Regie: Oliver Schmitz
Draaiboek: Brian Cox, gegrond op die roman deur Chris Marnewick
Spelers: Steve Coogan, Garion Dowds, Andrea Riseborough, Eduan van Jaarsveldt, Robert Hobbs, Deon Lotz, Marcel van Heerden, Nicola Hanekom
’n Trefferboek van die 1980’s was The road less traveled deur psigiater M Scott Peck. Die eerste sin sê: Life is difficult. Vyftien jaar later verskyn Further along the road less traveled, met die openingsin: Life is complex. Dis met die verskil tussen “difficult” en “complex” in gedagte dat ek na Shepherds and Butchers gekyk het.
Die verhaal speel af in 1987. Leon Labuschagne (Garion Dowds), ’n tronkbewaarder van skaars twintig wat al twee jaar galgdiens doen by C Max in Pretoria, het ’n minibustaxi vol sokkerspelers van die pad gedwing en sewe van hulle summier doodgeskiet. Die advokaat vir die verdediging is Johan Webber (Steve Coogan), wat die saak teen sy sin moes aanvaar. Volgens die staatsaanklaer, Kathleen Marais (Andrea Riseborough), is die feite van die saak ondubbelsinnig: Labuschagne is ’n wrede en koelbloedige moordenaar wat vanselfsprekend die doodstraf moet kry.
Webber is egter ’n hewige teenstander van die doodstraf, ook as “gepaste vonnis” vir Labuschagne. Maar sy kliënt weier botweg om oor die gebeure te praat of enige samewerking te gee, en dit raak vir Webber ’n kruisvaart om uit te vind wáárom die misdade gepleeg is, en of enige versagting moontlik is.
Hierdie fliek is eintlik verpligte kykstof. Dit belig ’n gruwelike stuk geskiedenis in detail, en dit sal enige kyker se begrip van kompleksiteit oneindig verruim.
Sterre: 5
The post Filmresensie: Shepherds and Butchers appeared first on LitNet.