Ek voel eintlik jammer vir die manne wat Springbokrugby speel en of gespeel het. Ek mag seker nie kla of kommentaar lewer sonder om met voorstelle te kom nie.
Almal praat, raas en skel. Party brand truie en ander kyk nie meer nie. Dis ek daardie.
Daar is sekere goed wat jy kan transformeer. Rugby kan jy nie. Dit werk net nie. Ek sien op die nuus dat SARU in die parlement was om vrae te antwoord. Ek het nie een oud-rugbyspeler daar gesien nie. Ek het verteenwoordigers van politieke partye daar gesien. Ek het mense daar gesien wat nog nooit op 'n rugbyveld was nie, ek praat nie eers van speel nie. Opvallend het hulle ook die meeste te sê gehad.
Volgens my is Springbokrugby soos ons dit geken het, nou dood. Ek is oop vir oortuiging en sal verskoning maak indien ek verkeerd is. Rugby is nie nou net meer 'n spel wat jy uit liefde daarvoor gespeel het nie. Dit is nou 'n werk/beroep. Soos in alle sporte is daar beheer- en bestuursliggame. Die spel genereer geld deur oa borgskappe, televisieregte en kaartjieverkope. Kaartjieverkope het soos ek dit sien, erg in die hek geduik.
Dit lyk vir my dat enige lid van die samelewing mits hy die regte skakering het, aanspraak kan maak op 'n transformasie-joppie by enige rugby-unie. Al kwalifikasie is dat hy of vlagman was of ten minste drie wedstryde al bygewoon het.
Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe 'n rugby-unie soos die WP bankrot is. Ek weet nie wat SARU aan die lewe hou nie. Daar is ook manne wat glad nie daar hoort nie.
Dit is een van die laaste bastions van die meeste blanke Suid-Afrikaners wat in die grond in is. (Statistieke sal seker anders bewys.) Daar is ook anderskleuriges wat rugby ondersteun, maar rugby was al die tyd mos as 'n witmansport gesien. Al die ander strukture wat voorheen goed funksioneer het, is maar redelik wankelrig en onder verdenking.
Ek sien nie gou ’n oplossing of uitkoms nie. Aangesien die rugbyliefhebber se liefde vir die sport beproef word, dink ek bly net weg by die pawiljoene en sien wat gebeur. Ek leef seker in 'n droomwêreld.
Reusedwerg
The post Springbok? Wat se ding is dit? appeared first on LitNet.