Vanoggend was dit tyd vir die weeklikse uitgooi van koerante wat nog nie gelees is nie, want môreoggend kom die herwinningslorrie en die afgelope week se koerante, papiere en leë bierblikkies en plastiek word na ’n weggooihemel vervoer waar hulle later in ’n ander gedaante kan terugkeer om later weer weggegooi te word en so tot in der ewigheid toe.
En dit is met die vinnige deurblaai van die Rapport Beleef van 27 November dat ek ’n sinnetjie teëkom wat my hele dag bederf. Daar op bladsy twee met die hoofopskrif “Waar Breyten gebly het”, loer ek vinnig-vinnig sodat ek ook later met die slimmes kan saampraat. Maar omdat ek aan ADHD ly, en nie veel meer as ’n halwe bladsy op ’n keer kan hanteer nie, loer ek skrams en daar staan dit: "In die Tuin van Digters – waar die jaarlikse Fees van die Digters aangebied word – wag ’n gedig jou om elke hoek en draai in". (Toe dink ek: Wellington is mos net om die draai. Eendag moet ek wel daar gaan inloer – ek en Breyten is mos van dieselfde jaar se kalwers, alhoewel ek net oor goggas kan skryf en hy oor die dieper dinge van die lewe.)
Toe lees ek verder wat Ilse Zietsman skryf: “Ek glimlag oor ‘O gomgomgai!’ van George Weideman onder my voete op die voetpad,” en daar verdwyn my eie glimlag en die res van die dag word ’n dag van soek en wonder.
Daar praat George Weideman van gomgomgai en hier sit ek met my vertaaltitel Die Goorgomgaai van Julia Donaldson se The Gruffalo. Ek was tot nou toe so trots op hierdie slim uitgedinkte titel van my, en skielik wonder ek.
En die woord PLAGIAAT flits toe sommer in yslike hoofletters deur die lobbe van my brein. Het George Weideman my skepping beloer, of was dit dalk andersom?
Deesdae is soektogte veel makliker. Dr Google van die internet is net die druk van ’n paar knoppies weg, en daai man weet mos alles.
Die eerste woorde wat ingetik word is George Weideman en daar op Wikipedia kry ek sy geboorte- en sterfdatums en sien ek dat hy alreeds in 2008 oorlede is. Toe was dit ’n vinnige soektog na my kopie van Die Goorgomgaai en daar staan dit: “Eerste Afrikaanse uitgawe, eerste druk 1999”. Daarom was my eerste gedagte: in die nege jaar voor hy gesterf het, het George Weideman van my vertaling gehoor, en daar maak hy toe sommer sy eie weergawe!
Nou, net om seker te maak, moes ek uitvind of sy woorde dalk deel van ’n gedig is. Daarom Google ek onmiddellik die woord gomgomgai en kry ek op sos.culture.south-africa.afrikaans die volgende versie:
DIE LAAISEL VAN DIE SONBESIE
George Weideman
O gomgomgai ! loep die voël wat die bont eiels lê
Sonbesie, wat het jy vil my te sê?
Sonop reeds het jy jou vlymfluit
in ’n vaalgroen melkbos opgehang
Jou klank het klag, man – my ole tuit
Na wie is dit wat jy velang?
O ek sien, jy’s die son se stlaal
soms in bos of boompie vasgevang
Sonbesie, wat stolie jy vil my?
Êtse man, hou op met sklee!
Ek hensop maal, laat staan nog stly,
– God het jou ’n sekelstem gegee!
En onderkant staan Van heelal tot heelal.
Was laasgenoemde dalk die titel van sy digbundel waarin hierdie versie verskyn het?
Na ek van heelal tot heelal gedruk het, loop ek my in ’n doodloopstraat vas en na ’n halfuur se soektog weet ek álles wat daar te wete is omtrent die heelal en die uitspansel, maar nog steeds nie of dit een van George Weideman se bundels was nie.
Nou nog net iemand by sy uitgewers opspoor wat my kan help. Onmiddellik dink ek aan Alida Potgieter wat by Human & Rousseau werksaam was, maar dalk sou sy meer van Karel Schoeman kon vertel; en onthou ek dat Charles se vrou nou deels omroeper is by Fine Music Radio, maar kom ek later agter dat ek haar verwar het met die vrou van ’n ander Afrikaanse digter wat glad nie eens omroeperswerk doen nie. Toe is ek meer deurmekaar as ooit tevore.
Die laaste uitweg was maar om André P Brink se Groot Verseboek van 2000 nader te sleep en te kyk wat van Weideman opgeneem is. Daar op bladsy 476 is dit sowaar die heel eerste van sy verse wat in die bundel opgeneem is.
Toe moes ek nog net die datum opspoor wanneer daardie versie geskryf is, dan sou ek vir seker weet wie vir wie geloer het.
Met net ’n bietjie verder soek, lees ek agter in die boek se bronnelys: “Weideman, George: ‘Die laaisel van die sonbesie’ uit Hondegaloppie, Voortrekkerpers, Johannesburg, 1966”.
Toe is ek deurmekaarder as ooit, want Die Goorgomgaai is eers 33 jaar later in 1999 gepubliseer.
Maar my soektog was nog net halfpad.
Nou die dag bel Louise Smit van Wieliewalie-faam my juis: “Jou Goorgomgaai-titel vir Julia Donaldson se Gruffalo was geniaal. Hoe op aarde het jy daaraan gedink? Selfs in die Nederlands is dit maar slegs bekend as De Gruffalo.”
My antwoord was dat ek self nie presies weet nie, maar dat ek gedink het g-klanke maak ’n monster nog meer monsteragtig.
Vanoggend sit ek en wonder: is daar ’n woord soos gomgaai? Want in my agterkop is dit hoe ek na soveel jare reken die titel begin het. Eers moes ek woordeboeke raadpleeg, voor die uiteindelike Google.
Die woord gomgaai was nêrens in die jongste HAT of Leon de Stadler se Tesourus of selfs in die Retrograde Woordeboek van Afrikaans te kry, waar woorde agteruit gespel word nie. Ek het wel op woorde afgekom wat op –aai eindig. Ordentlik en onordentlik, maar gomgaai was nêrens te kry nie.
Nou was daar g’n keuse behalwe om al weer Google te raadpleeg nie. Toe ek gomgaai intik kry ek, onder andere, chan nii kon gom gaai hen rak dii gaan pai, wat vir my bra Grieks is – of dalk eerder Taiwannees.
Maar daar was tog een ligpuntjie: op 14 Oktober het ’n ene Brian Kritzinger die volgende op Facebook getik: “Ons almal se trust in die regering is laag, so wat presies is die verhouding tussen china en gomgaai zuma?”
Uiteindelik iemand wat die woord gomgaai ken, maar voor ek vir hom ’n boodskap wou stuur, plaas ek eers die volgende op my Facebook-blad en ook op die blad Argaïese uitdrukkings in Afrikaans is cool.
“Is daar miskien iemand wat die woord "gomgaai" ken? Ek vermoed dit is vir ’n agterlike persoon. Ek het in woordeboeke gesoek, maar kan dit nêrens teëkom nie.”
En hier is van die antwoorde wat ek gekry het:
Elbie-Dickie Clark wat sê: “Dit verwys moontlik na 'gomgat' wat ’n agterlike persoon beskryf. Mense verdraai 'gat' mos na 'gaai' dalk omdat hulle dink dit klink nie so erg platvloers nie? Dis maar my beskeie opinie.”
En Johan Fritz wat skryf: “Hier in die Vrystaat gebruik ons die woord gomgat vir ’n nikswerd ou.”
En Herman van Niekerk wat sê hy ken albei.
En laastens Maureen van Velden: “Ek dink nie ek het ooit van die woord "gomgaai" gehoor voordat my kinders jou vertaling van The Gruffalo (Die Goorgomgaai) in Afrikaans gelees het nie.”
Het ek dalk jare gelede in my kleurryke veelbewoë verlede George Weideman gelees, met daardie enkele woordjie wat in my brein kom nesskop het?
Of ek regtig slim is, en waar daardie woord vandaan kom, sal ek dus ongelukkig nooit weet nie, maar feit bly: The Gruffalo sal vir ewig en altyd in Afrikaans Die Goorgomgaai bly … maar ek wens steeds ek weet wie in my oor gefluister het daardie dag toe ek die titel uitgedink het.
The post Hoe ’n digter jou hele dag kan bederf appeared first on LitNet.