as jy nuwe boeke kan skryf? Want jy kan leer uit ouer skrywers ook. Dit geld ook dramatekste en -skrywers: nuwe dramateksskrywers kan leer uit 'n ouer generasie skrywers ook.
Hugo Theart: Ons is altyd op soek na nuwe stemme. Maar uit 'n feesperspektief: ons moet ook omsien na ons gevestigde skrywers.
Albert Maritz: In 'n ideale wêreld moet daar meer mense wees wat toegang kry tot befondsing. Die instellings en infrastruktuur moet bestaan.
Jason Jacobs sê:
There are spaces in Langa, for example. Farm workers, amateur production groups. We have fully equipped spaces. Getting people from the community to attend, how do we get an audience?
Not all audiences are interested. Until they are in [inside the theatre], they cannot be part of the experience.
So how do we get people into the theatres? vra Stephina Zwane.
En sy verduidelik 'n belangrike kwessie om in gedagte te hou: onthou dat omstandighede in 'n township verskil van omstandighede in baie van die wit buurte.
Saterdagaand in die township: dis gevaarlik op straat. Wie gaan die kinders kos gee? Waar gaan hulle vervoer kry? Mense gaan nie teater toe gaan nie.
Saterdagmiddag twaalf-uur: mense is nog by die begrafnis. Mense gaan nie teater toe gaan nie.
Hoe dan, wanneer is 'n goeie tyd? vra Lanoye haar.
Jy moet maande voor die tyd vir die mense waarsku, sê sy. Mense gaan moet wéét. Lig jou gehoor in, maak seker die inligting kom by hulle uit. Hulle moet reëlings kan tref.
Willem Anker vra: wat gaan die teater red? Juis die idee om nie te red nie. Om nie doelbewus oor 'n belangrike kwessie te skryf nie. Godot, dis eurosentries, dis elitisties, maar dis relevant. Doen iets wat so anders is dat mense nie anders kan as om te kom kyk nie.
Ten slotte, Shakespeare
Lanoye gesels oor hoe belangrik dit is om gevestigde skrywers, soos Shakespeare, se werk te ken. Hy beveel hierdie boek ter agtergrond aan: Shakespeare's restless world deur Neil MacGregor.
Leer ken Shakespeare se wiskundigheid, die belang van taal in die teater.
En nie net die woord nie, maar ook waar's die klem: op elke vierde lettergreep, dit is: die tweede "oet" van die "vijfvoetige jambe". Dis die versvorm waarin Shakespeare geskryf het, net soos sy voorganger en voorbeeld Christopher Marlowe.
To be or NOT to be, that is the question.
Is that a DAG-ger I see before me?
Hierna dramatiseer Tom Lanoye sy eie Hamlet versus Hamlet.
Hy skryf in verskillende tale in een drama. Engels, Frans en Vlaams.
Hy dramatiseer ook groot gedeeltes uit sy kop, sonder om ooit na die teks te kyk. Hy is nie net skrywer nie, hy is ook akteur.
Op pad terug huis toe sien ek 'n man met stukkende klere deur 'n stukkende heining naby die Stellenbosch-stasie klim. Was vandag se gesprek ook vir hom?
Vandag se gesprek was oor taal in al sy gedaantes. Dalk is kennis van 'n man op 'n treinspoor se taal één manier om 'n nuwe mens in die teater te kry.
- Al Tom Lanoye se dramas kan gratis op sy webwerf afgelaai word. Lanoye se bibliografie verskyn op wikipedia.
The post Kunste Onbeperk-teksmark: 'n Dag saam met Tom Lanoye appeared first on LitNet.