Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Boekonderhoud: Deon Maas oor Melk die heilige koeie

$
0
0

heilige_koeie_omslagMelk die heilige koeie
Deon Maas
Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780624081166

Die punk-beweging het nog altyd die heilige koeie gemelk. Nie eers die koningin van Engeland was te heilig vir die manne se power chords en bulderende tromme nie.

Net so gee die skrywer Deon Maas in sy jongste boek, Melk die heilige koeie, ook ’n paar steke in die rigting van onderwerpe wat mens om die braaivleisvure met ’n lag, kug of ’n "ja-nee" sal wegpraat.

"In 1976 was ek 15 jaar oud. Punk was die eerste ding waarmee ek kon assosieer, maar dit was ook die jaar van die Soweto-onluste," sê Deon hier waar ons in ’n donker kroeg in die hartjie van Melville, Johannesburg, sit.

"Ek het as ’n Suid-Afrikaanse tiener nie net die musiek gehaat nie, maar ook die politieke klimaat wat geheers het."

"Punk is nie musiek nie. Punk is nie hoe jy aantrek nie, maar hoe jy dink. Ek dink op elke vlak sal ek ’n baba van die '76-revolusie bly."

En soos dit maar altyd die geval is, kom daar met ouderdom wysheid, en daai vurige anti-establishment houding wat hy destyds gehad het, brand steeds.

"Soos mens dinge in jou middel-20’s en nou middel-50’s probeer aanvaar – of gedeeltelik aanvaar – besef jy net weer: I don’t need this shit."

Deon probeer nie om die wêreld te verander nie, maar om ’n verskil in sy onmiddellike omgewing te maak. Sy beste wapen was nog altyd sy opinies, wat hy nou in 34 kritiese opstelle in Melk die heilige koeie opgeneem het.

"My opinies het nog altyd water gedra," sê hy met selfvertroue terwyl The Clash se "Complete Control" oor die luidsprekers blêr.

"Een van die probleme in Suid-Afrika is dat niemand wil luister na wat jy te sê het nie. Ek dink dit is een van die pogings met hierdie boek; om mense ander standpunte te laat insien."

Hy sê die boek is nie geskryf om mense te oortuig dat hy reg is nie.  

“Ek dink nie daar is iets erger as ’n klomp mense wat dieselfde dink nie. Al wat ek probeer doen, is om ’n diskoers te stel waarna mense kan luister.”

En net soos wat daar heilige koeie is wat gemelk moet word, maak Deon ook seker dat hy ’n klomp feite – soos koeie – in gelid marsjeer om sy opinies te staaf.

“Kyk na die feite en lig dit uit. Dit is nie soos godsdiens wat op geloof gebaseer is nie.”

En die Afrikaner is een van die heiliges na wie toe Deon sy mes swaai.

“Een van die goed is dat daar nie iets soos ’n Afrikaner is nie.”

Volgens Deon is die term Afrikaner soveel meer en in sy eerste hoofstuk "Die taal van ’n rewolusie" verduidelik hy dit

“Navorsing wys meer as 50% van mense wat Afrikaans as moedertaal gebruik is nie wit nie.”

Vir hom is die term ’n “mediavirus”.

“Die term Afrikaner, wat die media gebruik, is ’n illusie.

“As jy dieselfde leuen genoeg herhaal, word dit ’n feit.

“Almal gebruik die term. Meeste van my bruin vriende stel nie belang om Afrikaner genoem te word nie.”

Maar al wei Deon nie meer op die alternatiewe grasvlaktes nie, koop hy ook soms in op die hoofstroom.

“Loop na jou voordeur toe, maak die Trellidor oop (natuurlik nadat jy seker gemaak het dat dit veilig is) en skree so hard as wat jy kan: "Ek lees Huisgenoot!" Laat dit weergalm teen die bakstene van die Toskaanse boustyle rondom jou en hoor hoe die eggo terugkom. Dis heel moontlik nie ’n eggo nie, dis die bure wat dit ook skree,” skryf hy in sy hoofstuk oor die tydskrif.

Hy sê ’n tydskrif soos Huisgenoot speel ’n baie belangrike rol in die Afrikaanse kultuur.

“Dit is die enigste maatstaf wat roem in Suid-Afrika meet, en dit is ’n baie belangrike rol wat die tydskrif het.”

Hy sê mense moet van hulle vooropgestelde idees oor hom ontslae raak.

“As hulle dit nie voor die boek doen nie, gaan hulle dit ná die boek doen.”

Net so gaan lesers verbaas wees oor sy opinies oor ateïste en rassiste.

Hy hou natuurlik niks van ateïste nie, hoor jy, want “hulle skep ’n kerk wat anti-Christen is”.

So ook gee hy ’n steek in die rigting van swart rassiste en nie wit rassiste nie as hy in sy hoofstuk hieroor skryf.

Deon probeer nie net oor ernstige sake skryf nie, maar wil ook hê die leser moet met ’n humorsin na van die onderwerpe kyk.

“Ons vat onsself heeltemal te ernstig op. Kyk na kommentare op nuusberigte, ons het heeltemal ons sin vir humor verloor. Ons het nodig om die rem te trap en terug te staan en na die groter prentjie te kyk.”

Hy sê Afrikaners is op hierdie stadium baie kwaad.

“Ons wil alles regverdig, insluitend rassiste se gedrag. Sien die humor raak in die situasie en hou op om slegte gedrag te probeer regverdig. Dit is een van ons grootste sondes op hierdie stadium.”

Deon sê hy glo nou meer in sy opinies as ooit tevore. En as hy nie saamstem oor iets nie, sal hy die heilige koeie melk.

“Ek het probeer verstaan en probeer inkoop op die samelewing, maar dit is nie reg nie, en as mens nie opstaan en sê dit is nie reg nie, dan is ek nie in ’n posisie waar ek met vrede in my hart kan doodgaan nie,” sê hy.

  • Foto van Deon Maas: Imke van Heerden

The post Boekonderhoud: Deon Maas oor Melk die heilige koeie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>