Koukonap
Johann Botha
NB-uitgewers
ISBN: 9780795801273
Ek sit met ’n eksemplaar van Johann Botha se Koukonap voor my. In 1996 het Johann gedebuteer met Die Groot Vyf. Vir twee dekades het hy baie ander dinge gedoen, maar nou het Koukonap, sy tweede boek, verskyn.
My eerste vraag was: wat of waar is Koukonap?
Eers dink ek dat dit dalk iets te doen kan hê met Koekenaap, daar in Namakwaland se diamantduikgebied, maar op die titelblad staan daar onder die skrywer se naam en die titel: ’n Vaalrivier-storie.
Aha! Dié rivier is mos die grens van die ou Transvaal. Dus is die geheimsinnige Koukonap dan mos iewers naby die ou provinsie. Maar die Vaal is lank en ek vind uit Koukonap lê in die Noord-Kaap. Tog het Google dit nie vir my meegedeel nie. As jy “Koukonap” (of “Johann Botha”) google, kom jy by die boek uit. Dis dit. Amper geheimsinnig; ’n gevoel van misterie. Met die visuele uitbeelding op die voorblad van ’n wilde oewer, ’n breë rivier en ’n kano met roeier bevat dit iets van James Dickey se Deliverance.
Verder lees ek raak dat die storie afspeel waar die Vaal- en Oranjeriviere saamvloei. Nou ja, die dorp wat jy daar kry, is Douglas. Rondom Douglas kry jy in werklikheid plekke soos Breipaal en Grootvoor. Dié plekke kom wel in die boek voor, maar waar is Douglas?
Om die bekoring verder te voer, Johann Botha is in Douglas gebore en het daar grootgeword. In watter mate is Dries, die oudste seun van Lood en Lenie Fourie en hoofkarakter van Koukonap, inderwaarheid Johann self? Hoe ook al, die skrywer het ongetwyfeld die eerste goue reël van goeie skryfwerk gevolg: skryf oor die dinge wat jy die beste ken.
Die storie gaan oor die Noord-Kaapse dorpie Koukonap, al sy mense en die Fourie-gesin wat daar arriveer in die laat 1940’s. Die Fouries wou nie daar wees nie. Hulle is Vrystaters van Ficksburg, maar Lood word aangestel as Koukonap se nuwe posmeester. Soos Doepie die kondukteur tydens die laaste skof soontoe met die trein reken: “Julle sal gewoond raak aan Koukonap. Dis mos een van daardie plekke waarvan hulle sê dat dit jou twee keer laat huil. Die eerste keer as jy daar aankom. Die tweede keer as jy daar moet weggaan.”
Daar is Êrnie Malmok en Japie Tarentaal en hulle kroos Krismis en Foroklok. Die Davels as bure, die Kupido’s van Die Erwe, oupa Sarel wat in die Boereoorlog was, neef Boet wat doedelsakke namaak in die Commercial-hotel se kroeg.
Daar is ook nog Jason Malmok, Êrnie se seun en Dries se portuur. Hulle val maklik langs mekaar in, twee klein laities wat universeel in dieselfde dinge belangstel. Tog kom hulle mettertyd agter iets veroorsaak dat alles nie vir albei kante dieselfde is nie. In ’n stadium reken Dries Jason kan nou maar vir hom baas begin noem:
Dit was die einde van ’n belowende vriendskap.
Heelwat later het die twee weer begin gesels. Dit was toe Loekie, Dries se middelste broer, nie-amptelik teen Jason langafstand gehardloop het. Dries reken dat hulle in Kimberley by die Griekwa-proewe teen mekaar moes kon gehardloop het, as hulle maar net kon: “Hoe verstaan jy dit. Ons noem dit die Griekwa-proewe, maar Griekwas mag nie deelneem nie.”
Die skryfstyl van die boek is deel van die sukses. Daar is 65 hoofstukke, elk met ’n unieke naam, wat dit soort van 65 losstaande kort kortverhale of essays maak, maar die goue draad wat regdeur die hele spul vloei, is die Vaalrivier self. Die saamvloeiende kort stories vorm kronologies ’n vertelling van Afrikaners in Suid-Afrika van net na die Wêreldoorlog, dwarsdeur DF Malan se aankondiging van apartheid tot by Verwoerd se Republiekwording. ’n Tyd in die geskiedenis van hierdie land wat baie ingehou het. Regdeur die boek kry ’n mens te doen met ’n geskiedenis wat ons almal ken. Kwessies, vraagstukke, probleme en wroeginge wat ons almal se lewens geraak het. Nóú nog raak ... Maar Johann verweef sy karakters uitstekend binne-in die geskiedkundige gebeure in. Die feite is leersaam, maar die fiksie verveel glad nie. Inteendeel.
Die karakters is onse mense; elke Afrikaner wat êrens in hier die land grootgeword het, kan identifiseer met die vrae, misverstande en grootwordkwessies van die drie klein Fourie-seuns:
Dis duidelik dat God nie met hom laat sukkel nie. Terwyl hy met Moses praat, is daar donderslae en blitse. Daar is die geluid van basuin. Dit rook soos die berg aan die brand slaan. Die mense raak so bang dat hulle bewe en op ’n afstand bly staan. [...]
Theunie [die jongste seun] neem hulle nie kwalik nie. Hy sou self maar taamlik versigtig gewees het. Hy wonder hoe die geluid van basuin klink. Dalk so uitgerekte geblêr, amper soos toe Bella Bok die Kerol ingekry het, net baie harder.
(Uiteraard is die lesers teen dié tyd vertroud met die episode van Bella Bok en die Kerol. Dit was een van die vroeëre essays.)
Die Vaalrivier is alomteenwoordig. Dit beeld die seuns se avontuurlustigheid uit. Die drang om te ontdek en grense te verskuif. Dit verteenwoordig die uitdaging van grootword. Dit is self ’n pragtige metafoor vir Dries se eerste seksuele ervaring. Hy en Belinda gaan af rivier toe ná hul matriekafskeid en hulle praat oor die lewe. ’n Gedagte dat hulle in ’n kano kan klim en stroomaf begin roei word genoem. Om te kyk waarheen die rivier hulle vat:
Om so saam in die maanlig oor kalm water te vaar, is ’n innige vreugde. Naderhand besef hulle met skrik hoe die stroom hulle meevoer. Dit vloei ál vinniger. Omdraai is nie meer moontlik nie. Dit raak ’n versnelling tussen gevaarlike rotse deur. Die vloed sleur hulle na daardie fyn draai in die rivier waar roeiers gewillig oor die afgrond stort en hulle ekstaties aan die maalkolk oorgee.
Dries se matriekafskeid is ’n baie slim manier om die boek mee te begin afsluit. Soos die karakters vir oulaas die dinge van hul kindertyd onthou, so som Johann die storie op. Knoop hy al die los drade. Die matrieks neem afskeid van hul skooldae en van mekaar en die leser neem afskeid van die boek.
Koukonap ... die boek wat ’n onvergeetlike episode van Suid-Afrika se geskiedenis deur middel van unieke karakters in bekende geskiedkundige situasies uitbeeld. Met humor, patos, vreugde, verdriet en waardigheid.
Koukonap ... ’n plek soos baie ander in ons land, maar ’n plek absoluut van sy eie. Die vraag is, is daar regtig so plek? In Johann se eie woorde in sy “Nagedagtenis”: “As daar nie ’n dorp soos Koukonap was nie, behoort daar een te gewees het ...”
Koukonap ... ’n boek na aan my hart wat ek nie gou sal vergeet nie.
The post Boekresensie: Koukonap – ’n Vaalrivier-storie deur Johann Botha appeared first on LitNet.