Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Boekresensie: Dollars Eventualis deur Nico van Rensburg

$
0
0

Hierdie boekbespreking deur Danie Botha is op Woensdag 16 November 2016 uitgesaai in Fine Music Radio se program, Boekkeuse, onder leiding van Amanda Botha.


cover_280Dollars Eventualis
Nico van Rensburg
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316391

Nico van Rensburg het 19 vertellings oor gebeurtenisse in die lewe van ’n prokureur opgeteken in Dollars Eventualis, uitgegee deur Naledi.

Prokureur Van Rensburg het studeer aan die destydse PU vir CHO, en bekwaam hom verder op Klerksdorp en King William’s Town. Hy tree in Grahamstad toe tot die beroep en praktiseer ’n ruk op Saldanha en in die Vaaldriehoek. Hy was in Johannesburg gevestig tot sy dood op 14 Julie 2016.

Hy beklemtoon dat al die vertellings op die werklikheid gegrond is, maar dat hy sterk fiksie daarvan gemaak het met byvoorbeeld name, plekke en karakters. Hy vertel met humor, baie spitsvondighede en woordspelings, én mensekennis. Hy kleur die tekste in met baie oorspronklike besonderhede wat jou eers neem na die misdaadtoneel en die ondersoeke, dan na in die hofsaal waar die verhoor plaasvind en sluit af met wat ná die uitspraak gebeur het. Daar is ’n spreker wat driftig en energiek vertel.

Ek noem enkele tekste. In “September se Kersfees” ontmoet ons vir Piet September waar hy hom op die dag voor Kersfees êrens aan die Kaapse Kus bevind voor ’n kroeg se oorvol manstoilet. Hy gaan maar uit straat toe. Dit word dan die storie oor hoekom en hoe hy op die feesaand in ’n polisiesel beland saam met ’n “serious gangster” en hoe hy moet veg teen luise. Dan volg sy verhoor en hoe hy nie R10 het om die boete te betaal nie. Iets wat die prokureur dan doen. Die slot: September se eintlike lewensomstandighede word duidelik. Die Kersverhaal kry ’n positiewer uiteinde.

“Bulpille” het met seksopkikkering te doen. Hier is dit Wynand wat reeds van sy kindertyd voorberei word om ’n dominee te wees. Hy behaal sy graad met lof. Later draai die vertelling rondom sy probleme met seks. Oormatige seks is vir hom onwelvoeglik en ’n gruwel. Maar in sy middeljarigheid beland die dominee in die hof weens sy wandaad in ’n apteek.

In “Saakbeskadiging” is dit ’n egpaar wat dit eers redelik goed tref met Antie Stienie wat darem vir hulle ’n Wendy-huis as tuiste gee en allerlei ander goed ook skenk. Dit is een van die langer verhale in die bundel. Hulle jarelange sukkelbestaan, hulle stryd met geweld en drankmisbruik word baie oortuigend uitgebeeld. Floris kan dit nie vat dat ’n mede-outie sy kans op werk afvat nie en hy klap die outie. Toe die outie val, breek die outie ’n kar se aerial. Nou beland Floris in die hof. Wanneer die prokureur hom moet help, sê Floris die aanklag is “aanranding en onsedelike sakebeskadiging”. Lekker nuwe regstaal.

Die leser kry te doen met ’n verskeidenheid temas. Naas die verhale oor armlastiges waaruit daar tog humor gehaal kan word, is daar ook boeiende stories oor rugby. Tydens een wedstryd tree die skeidsregter geweldig vreemd op en later sak ’n skare toeskouers op hom toe op die veld en iemand vermoor hom. Rugby is ook deel van die storie oor twee boere wat mekaar op verskeie maniere oor jare heen beveg. Yster van Vuuren en Ian Macdonald; Boer teen Brit; Brit teen Boer. Hulle vrouens en hulle rugbyspelende seuns raak betrokke. Al gehoor van graadeentjies wat mekaar nie tackle nie? Hulle rip mekaar. ’n Stuk materiaal op die broek word afgetrek: riiipppp.

Nog temas: “Skoolgeld” is een oor kinderprostitusie. In “Vasbyt” gaan dit om die opstel van ’n testament vir ’n dame in die ouetehuis. Die versorgingsoord het die naam van een in Sanlamhof, Bellville: Huis Magnolia. Dit is hinderlik dat so ’n bestaande oord vereenselwig word met ’n deurmekaarspul met kunstande . Die gegewe van die kunstande in verkeerde monde klink boonop bekend. Dit herinner aan Jan Spies se “’n Emmer tande vir ’n hospitaal holbekke”.

Hier en daar laat Van Rensburg hom uit oor die huidige politieke bedeling. Op bl 73 is ’n verwysing na ’n baie bekende bank wat ’n mens laat frons, ook oor die ietwat rassistiese trant daarvan.

Ek het my bedenkinge oor die titel van die boek: Dollars Eventualis. Dit dui op die regsterm Dolus Eventualis en in die teks op bladsy 72 word die term verduidelik, ook veral met verwysing na Oscar Pistorius se hofsaak. Sou ’n baie meer bekende uitdrukking wat in ’n hof gebruik word nie duideliker tot ’n koper gespreek het nie?

Hoofletters word baie keer verkeerd gebruik. Hier en daar is die spasies tussen woorde te groot of oneweredig. Die nodige punktuasie ontbreek soms. En lesers wat nie hou van ’n oormaat Engelse woorde in ’n Afrikaans teks of van “onbeskofte” uitdrukkings nie, sal genoeg rede hê om te kla. Die boek se netjiese voorkoms lok ’n mens egter tog te lekker aan na al die amusanthede.

The post Boekresensie: Dollars Eventualis deur Nico van Rensburg appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>