Laasweek vind ek uit dat Amerika toe regtig die land van geleenthede is; enige een kan president word, selfs al weet jy meer van die glanslewe as politiek. Om nie eens te praat van ‘n migrant van ‘n obskure hoekie van die aarde wat 'n groot sprong van die voorblaaie van Vanity Fair en GQ tot die heilige gange van die Wit Huis gemaak het. Maar selfs vir iemand van die Cape Flats (lees: die uwe), wat nie die verskil tussen Republicans en ‘n skoolkonsert ken nie, behoort dit nie ‘n openbaring te wees nie. Ek meen, nie eens ons eie pressie het matriek gehaal nie.
Eintlik het ek laasweek nogal baie uitgevind oor die agter-die-skerms-dinamika van politiek, danksy ‘n 300-bladsy-skindertydskrif (geredigeer deur Thuli Madonsela) wat handel oor die bromanse tussen die Eskom-baas en 'n Indiër-sakeman, omkopery, en ‘n sjebien in ‘n eksklusiewe woonbuurt. Steeds gee ek nie voor dat ek alles van politiek af weet nie. Maar na ek in ‘n neutedop oor die State of Capture Report gelees het, lyk die teorie dat Rusland ‘n invloed gehad het op Donald Trump se oorwinning, glad nie so absurd nie.
Die bietjie kennis wat ek het van die Amerikaanse politieke situasie het ek gekry uit opskrifte, status updates en memes op sosiale media. Met ander woorde, ek het net geweet dat die voormalige eienaar van Miss USA en ‘n voormalige presidentsvrou die afgelope jaar kompeteer om die volgende bewoner van ‘n neoklassieke herehuis in Washington DC te wees. En dat miljoene Amerikaners tans besig is om deur die vyf fases van rou te gaan.
Trump, 'n omstrede besigheidsmagnaat wat eens op 'n tyd Hollywood-sterre in die pad gesteek het op Celebrity Apprentice, het in laasjaar 'n weddenskap met sy vriende aangegaan dat hy die volgende presidentsverkiesing met meer as 270 stemme kan wen. Of so blyk dit. Hillary Clinton, daarenteen, was al besig met haar verkiesingsveldtog vandat sy op kleuterskool was. Die wedloop om tot die top-posisie in Amerika se regering verkies te word, was besaai met skandale, omstredenhede en verleenthede soortgelyk aan al die kere wanneer Jacob Zuma in die publiek verskyn het.
Vroeg in sy veldtog het die media alreeds konsensus bereik dat Trump nie 'n kans staan nie. Elke keer wanneer ek aanlyn gegaan het, het ek 'n hoofopskrif van die wêreld se voorste nuusorganisasies gesien wat insinueer dat Trump se veldtog van die begin af 'n groot grap was. En ons almal het dit vir soetkoek opgeët. Ten spyte van die feit dat Trump belowe het om die Amerikaanse Droom tot sy volle glorie te herstel, het die media hom tot egotistiese politieke terroris verklaar. As deel van die minderheidsgroep is ook van my verwag om Trump te haat omdat hy glo Muslims, gays en onwettige Meksikane gaan dwing om van Trump Tower af te spring as hy tot president verkies sou word. Sou ek net een goeie woord oor Trump skryf op Facebook, het 'n hele paar van my aanlyn vriende my summier geblok.
Trump se oorwinning was die teenoorgestelde van wat almal verwag het. Volgens die hoofstroommedia en die Nigeriese profeet TB Joshua sou die konfettikanonne op 8 November op Clinton en haar Ralph Lauren-pakkie oopbars. Selfs Clinton was oortuig dat sy die een sou wees wat daardie trefreël uit Independence Day – "We will be united by our common interests" – sou aanhaal as aliens eendag sou dreig om die aarde aan te val.
Maar daar neem Donald Trump die eerste tree as nuwe president op die verhoog met die vier perderidders van die apokalips (Jared Kushner, Donald Junior, Eric, en Ivanka Trump) agterna. En elders – in New York se Javits Center om presies te wees – ontdek Clinton-ondersteuners toe dat die spreekwoordelike glasplafon van Amerikaanse politiek eintlik van splintervaste materiaal gemaak is. Vir die wêreld het dit gevoel asof Oordeelsdag uiteindelik hier is. Vir Suid-Afrikaners was dit 'n déjà-vu oomblik, een wat ou 2009-wonde kom oopgekrap het.
Wat die meeste Amerikaners, en alle Suid-Afrikaners wat nou oortuig is dat hul drome om eendag au pair-werk in die VSA te gaan doen daarmee heen is, nie besef nie, is dat Trump nie naastenby so rassisties is soos wat die media ons laat glo het nie. Sure, hy kan somtyds 'n arrogante son-of-a-bitch wees, maar niemand sal stop om te dink dat Trump al dekades voor Obama se adminsirasie vir gelykheid geveg het nie. In 1997 het Trump die gemeenskap van Palm Beach gedagvaar vir hulle rassistiese beginsels teenoor Jode en swartes wat verband gehou het met eiendom wat hy in die gebied gekoop het. En in 'n 2000-onderhoud het Trump genoem dat hy sy land se Handves van Menseregte sal wysig om 'n verbod te plaas op diskriminasie teen seksuele oriëntasie.
Die Amerikaanse politieke situasie het eintlik niks met my uit te waai nie, maar as 'n persoon van kleur wat enige vorm van diskriminasie ten sterkste afkeur, voel ek dat Trump nog altyd 'n beter kandidaat was as Clinton. Barack Obama het klaar bewys dat tokenism nie die antwoord op Amerika se rassespanninge is nie. Onthou hoedat die wêreld positief gereageer het op Obama se aanstelling as president en graad 5’s inspirerende opstelle moes skryf oor wat Amerika se eerste swart president vir menseregte sal beteken? Turns out Obama se langtermyndoel was om soveel moontlik mense te kry om vir bekostigbare gesondheidsorg te registreer, terwyl honderde swart mans elke jaar in die land vermoor word.
Ek stem saam met die Nigeriese romanskrywer Chimamanda Ngozi Adichie dat die enigste manier waarop ons Trump se vermoeëns as president kan beoordeel, is om te kyk na sy veldtog, wat ek glo meer meriete had as dié van Clinton.
Minderwaardigheidsgroepe het nie vir Trump gestem omdat hulle dreigoproepe van die Ku Klux Klan ontvang het nie, maar omdat Trump hulle oortuig het dat hy veel meer vir swartes, gays, vroue, ens kan doen as Clinton en Obama. Punt.
The post Die media het ons almal by die anti-Trump beweging ingesleep appeared first on LitNet.