Dié korterige toneelstuk kom van ver.
Alles het begin by Pierre Choderlos de Laclos se brieweroman Les Liaisons Dangereuses wat in Maart 1782 in vier dele verskyn het. Dié werk oor seks en geweld is aanvanklik verban. Deur die eeue sou dit egter herhaaldelik herleef as verhoogproduksies, films, ballet, operas en hoorspele. Heiner Müller, die Duitse dramaturg wat soveel vernuwende werk gelewer het, se verwerking verskyn in 1980 en ’n Engelse vertaling daarvan in 2002.
Merteuil (Greta Pietersen) en Valmont (Ludwig Binge) ontmoet in ’n somber plek. Hulle sal hulle seksuele ervarings oproep, bespreek en gedeeltelik uitbeeld. Met kostuumwisseling ruil hulle persoonlikhede. Die aard van seks word verder bespreek, hoe sterk hulle begeer om dit weer driftig met begeerlikes te beoefen. Nou vertolk Valmont bv. die statige madame De Tourval en Merteuil die o so onskuldige meisietjie uit ’n klooster – “a fruit freshly from the garden of the convent”.
Hulle glo dat die toppunt van genot bereik word wanneer onskuld vernietig word. Hulle moet seks so dikwels hê dat dit moeilik is om net “the various curves of the pricks” te onthou, “let alone the faces: a mist”.
Die twee spelers moet ’n moeilike teks oordra, want dit wissel van ’n afstandelike houding, filosofiese of poëtiese uitlatings, aggressie, liefdevolheid tot uitroepe van pyn en dalk opwinding. Die taalgebruik neig na hoogdrawendheid. Te veel word verklaar. Pietersen kan gerus meer stemprojeksie toepas, veral aan die begin. Binge vaar goed met stem en lyftaal wanneer hy ’n waardige dame word.
Marthinus Basson se regie sorg vir netjiese samehang. Dinge verloop stadig weens die oordadige spraaksamigheid. In oorsese produksies is blykbaar baie meer geëksperimenteer. Byvoorbeeld met beligting. Karakters se gesigte word bv. ingekleur met ligte. Ook word musiek gebruik. Hier is nogal baie stiltes en pouses – wanneer kleinere handeling nogmaals uitgevoer word soos ’n sigaret wat uitgehaal word. Daar was ook onbeplande byklanke: ’n geknal het soms opgeklink vanuit die teaterdak asof dit bedoel is om ’n dreigende stemming aan te kondig.
Daar is nogal heelwat tonele waarin die spelers plat op die vloer lê. Omdat dit op die voorverhoogvlak is, kon ons in die derde ouditoriumry hulle moeilik sien. Jy moes rondskuif om oor die mense voor jou te probeer kyk.
Die trefkrag van die erotiese handeling sal van persoon tot persoon verskil. Ek is nie juis daardeur geraak nie. Die gehoor het ook nie baie luid gereageer op die visuele en die gepraat nie. Hier word te veel besin oor oorbekendhede in 2016.
Quartet
deur Heiner Müller
met Ludwig Binge en Greta Pietersen
Regie en ontwerp: Marthinus Basson
’n Raminidam-produksie in die Kunstekaap Arena. Tot 26 November om 20h00.
The post Teaterresensie: Quartet by die Kunstekaap appeared first on LitNet.