Titel: Lafras Cuyper kanonnier
Skrywer: Karl Kielblock
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485303459
Wanneer ‘n boek wat reeds in 1964 verskyn het, heruitgegee word, spring die “waarom” soos ’n “pop-up” van ’n kinderboek op om jou as leser te konfronteer. Jy wonder waarom die uitgewer (Protea Boekhuis) hierdie besluit geneem het, veral as dit nie die uitgewer (‘n NB-druknaam) is wat dit oorspronklik uitgegee het nie. Ja, wel, Tafelberg het dit in 1970 weer uitgegee, maar dis nou 45 jaar later. Daarmee saam wonder jy of die styl dalk verouderd is en of die tema steeds relevant is.
Wat laasgenoemde betref, behoort daar nie ’n probleem te wees nie – Stevenson se Treasure Island word steeds gelees en die gewildheid van filmreekse soos Pirates of the Carribean en Black Sails lewer bewys van die post-2000 mens se fassinasie met die verbeelde romantiek van seilskepe en seerowers. Ek sê “verbeelde”, want dit was eintlik ’n harde en uitsiglose lewe, veral vir gewone matrose. Vir die skrywer van (ont)spanningsverhale is dit maklik om op die aksie te fokus en milieu en karakterontwikkeling te verwaarloos. Dit doen Kielblock nie; hoewel daar wel romantiek in Lafras se verhaal is en tragiek en versugting aan vryheid, liefde en erkenning – om iewers ongebonde te behoort – skets hy die lewe op Britse en Franse seilskepe met genoeg besonderhede vir die leser om hom of haar in die verhaal te kan inleef.
Kielblock, wat sy debuut in 1936 met Die skat van Java gemaak het (‘n boek wat ek as laerskoolkind geweldig geniet het en wat Parow se kinderbiblioteek as’t ware vir my oopgesluit het, soos daardie skatkiste wat in sulke verhale voorkom) se styl is onopgesmuk, dog kleurvol genoeg om die bladsye te laat oop- en aanrol: ‘n mens empatiseer met die jong Lafras oor die lotsbesluite wat aan hom opgedwing word en jy identifiseer met hom omdat hy ‘n soort proto-Afrikaner is – altans hy toon die eienskappe wat ons graag aan ons voorouers toeskryf: hy is edel, individualisties, skrander, hardwerkend, sterk en onverskrokke en hy kan beter skiet as enigiemand anders. Hy verteenwoordig dus die stoffasie waarvan die Boere aanmekaargesit is en hy stel gou die Britte en Franse in die skadu, beïndruk vriend en vyand (daar ontbreek wel ’n sterk en weersinwekkende antagonis sedert hy die Kaap reg aan die begin verlaat het) en soos die Afrikaner van die sestigerjare, toe hierdie boek verskyn het, geglo het, wys Lafras die wêreld gou wie’s baas op vele terreine. Hy maak ook planne, toon leierseienskappe en oorleef gevaarlike situasies, is onbaatsugtig, leer vinnig en ja, natuurlik: hy is fisies aantreklik – die bloudruk van ’n fiksieheld, want wie wil nie só wees nie? Nogtans oordryf Kielblock nie en bly dinge redelik binne die grense van die moontlike.
Deesdae word dalk meer klem gelê op “backstory”, en die hedendaagse leser sou sekerlik graag meer oor Lafras se kinderlewe aan die Kaap wou weet, soos wat sy opvoeding behels het en hoe so ’n weetgierige seun sy drang na kennis versadig het. Het hy byvoorbeeld toegang tot boeke gehad? Ons weet boeke aan die Ou Kaap was skaars, want die boedelinventarisse in die Kaapse Argiefbewaarplek, asook Karel Schoeman se beskrywings van die lewe in die Hollandse tydperk, maak dit duidelik, maar miskien sou die verhaal ’n ekstra dimensie kon hê as Lafras ’n mentor gehad het, iemand wat sy ooglopende potensiaal raakgesien het en hom aangemoedig het om homself uit te druk, soos hy wel reggekry het in ’n omgewing waar so iets selfs onder die hoër range ontmoedig was.
Die Lafras Cuyper-reeks van sewe, waarvan hierdie boek die eerste was, herinner nogal aan Alexander Kent alias Douglas Reeman se Bolitho-reeks van die sewentigerjare, wat waarskynlik deur CS Forester se Horatio Hornblower-reeks uit die 1930’s geïnspireer was. Kielblock se boeke val dus tussen Forester en Kent se reekse, tydsgewys. Gerrie Radloff (alias Gerrit van Zyl) se Oloff die Seerower-reeks rondom die 1950’s kon dalk eerder ’n aansporing gewees het, maar Kielblock se styl is minder “swashbuckling” en meer realisties, met die gevolg dat Lafras, sy effens obskure agtergrond ten spyt, meer geloofwaardig voorkom as Radloff se Oloff (of sy Zorro-agtige Buiter-karakter, wat ook groot pret was om te lees). Kielblock, wat ook etlike speurverhale geskryf het, se boeke oor die Ou Kaap is ’n waardige onderdeel van hierdie tradisie en kom heel oorspronklik voor, wat iets van sy skryfvermoë sê.
En dit was veral Kielblock se skryfvaardigheid wat my geïnteresseer het toe ek na soveel jaar weer lees oor die seun wat uit die Kaap weggeloop het en op ’n Britse oorlogskip beland het. Sou ek teleurgesteld wees? Ek het onlangs weer probeer om Fritz Deelman, Trompie en Die Rooi Ridder te lees en was teleurgesteld. Veral in laasgenoemde reeks, wat ek soveel maal oorgelees het as kind. Maar nee, Kielblock het my waarlik meegesleur – méér, verbeel ek my, as bykans 40 jaar gelede. Miskien was sy skryfstyl juis te volwasse vir my toe ek ‘n tiener was, sodat ek nou meer waardering daarvoor kan hê? Hier en daar het ek ‘n argaïsme raakgelees en op twee plekke het hy te veel verduidelik deur gelykenissies te vertel, en die skrywerstem voel ‘n bietjie soos ‘n skeidsregter wat ‘n wedstryd oorheers, maar meestal kon ek saam met die jong Lafras leer – oor hoe seilskepe werk, gevegsmetodes van toentertyd, van die wel en wee van seelui. En die romantiek van die 1800’s het my soos destyds bekoor.
Kielblock self was ’n seun uit Beaufort-Wes wat op 23 Oktober 1907 daar gebore is, dus nou 108 jaar gelede, en hy is in 1991 oorlede, ook al byna ‘n kwarteeu gelede. Tog bekoor sy Lafras Cuyper vandag steeds en ek dink die meeste van sy sowat 40 ander boeke sal ook nog die moeite werd wees om te lees. Ek voel amper skatpligtig jeens hierdie baanbreker van Afrikaanse avontuurverhale, want nadat ek as sesjarige Die Uile in die wapad deur Cor Dirks gelees het – my eerste biblioteekboek ooit – was ek gereed om my verbeeldingshorisonne te verbreed, en ek hét, deur boeke soos Lafras Cuyper kannonier.
Ek glo baie ander Afrikaanssprekende jongelinge het ’n soortgelyke pad gestap en ek hoop dit sal nou weer die geval wees. En as jy nie meer so jonk in jare is nie, maar jonk in gees, beveel ek steeds hierdie boek aan. Dit bied meer as blote nostalgiewaarde en dit voel vir my reg dat Karl Kielblock nog nie vergeet is nie. Mag hy deur sy karakters voortleef.
The post Boekresensie: Lafras Cuyper kanonnier deur Karl Kielblock appeared first on LitNet.