Beste Angus,
Ek het my erg verkneukel (en dus my gesig verkreukel) oor jou stelling dat jy na my antwoord uitsien ... oor ’n maand. Jy moet onthou ek is verskriklik besig; dit vat my drie ure om my gereedskap bymekaar te kry om ’n halfuurjoppie te doen en gewoonlik, teen daardie tyd, het ek vergeet wat ek wou doen en dan besluit ek maar op ’n ander joppie en die gesoekery na die gepaste gereedskap begin weer en so herhaal die proses sigself. Ook was my rekenaar nou onlangs weens weerlig buite werking en dit was ‘n storie om dié nou weer aan die gang te kry.
Ewenwel, soos ek gesê het, ek wil jou NIE in ’n hoekie toegeverf sien nie, ek probeer jou reghelp dat dit juis nie gebeur nie.
Wat jy ‘male sonder tal aan [my] verduidelik’, soos jy beweer, maak nie eintlik sin nie. Steeds gee jy te kenne dat Standaardafrikaans ontstaan het deur, onder andere, die uitroei van bestaande anglisismes en Engelse woorde. Waar sou daardie Engelse woorde en anglisismes vandaan kom? 18de Eeuse Engels? (Jy beweer mos die Britte het in 1700 die Kaap oorgeneem.) Maak nie sin nie.
Die Eerste Britse Besetting was eers in 1797 en as jy beweer 1700 was die begin van Afrikaans (wanneer die skeiding met Nederlands plaasgevind het soos jy beweer) was dit bykans 100 jaar voor enige Engelse invloed moontlik was.
Nee swaer, die Engelse invloed het begin na die Boere verslaan is in die Tweede Engelse oorlog; baie het geglo jy moet die taal van die oorwinnaar goed kan praat (soos een ou my vertel het dis die raad wat sy pa hom gegee het). Die oorwinnaar het ook aktief begin om sy taal af te dwing (vgl ‘I’m a donkey, I may not speak Dutch’). Faktore wat verder bygedra het was die anglofilisme van Jan Smuts en (dus) die feit dat Engels die enigste amptelike taal was.
Onder die bruin bevolking was daar ander dryfvere. Anders as ons, vir wie die Engelse in ’n oorlog verslaan het, beskou hulle die Engelse as bevryders – Engels is die taal van die bevryder, Afrikaans is die taal van die onderdrukker en is dus vrot van bagasie. Franklin Sonn, byvoorbeeld, was op ’n kol kwaad oor iets en het sy gesin aangesê om voortaan nie meer ’n woord Afrikaans te praat nie. Wit Afrikaanssprekendes, in ’n kniebuig in die rigting van politieke korrektheid, het toe ook ‘snaaks’ begin praat (vgl die South Park-program waar die mense rubberfetusse op hulle koppe begin dra het). Ek het byvoorbeeld Karen Zoid hoor sê sy’s jammer maar suiwer Afrikaans klink vir haar aanmatigend (of aangeplak?). Dit is dus mode onder die hoofstroom-Afrikaners, veral die aartie-faarties, om Afrikaans te verkrag om ‘in’ te wees. Snaaks genoeg, almal van hierdie mense streef daarna om die suiwerste Engels te praat; hulle sterf eerder tien dode as om uitgevang te word dat hulle ’n fout in Engels gemaak het.
Na ’94, toe Engels die amptelike taal geword het, het dinge vererger. Selfs mense wat, sê maar lojaal, teenoor Afrikaans was begin nou sukkel want by die werk en in die openbare lewe moet hy Engels praat. Al hoe meer hoor jy mense sê “... jammer vir die Engels maar ...” of “... ek weet nou nie wat die Afrikaans hiervoor is nie maar ...” of “... die Engelse noem dit ...” of, selfs dominees “ ... die Engelsman sê dit vir my so mooi . . .” Afrikaans, soos jy saamstem, is besig om agteruit te gaan; besig om vinnig deur Engels vervang te word.
So, jammer om op jou battery te piepie; die Engfrikaans wat jy op die sepies en die radio hoor is nie ‘n variëteit van Afrikaans nie, dis ook nie die geboorte van ’n nuwe taal nie maar bloot swak en ontoereikende Afrikaans. Jy kan mos nou vir jouself dink man; as jy ’n Engelse woordeboek nodig het om dit te vertaal KAN dit mos nou nie Afrikaans wees nie.
Wat jy sê oor ‘dooie taal’ is reg; dis mos wat ek vir jou gesê het: ’n Dooie taal beteken die taal het nie meer sprekers nie en dus is daar geen verandering nie. Om nou die agteruitgang van Afrikaans te regverdig deur te sê hierdie soort ‘verandering’ is nodig anders gaan die taal ‘dood’ is onsin – dit is juis die verengelsing wat die taal gaan ontneem van sy sprekers en sodoende die taal doodmaak.
Ek het nooit saamgestem dat “usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle” nog ’n taal is nie (Wie is die ou wat nou lekker verdraai?). Jy het gesê dat dit taal is en ek het saamgestem dat dit taal is, want wat anders kan dit wees. Maar dis swak taal; dis geradbraakte Afrikaans. Ek sê weer: Jy kan mos nou vir jouself dink man; as jy ‘n Engelse woordeboek nodig het om dit te vertaal kan dit nie suiwer Afrikaans wees nie. En moet nou nie weer op loop gaan met die term ‘suiwer Afrikaans’ nie, want ek is seker jy praat suiwer Engels en nie een van jou Engelse vrinne gaan jou daaroor verkwalik nie.
Jy vra hoe ek weet dat Afrikaans ’n grammatika het? Die antwoord is, soos hulle in wiskunde sê, triviaal. As ’n taal sonder grammatika is, is dit nie ’n taal nie. Taal is, kan mens maar sê, die versamelnaam van (hoofsaaklik) woordeskat en grammatika. ALLE tale wat gepraat word (selfs dooie tale soos Latyn en Antieke Grieks) het ’n grammatika en ’n woordeskat anders is dit nie ’n taal nie.
Groetnis
Jan Rap
The post Vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 21 deser appeared first on LitNet.