Draaiboek en regie: Jans Rautenbach
Spelers: Dann-Jacques Mouton, Chantell Phillipus, Hannes Müller, Franci Swanepoel
Van Jans Rautenbach se uitstaande filmwerk het ek altyd net gehoor, want ek het nie sy vroeëre films gesien nie. Ná ’n stilte van dertig jaar, en danksy befondsing deur kykNET se Silwerskerm-projek, is die ou meester terug met hierdie klein groot film.
Die verhaal is gegrond op ’n werklike mens wat Rautenbach jare gelede in die De Rust-omgewing leer ken het. Abraham Soetlander was ’n plaaswerker wat beelde van draad en klei gemaak het, en sy naam hoort sekerlik by Suid-Afrika se lysie outsider-kunstenaars, waarvan Helen Martins van Nieu-Bethesda se Uilhuis moontlik die bekendste is.
’n Kenmerk van groot kuns is dat dit terselfdertyd op die persoonlike sowel as die universele vlak funksioneer. Die persoonlike in Abraham is skrynend. Dit konfronteer jou trompop met bruin plaaswerkers se armoedige lewens, die uitsigloosheid, die drankmisbruik; dit laat jou huil oor die verskriklike onreg van apartheid, oor hoe dit mense tot in die stof toe afgebreek het.
Op universele vlak resoneer Abraham se storie met elke kunstenaar wat nie verstaan word nie en wat uitgeskuif word; elkeen wat voortdurend gedryf word deur die drang om te skep; elkeen wat worstel met die onmag om deur hulle kuns uiting te gee aan hulle diepste wese.
Vir Dann-Jacques Mouton is Abraham moontlik die rol van ’n leeftyd – tussen hom en Rautenbach het daar iets magies gebeur. Hierdie fliek is ’n meesterstuk. As jy ernstig is oor filmkuns, en veral Afrikaanse films, moet jy dit nie misloop nie.
Sterre: 5
The post Filmresensie: Abraham, 'n film deur Jans Rautenbach appeared first on LitNet.