Harry Griesel I: Operasie spookredding
Sonja Kaiblinger
Illustreerder: Fréderick Bertrand
Vertaler: Irma Badenhorst
Uitgewer: Human & Rousseau, 2016
ISBN: 9780798174121
Harry Griesel I: Operasie spookredding is ’n oulike vertaalde boek uit Oostenryk wat goed sal pas op jong lesers se boekrak langs die egte Afrikaanse spook- en grillerstories van Fanie Viljoen, Jaco Jacobs en François Bloemhof.[1]
Die 11-jarige Otto is die hoofkarakter en hy woon sedert die dood van sy ouers by sy tannie Sharon in ’n ou spookhuis waarin spoke woon wat Otto se vriende is. Net Otto kan hulle sien; sy 12-jarige vriendin Emily – wat nie soos ander meisies is nie, met haar blou en bruin irisse – kan hulle nie sien nie, maar sy glo vir Otto en doen navorsing oor spoke, waarvoor sy hoop om nog die Nobelprys te kry. Verder het Otto ook ’n baie ou spookvlermuis (wat vreemd genoeg kan praat) as troeteldier.
Die storie begin wanneer Otto sien dat die buurman, meneer Olson, dood neerval in sy radystuin en ’n vreemde gedaante sy siel kom haal met ’n koddige afleweringswa en ‘n skoenlappernet. (Laasgenoemde is eintlik ’n elektroniese sielevanger.) Hierdie gedaante blyk ’n geraamte te wees, Harry Griesel, en sy werk is om siele van mense wat pas doodgegaan het, te neem na die Oorkant, dít wat gewone mense die hemel noem. Wanneer hy dit nie betyds regkry nie, word hulle spoke wat vir ewig rondswerf op die aarde (soos Sir Tony, Bert en Molly – Otto se huisspoke).
Die spanning in die storie begin wanneer Otto bewus raak daarvan dat Sir Tony, wat in die stofsuier woon, ontvoer raak deur wat later blyk Otto se teenstander (meneer Philippe Bleu, van Franse afkoms) se assistent te wees, meneer Donahue. Die komplot van laasgenoemde om spoke te vang en Otto se pogings om hulle te bevry, kry momentum wanneer Otto, Emily, Vincent en Harry probeer om vir Sir Tony te gaan bevry uit die Fort van Duisternis waar Bleu van hom ’n simpel kammaspook gemaak het met die naam Balthasar die Verskriklike. Hiervoor het hulle nodig om na die spookpretpark in Donkerland te gaan, en uiteindelik is dit ’n avontuur wat jong lesers se hare sal laat rys. Die storie verloop te midde van aksie, spitsvondigheid en soms absurde en dom gebeure wat na ‘n verrassende einde toe loop.
Die taalgebruik ondersteun die konteks, want aan die een kant is dit ouderwets omdat dit handel oor spoke wat honderde jare oud is, en aan die ander kant is dit byderwets, want die kinders in die boek is tussen 11 en 12 jaar oud. Die spoke (Harry, Sir Tony, Molly, Bert) en Vincent die aggressiewe troetelvlermuis gebruik ou idiomatiese taal en daarteenoor gebruik die kinders eietydse tienertaal en noem mekaar spottend allerhande byname, wat bydra tot die humor.
Die buiteblaaie laat die leser dadelik besef dat hier ’n spookagtige atmosfeer is, met die drie hoofkarakters (Otto, Harry en Emily) in die donkerblou naglug en swewende rooi kolle met ’n stukkie geel in die middel. Die pikswart voorste en agterste binneblaaie bevestig hierdie voorspelling dat daar iets geheimsinnigs en grieselig gaan gebeur. Emily se sensvormige skoene sluit aan by die ander objek wat Harry gebruik: buiten die skoenlappernet waarmee hy siele kom haal, het hy ’n sens. Laasgenoemde word ook tradisioneel geassosieer met die Dood (vergelyk Reaper Man in Terry Pratchett se stories). Harry Griesel gebruik dit wel anders, wat ’n verrassing is vir die leser wat bekend is met ander spookstories: vir Harry is dit iets waarmee hy homself kan sig- of onsigbaar maak en dit gee hom ’n ekstra (magiese) vaardigheid in die storie. ’n Slim en verrassende truuk deur die skrywer en illustreerder om laasgenoemde lesers se wyer belese verwagtingshorison waarin hulle voorspel wat gaan gebeur, effens deurmekaar te krap.
Dit is moeilik om te bepaal waar presies die storie afspeel en wat die fiktiewe ruimte is. Aan die een kant noem die vertaler die naam van die straat waarin Otto woon Radysstraat, die skool is Sybrand Swaelkop Skool, en hulle gaan na Donkerland toe om die pretpark van spoke te beleef – alles goeie Afrikaanse name. Maar dan is daar allerlei verwysings wat die leser laat dink dat dit dalk in Engeland afspeel: die name van tannie Sharon, oom Archibald, die spoke Sir Tony en Molly, ook die stofsuieragent meneer Donahue, en die vlermuis Vincent kon dalk eerder Engels gewees het. Verder is tannie Sharon se horlosies so akkuraat dat selfs die Big Ben (in Londen) se horlosie by hare kan kom leer; ook is die naaste ingang na die Oorkant in Wes-Londen en is die fort by Donkerland se stene vanaf Skotland gebring. Harry sê dat Emily eerder die koningin in haar nagklere (as vir hom) moet afneem, en die mistige herfsnag laat ’n mens dink aan die klimaat van Engeland.
’n Opvallende omgewingsvraagstuk wat geïntegreer word en die kontekstuele oriëntasie wat die verhaal eietyds maak, is die verwysings na ’n gesonde leefwyse en gesonde kos. Tannie Sharon is ’n vegetariër, draf elke oggend. Otto self is topfiks en die beste sokkerspeler in die skool. Harry kan sien aan die siel van die dooie persoon hoe (on)gesond hy of sy geleef het, byvoorbeeld die man wat oorgewig was en dood is aan lewervet wie se siel hy deur tannie Sharon se staanhorlosiekas na die Oorkant moet neem.
Die skrywer het interessante intertekste gebruik wat hierdie storie enersyds ‘n Gotiese karakter gee: spookhuise met geheime gange, kelderkamers en valdeure, geraamtes, ’n vlermuis, verwysings na ’n vampier, Dracula, Darth Vader (van die filmtrilogie Star Wars-faam). Hier en daar voel die leser in die atmosfeer en styl iets aan wat nogal herinner aan Jamie Thomson se Dark Lord-jeugreeks, maar Kaiblinger integreer dit heeltemal op haar eie kreatiewe manier.[2] Andersyds is daar heelwat eietydse kultuurelemente waarmee die jong karakters te make het: rekenaar- en videospeletjies, ’n selfoon-app, tannie Sharon se nuwe stofsuier wat soos ’n ruimteskip of UFO lyk met die naam Stofbreker 3000. Daarteenoor is daar ook Emily se outydse Polaroid-kamera, bandopnemer en video-opnemer.
Op besonder prettige wyse word die skrywer en illustreerder met koddige sketse agter in die boek voorgestel, wat duidelik laat blyk dat hierdie ’n boek vol humor is. Die illustreerder, Fréderick Bertrand, spook al hiervolgens vir ’n paar jaar rond in Berlyn, waar hy in sy gruwelike ateljeegrot onder die begeleiding van vals orrelklanke skrikwekkende prentjies teken en snags in sy geroeste ryding, waarmee hy al stampend en stotend met ’n groot rookwolk wat agter uitborrel, monsters in die stadsomgewing jag. Die skrywer, Sonja Kaiblinger, het eweneens in Oostenryk grootgeword in ’n spookhuis wat al meer as 100 jaar oud is, waarin spoke met hulle streke besig is.
Sonja Kaiblinger het vir hierdie boek verskeie toekennings ontvang en tans is sy ook besig met nog ’n jeugverhaal, ’n verhaal oor perde en ’n liefdesromansereeks.[3] Haar skryfstyl is gemaklik, lig en vlot, en hierdie verhaal lees maklik. Veral vir kinders van 10–12 jaar is die taalgebruik eenvoudig genoeg en die skrif is in 'n lekker grootte gedruk. Die woord- en prenttekste ondersteun mekaar voortdurend, wat help om die jong leser se verbeelding te begelei en bevestig. Die verhaal kom met snaakse, bisarre idees en besonderhede na vore, met dinge wat die leser nie verwag nie. Hierdie boek is ten spyte van die grieselrige gedagtes nooit te skrikwekkend vir jonger lesers nie en ’n mens is nooit seker watter belaglike dinge volgende gaan gebeur nie. Dit veroorsaak vermaaklike spanning en leesgenot vir jong lesers in ’n storie met vriendskap en geregtigheid as temas.[4]
The post Boekresensie: Harry Griesel I: Operasie spookredding deur Sonja Kaiblinger appeared first on LitNet.