Ek het vanjaar 68 flieks gesien, waarvan 18 Suid-Afrikaanse flieks is – en soveel daarvan goeies dat ek besluit het om vir die eerste keer ook ’n plaaslike toptienlys op te stel.
Buitelandse bestes
1. The Revenant
Verlede jaar het regisseur Alejandro Iñárritu met Birdman die Oscar vir beste film én beste regisseur gewen, vanjaar net vir beste regisseur, met Leonardo diCaprio wat uiteindelik sy Oscar vir beste akteur (welverdiend) ontvang het. The Revenant was nie die jaar se maklikste kykervaring nie, maar die fliek is waaragtig groter as lewensgroot.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
2. Labyrinth of Lies
Daar gaan selde ’n jaar verby sonder ’n nuwe Holocaust-fliek – ek het vanjaar ook nog Remember en Race gesien. Hierdie een, wat die geskiedenis uit ’n agterna-perspektief belig, is in alle opsigte ’n uitstaande film.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
3. Queen of Katwe
Dié ware verhaal van ’n brandarm, ongeletterde Ugandese meisie wat ’n skaakkampioen word, is my goedvoel-fliek van die jaar. Uitstekende werk deur regisseur Mira Nair.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
4. Spotlight
Spotlight het nie verniet vanjaar die Oscar vir beste film ontvang nie. Hierdie 2001-exposé van pedofielpriesters in die Katolieke kerk deur verslaggewers van die Boston Globe wys ondersoekende joernalistiek op sy beste. Dit bevestig net weer waarom ’n vrye pers so uiters belangrik is in enige gemeenskap.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
5. Youth
Nie so kompleks soos The Great Beauty, regisseur Paulo Sorrentino se Oscar-wenner van 2014, nie, maar steeds betowerend. Sorrentino se handelsmerk is beeldskone, gestileerde en enigmatiese beelde wat telkens vervloei tussen werklikheid en die irreële.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
6. Room
Nogmaals sorg ’n boek vir ’n aangrypende fliek, met Emma Donoghue as skrywer sowel as draaiboekskrywer. Brie Larson verdien onteenseglik haar Oscar vir beste aktrise, maar dis veral die jong Jacob Trembley wat Hollywood soos ’n tornado tref.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
7. Sing Street
Kollega Danie Marais het dit ’n groot klein bittersoet plesier genoem, wat dié fliek oor ’n groep tieners uit die Ierse werkersklas van die 1980’s perfek opsom.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
8. Ex Machina
Wetenskapfiksie van die boonste rak, maar dit het omtrent ongemerk gekom en gegaan op ons fliekkringloop. In die nuwe era van cyborgs en kunsmatige intelligensie gaan hierdie fliek my nog lank laat nadink. Arrival verdien ook vermelding in die kategorie wetenskapfiksie.
9. Amy
Dit was geen verrassing dat Amy vanjaar die Oscar vir beste dokumentêr ontvang het nie. Dit wys Amy Winehouse as die werklik oorspronklike kunstenaar en begaafde jazzsanger wat sy was, eerder as net nog ’n popster wat haarself te vroeg dood geleef het.
10. Irrational Man
Woody Allen het laas in 2009 so lekker met die filosofie geflankeer in Whatever Works. Vanjaar had ons ook sy sjarmante Cafe Society op ons kringloop, maar dis Irrational Man wat die orgaan tussen die ore behoorlik masseer.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
Suid-Afrikaanse bestes
1. Sink
Hierdie fliek, gegrond op die roman Rachel Weeping deur Brett Michael Innes, staan uit as een van die heel bestes in Afrikaans. Dit kan met gemak op die internasionale kringloop van kunsfilms meeding.
2. Noem my Skollie
’n Puik gangster-fliek wat herinner aan regisseur Ian Gabriel se Four Corners – met die onderskeiding dat dit aangewys is as ons amptelike inskrywing vir volgende jaar se Oscars! Noem my Skollie wys Kaaps as ’n volwaardige taal waarin mense lewe, liefhet en ly, eerder as die verskraalde en stigmatiserende beeld van Capey-grappies met ’n “djy”-aksent.
Lees Reney Warrington se resensie.
3. Shepherds and Butchers
Die afgesaagde term “kragtoer” is op dié film van toepassing. Dit belig ’n gruwelike stuk apartheidgeskiedenis en verruim ’n mens se begrip van ons land se veelvuldige kompleksiteite.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
4. My Father’s War
Hierdie aangrypende fliek, met voortreflike spel deur Edwin van der Walt, Erica Wessels en Stian Bam, het veels te min media-aandag gekry. Dis so ’n eg Afrikaanse verhaal, dalk moes dit maar in Afrikaans gewees het, met Engelse onderskrifte.
5. Modder en bloed
Regisseur Sean Else verdien hoë lof vir sy treffende Boereoorlog-en-rugby-drama. Die heg gestruktureerde verhaal en uitnemende toneelspel van veral Stian Bam sorg vir een van vanjaar se beste kykervarings.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
6. Nobody's Died Laughing
Hierdie deeglike dokumentêr wys Pieter-Dirk Uys is nie sommer almal se speelmaat nie. Hy is ’n briljante satirikus wat ook internasionaal hoë aansien geniet, en een van die mense wat erkenning verdien omdat hy aktief help afbreek het aan apartheid.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
7. Vir die voëls
Ek het snot en trane gesit en huil vir hierdie Huisgenoot-storie uit die 1970’s. Elkeen wat by die film betrokke was, kan met reg trots voel. Goeie draaiboek, goeie toneelspel, goeie regie ... Goeie werk, mense!
Lees Reney Warrington se resensie.
8. Happiness is a Four-letter Word
Skrywer Cynthia Jele se suksesvolle debuutroman het met haar as draaiboekskrywer gesorg vir ’n romantiese girls-fliek met houding én hart. Ons eie Sex and the City, as’t ware.
Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.
9. Dis koue kos, skat
Dis eenvoudig ’n plesier as die regte storie vir die regte gehoor rég aangepak word – dan kry jy die spreekwoordelike crowd-pleaser en gewaarborgde loketsukses. ’n Boodskap aan ons plaaslike filmbedryf, soos Tilly in The Dressmaker sê: “Observe and learn, Gertrude!”
Lees Reney Warrington se resensie.
10. Jonathan
Suid-Afrikaners se humor is een van die dinge wat my aan hierdie land bind, met ’n spesifieke voorkeur vir moedswillige, klipgesig- Afrikaanse humor soos dié van Rikus de Wet (die nimlike Jonathan). Eerder as ’n blote sameflansing van grappe het hierdie fliek ’n behoorlike storielyn. En ná die TV-reeks Buurtwag is Beate Opperman ’n reuseverrassing – sjoe vir so ’n sexy rooikop!
The post Flieks 2016: Suzette Kotzé-Myburgh se toptienlys appeared first on LitNet.